DINK TWEE KEER

JUDITH KEA

Judith Kea

Dis ’n mengsel van sokkie, ballades en country in Afrikaans en Engels. Die dansliedjie Paradie-doem-dam word tans gereeld oor radiostasies gespeel, maar dis Black Coffee en How’s the Weather wat uitstaan. Daar is selfs ’n elektroniese poplied, Sarel (Remix). – Jaco Hough-Coetzee 


EK IS RYK

ADAM TAS & STELLA

Adam Tas en Stella

Dit is ’n kontemporêre duet wat die boodskap bring dat God sal sorg. Dié enkelsnit, wat deur Stella geskryf is, is ook op Adam se komende album ingesluit. Sy rasperstem en Stella se gevoelvolle vertolking vul mekaar aan. Sy is lid van Duis:Lig. – Jaco Hough-Coetzee 

ASTROWORLD

TRAVIS SCOTT

Die album, Astroworld.

Maak reg vir ’n wilde rit met die Amerikaanse rapper se derde soloalbum. Gasverskynings sluit onder andere Drake en Stevie Wonder in. Dit bevat elemente van trap en psigedeliese musiek en bereik ’n hoogtepunt met Coffee Bean in tradisionele hiphop-styl. – Maxine Peters 

QUEEN

NICKI MINAJ

Nicki Minaj

Dié album met 19 snitte is die Amerikaanse rapper se eerste ateljeealbum ná The Pinkprint (2014). Die treffers Barbie Tingz en Chun-Li is ingesluit. Dis ’n welkome terugkeer vir die 35-jarige ster wat as Amerika se beste vroulike rapper beskou word. – Dennis Cavernelis

ONGEKENDE WÊRELD

MILE MINNIE

Die album, ongekende wêreld.

Emile het in 2008 die derde plek in Huisgenoot se liedjieskryfkompetisie behaal. Sy nuwe album is alternatief, met ligte-rock-ondertone en goeie lirieke. Dis salig vir die langpad wanneer jy na musiek met diepte wil luister. – Jaco Hough-Coetzee 

WAT AS

Taye Brink

Die eerste Afrikaanse enkelsnit van die 19-jarige sangeres het ’n country-pop-aanslag. Dit volg op haar Engelse debuutalbum. Die liedjie is deur Adam se Hugo Ludik geskryf en kan nog ’n danstreffer word. Sy word ook op die klankbaan van die fliek Gebore Talente gehoor. – Jaco Hough-Coetzee 


KOM KUIER SAAM

GNT

GNT

Die titel en liedjies soos Dis ’n Manneding en Die Bra Song verklap dis ’n partytjiealbum waar die klem op vermaak val. Dit is hoofsaaklik oorspronklike musiek deur Rouxhan Cloete, maar ’n Theuns Jordaan- keurspel en die Amerikaanse rockers Journey se Don’t Stop Believin’ is ook ingesluit. – Jaco Hough-Coetzee 

NIKS BETER NIE

ELME CHURR

Elme Churr

Gereelde Barnyard-besoekers sal haar dalk onthou van produksies soos Dancing Queen en 60’s Show. Sy tree al die afgelope sewe jaar in Barnyard-vertonings landwyd op. Dié enkelsnit, geskryf deur Joe Foster, bring die boodskap dat ware liefde grense oorskry. Dis ’n poplied met ’n sterk ritmiese koor. – Jaco Hough-Coetzee