Tweede Kans 

André Schwartz 

André wys met dié splinternuwe enkelsnit waarom hy een van Suid-Afrika se veelsydigste kunstenaars is.

Dié popsnit met sy volwasse- kontemporêre gevoel en los ritme beweeg weg van sy klassieke aanslag.

Die lirieke, deur Joe Foster, wys as jy iemand ’n tweede kans gee, kan dit vir jou en hulle ’n goeie ervaring wees. - Jaco Hough-Coetzee

 


Ek het geweet 

Martin Bester 

Dié Jacaranda FM-omroeper, TV-aanbieder en akteur se enkelsnit is een van daardie liedjies wat ’n mens se voete laat jeuk om te dans, met ’n wysie wat sommer onmiddellik in jou kop kom vassteek en jou uitnooi om lekker saam te sing.

Dié popliedjie met sy vinnige ritme is nommerpas vir kuierplekke. -Jaco Hough-Coetzee


Mekaar bedoel 

Hanna Boss en Burgend Botha 

Soos die naam aandui, is dié duet ’n liefdesliedjie wat die gevoel beskryf van halsoorkopliefde wat vir ewig hou.

Dié snit saam met haar vriend die Romanz-sanger Burgerd Botha is Hanna se tweede enkelsnit van haar debuutalbum, Verf Jouself, en is deur Seugné Botha geskryf. – Jaco Hough-Coetzee



Maskers 

Verona 

Dié popsnit met sy meesleurende wysie handel oor die maskers wat ’n mens dra om jou ware self weg te steek.

Ons steek ook seerkry en swaarkry so weg, sê Verona.

“In hierdie liedjie spoor ek mense aan om van daardie maskers ontslae te raak waaraan jy so swaar dra.”

’n Lekkerluisterliedjie vir ’n rustige kuieraand. – Jaco Hough-Coetzee



Let me 

Zayn 

Die oudlid van One Direction het dié liedjie geskryf terwyl hy en die model Gigi Hadid nog ’n verliefde paartjie was.

Geen wonder dié liefdeslied is allermins hartseer nie. Die lirieke spreek van ’n man wat als vir sy geliefde sal doen.

Maak seker jy kry dit in die hande, veral as jy mal was oor Zayn se treffer Pillowtalk. – Colin Hendricks



The fear inside 

Janie Bay 

Dis ’n folkliedjie met ’n boodskap van hoop vir mense wat sukkel met depressie, angstigheid en trauma.

Hierdie enkelsnit van haar album van 2017 is ’n groot gehoortreffer.

Wees ook op die uitkyk vir die musiekvideo, wat in ’n misterieuse woud in die pragtige omgewing van Kaapsehoop in Mpumalanga verfilm is. – Jaco Hough-Coetzee



Soetroos 

Ray Basson 

Soetroos is dié gospelsanger van die Kaap se tweede enkelsnit.

Dit handel daaroor dat die Here groter is as enigeen van ’n mens se probleme.

Met dié liedjie stel Ray nie net sy unieke stem ten toon nie; hy maak dit ook duidelik hy is hier om te bly.

’n Emosiebelaaide snit wat jou op ’n persoonlike reis sal neem en na alle waarskynlikheid sal ontroer. – Tarryn Josephs 


In my blood 

Shawn Mendes 

Dié Kanadees is moontlik een van die mees onderskatte sangers uit Noord-Amerika.

Daar is ’n rockgevoel aan sy musiek en hy het ’n stem wat goed sal werk vir countrymusiek, maar hy bied dit en nog meer in die popliedjies wat hy verkies en so goed sing.

Dié snit is vir die romantiese siele wat aanhou glo in die liefde. Die klank en ritme sal jou meevoer. – Colin Hendricks