Palms van My Hande

Die 15 snitte op Manie se nuwe album, Palms van My Hande, is deur hom en verskeie ander kunstenaars geskryf. “Ons het by dieselfde resep gehou en plaaslike liriekskrywers soos ek, Rudi Claase, Ray Dylan en Dennis East gebruik,” vertel dié 37-jarige sanger met die kenmerkende regop swart hare, kraaghemde en leerstewels.

“Ek het ook ’n snit opgeneem wat Fredi Nest my ’n maand voor sy dood (in 2015 weens kanker) gegee het,” vertel hy. Dié liedjie heet Moenie Dink Ek Dink Nie Meer aan Jou Nie. “Die nuwe album vaar baie goed en ons is baie opgewonde.”

Lirieke wat die hartsnare roer

Veral een snit op die album lê hom na aan die hart, vertel dié Steenbok, ’n boorling van Pretoria. “Dis die een wat ek ná my broer se dood vir hom geskryf het, Die Mense in My Lewe.” Sy ouer broer, Jaco (45), is in 2016 weens komplikasies van ’n vergrote hart oorlede.

Die sanger het ook in Januarie verlede jaar sy pa, Robbie (68), aan die dood afgestaan.

Diereliefhebber

Manie is ’n diereliefhebber van formaat en die trotse eienaar van vier honde, twee katte, vier ringnekke en ’n haas. “O ja, ek het ook ’n krimpvarkie,” vertel hy oor die “dieretuin” by sy drieslaapkamer-grasdakhuis op Sasolburg in die Noord-Vrystaat. Dit het ’n ruim erf en grasperk vir al sy troeteldiere.

Sy liefdeslewe

Manie is verloof aan die countrysangeres Angel de Lange (26). Oorlede Fredi het hulle aan mekaar voorgestel. Daar was selfs al gerugte dat die tweetjies reeds getroud is, maar Angel het dié skinderpraatjies sommer vinnig op Facebook in die kiem gespoor.

“Ons is nie haastig nie. Ons albei toer en werk lekker saam. En niks jaag ons nie,” het sy laat hoor.

Hy en Angel de Lange het nie trouplanne nie, maar dit gaan punt in die wind.

Die nederige predikant

As hy nie ’n sanger geword het nie, sou hy waarskynlik wou geboer of ’n dominee wou gewees het, sê Manie.

“Ek kan niks anders doen (as sing) nie, maar het nog altyd daarvan gedroom om ’n predikant te wees.”

Hy beskryf hom as nederig en ongeduldig maar baie vriendelik. Ons stem!

Vinnige vrae

  • Koffie of tee? Koffie. 
  • Bier of brandewyn? Nie een nie; ek verkies Coke. 
  • Braai of boerekos? Boerekos. 
  • Oggend- of aandmens? Aand. 
  • Tekkies of stewels? Tekkies, maar ek verkies kaalvoet loop.

Resensies

AFRIKAANS IS GROOT VOL. 10

VERSKEIE KUNSTENAARS

Afrikaans is Groot Vol. 10

Op dié versamelalbum kan luisteraars uitsien na 36 snitte deur hul guns- telingkunstenaars. Daar is ook ses splinternuwe liedjies van onder andere Tarryn Lamb, Bobby van Jaarsveld en Jay.

Dis ’n lekker gebalanseerde mengelmoes van danssnitte en dieper liedere, soos Blou deur Laurika Rauch en Loki Rothman. – JACQUES MYBURGH

THE THRILL OF IT ALL

SAM SMITH

Aanhangers het drie jaar op dié album gewag, maar dit was die wag werd. Dit steun op die resep wat sy eerste album, In the Lonely Hour (2014), so suksesvol gemaak het: persoonlike liedjies oor sy gebroke hart.

Die eerste snit, Too Good at Goodbyes, het ’n wonderlike koor. Jy sal waarskynlik ook hou van die gospelagtige Him. – MPHO TSHIKHUDO