carla mackenzie
Carla Mackenzie. Foto: Instagram/@carlamackenzie7

“Ek geniet dit vreeslik baie om die konneksie tussen my gaskunstenaar en hul aanhangers te sien. ’n Mens weet musiek het ’n groot impak op mense, maar om dit voor jou te sien, is so spesiaal!” vertel Carla. 

Die derde seisoen is voor Kersfees in Pretoria verfilm. “Dis altyd pret op die stel. Daar is soveel verskillende persoonlikhede, en hoewel dit lang ure is, vergeet jy heeltemal daarvan wanneer die produksiespan ‘aksie’ skree.

VOORBEREIDING 

“Ek was nog altyd ’n feitemens so om staaltjies en feite van musikante te weet om die deelnemers met leidrade te help kom natuurlik. Ek sal voor die tyd deur my vrae lees sodat die deelnemers my vrae verstaan en die res is so natuurlik soos wat jy dit sien op televisie,” vertel Carla.

carla mackenzie en willem botha
Carla Mackenzie en die sanger Willem Botha op die stel van Musiekpaniek. Foto: VIA

Sy probeer ook om so vroeg as moontlik in die bed te klim wanneer hulle verfilm sodat sy skerp kan wees. 

Haar emmerskoplysie het die afgelope jaar verander, laat Carla hoor. “Ek dink nie twee keer om iets te doen wat my gelukkig maak nie, want die lewe is te kort besef mens nou meer.” 

carla mackenzie
Carla is ook 'n omroeper by Jacaranda FM. Foto: Instagram/@carlamackenzie7

Volgens Carla is sy sielsgelukkig in die natuur, op haar radioprogram op Jacaranda FM en op Musiekpaniek. “Daar is ’n paar persoonlike projekte wat in 2021 die lig gaan sien,” sê sy.  


5 Vrae aan Carla

1. Met watter soort musiek het jy grootgeword?

Jazz en Afrikaanse musiek. My ouers het gereeld na Hugh Masekela en Jimmy Dludlu geluister, en dit het my gunstelinge geword. Deesdae luister ek na Hugh Masekela, Janis Joplin en Karen Zoid in my kar.

2. Wat is tans jou gunstelingliedjie? 

Dis moeilik om te sê, maar ek geniet Karlien van Jaarsveld se “Wegloop” vreeslik baie.

3. As jy self aan Musiekpaniek moes deelneem, hoe goed sou jy vaar?

Ek dink redelik goed, maar as ’n mens paniekbevange is, kan enigiets gebeur!

4. Jy deel nogal gereeld foto’s van jou in die buitelug. Geniet jy dit om in die natuur te wees?

Ek is mal daaroor om tyd in die natuur deur te bring! Dis lekker om ’n maat te kan hê wat soveel van die natuur hou soos ek. Ons gaan gereeld op van Johannesburg se mooiste staproetes, en ek laai my fiets in die kar en gaan ry drie keer per week by Emmerentiadam in Johannesburg.

5. Wie is Carla tuis?

Ek is baie rustig by die huis en maak seker daar is altyd ’n goeie energie. Ek versamel kunswerke en rooiwyn en maak seker daar is altyd blomme in my huis. Ek probeer meer as een keer ’n video-oproep met my ma, Mercia, en suster, Jancka, in die Boland inwerk.


Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.