Unieke klank

Laurinda is in 2016 deur Nico McLachlan, hoof van die Kaapstadse Musiekakademie, ge­nader om Franse gedigte uit Afrika vir die Afri­que Mon Désir-projek te toonset.

Dis hoe haar album die lig gesien het.

“Die projek was vir my ’n groot uitdaging,” vertel Laurinda (51).

“Maar die waagstuk het my baie laat wen. Ek het wonderskone gedigte ont­dek en wonderlike mense leer ken,” sê sy.

Laurin­da, Nico, vier Kongolese musikante en die baskitaarspeler Schalk Joubert het saam Franse gedigte uit Wes-Afrika getoonset.

Laurinda saam met haar orkeslede. Van links is Schalk Joubert, Malako Wekuna Soba, Dea Kinzungu-Walo, Kayembe Illunga, Yamamoto Bonkuta Loyeke en Dylan Roman.

“Vir die album is een van die wêreld se bekend­ste trekklavierspelers, Régis Gizavo, oorspronklik van Madagaskar, van Parys af ingevlieg om van sy laaste opnames saam met ons te maak. Hy is (in Julie 2017) drie weke ná die opname oorlede.”

Afrika My Verlange / Afrique Mon Désir

“Nico het veral aanklank gevind by my toonset­tings van Afrikaanse gedigte wat ’n verlange na Suid-Afrika as tema het, meestal geskryf deur dig­ters in die buiteland,” vertel sy.

“In Suid-Afrika is ons heeltemal afgesny van lande in Afrika wat ’n Fran­se koloniale verlede het.

“Om gedigte uit Frans-Afri­ka te toonset (wat deur prof. Catherine du Toit van die Universiteit Stellenbosch uit­gesoek is) was ’n wonderlike geleentheid om ’n kykie in hierdie digters en lande te kry.”

Die David Kramer-effek

Afrique Mon Désir is omskep in ’n multimedia­produksie wat op die Woordfees op Stellenbosch te sien was.

Dit gaan ook by die Klein Karoo Nasio­nale Kunstefees ’n draai maak. Da­vid Kramer is die regisseur van dié produksie.

“Dit was lekker om te sien hoe hy dinge aanpak. Hy het byvoorbeeld begin met kostuums – iets waar­aan ek gewoonlik eers op die nippertjie aandag gee. Met die produksie in die hande van David en die musiek­regis­seur, Schalk Joubert, kon ek ontspan.”

Nog oor Laurinda
  • Sy en haar man, Jantjie Taljaard, woon sedert 1995 in die Paarl.
  • Hulle het ’n 13-jarige dogter, Joa­nie, en twee brakke, Steffie en Her­man.
  • Sy het ’n B.Mus.-graad van die Universiteit van Pretoria en gee in haar vrye tyd klavierlesse.
Op ons speellys

NO EXCUSES: MEGHAN TRAINOR

Die treffermaker keer terug met nog ’n aan­steek­­like liedjie.

No ­Excuses, van haar derde album, boer reeds op trefferlyste oor die wêreld heen. Die snit oor vrouebemagtiging vat seksisme vas, verklap Meghan.

“Ons het meer respek in die wêreld nodig; meer respek vir mekaar op elke ouderdom.”

DIE SLUISE VAN DIE HEMEL: BOK VAN BLERK & ROBBIE WESSELS

 Met die Wes-Kaap in die greep van ’n droogte, het die twee musikante besluit om vir reën te sing in dié liedjie wat deur Robbie geskryf is.

“Dit is nie ’n liedjie waaroor ek lank moes dink nie; dit was asof dit van bo af vir my gestuur is,” sê hy.

“Ek dink dit het gespruit uit my liefde vir die Kaap.”


Hoe nou?

Elton Johon het verklap hy en Beyoncé gaan saam ’n liedjie vir die klankbaan van die nuwe Lion King-fliek opneem. Die Britse sanger en sy mede-Brit Tim Rice het die klankbaan help skryf vir die oorspronklike The Lion King-fliek van 1994. Beyoncé doen die stemwerk vir Nala in die nuwe weergawe, wat volgende jaar uitgereik word. Foto: Gallo Images/Getty Images.
‘Mense dink ek is ’n diva. Ek sit hier en doen ’n onderhoud in onderklere. Hoekom moet ek iets ongemakliks dra? Dis waarvan ek hou’ – Mariah Carey oor haar beeld as diva in ’n ­onderhoud met V Magazine. Foto: Gallo Images/Getty Images