ONTHOU JY OM JONK’

JUAN BOUCHER

Juan is bekend vir treffers soos Bring die Water. Die titelsnit van sy jongste album is ’n hoë-tempo-liedjie met elektriese kitare. Dis ietwat generies, maar sal beslis die partytjie se petrolpedaal intrap en verseker die glase bly vol wanneer die man met sy skor stem oor die luidsprekers blêr.

LOOK AWAY

JOE FOSTER

Joe wil sy eerste Engelse album vanjaar uitreik; nou kry aanhangers ’n voorsmakie. Look Away is dié sanger se eerste Engelse liedjie. Die snit is ’n heerlike treffer met ritmiese, elektroniese klanke. Of dit nou Engels of Afrikaans is, Joe se stem is goed gepoets. Ons voorspel dié snit gaan nog baie radiospeeltyd geniet.

KOM EN LÊ MY NEER

APPEL

Wanneer die kuier doodloop en dit is net jy en jou beste vriend om die braaivleisvuur, kan jy dié liedjie speel as jy so ’n bietjie diepsinnig wil word. Appel, oftewel Christoph Kotzé, se vollengtealbum Lei My na die Water is verlede jaar uitgereik. ’n Akoestiese reis wat die hartsnare sal roer.

MPHE DI HOENOR

ROBBIE WESSELS

Die immergewilde enkelsnit op die grapjassanger Robbie Wessels se jongste album, Woestyn, sal sommer vinnig aanhangers se lagspiere oortyd laat werk. Ook sal dit enige braai in ’n heerlik gesellige partytjie omskep. Dit is immers Robbie. Hiermee wys hy net weer hoekom hy ’n gewilde skrywer, sanger en storieverteller is.

GREATEST

TOYA DELAZY

Dié sangeres wys met haar derde vollengtealbum, Uncommodified, hoekom sy al met ’n Sama bekroon is. Haar enkelsnit Greatest het ’n futuristiese basklank wat ’n goed gestruktureerde elektroniese popsnit skep. Greatest sluit perfek aan by haar vorige werke soos Heart en My City. Dié snit sal jou laat tuis voel.

MONEY HUNGRY

LOST & FOUND

Die snit is die eerste van dié plaaslike alternatiewe rockers se nuwe album, Snakes & Ladders. Jason Oosthuizen, die gewese tromspeler van Van Coke Kartel, sorg vir polsende perkussies, terwyl Glen Hodgson van The Parlotones-faam swiepende kitaarklanke optower. Die harder rockklanke is beslis die luister werd.

REËNBOOG OOR SUID-AFRIKA

JAK DE PRIESTER

Dié enkelsnit deur Jak is ’n heerlike en inspirerende treffer. Hy het sy kragte saamgesnoer met die gewilde partytjiemusiekmaker Dr Victor. Die liedjie sal die kieskeurige luisteraar meesleur en nuwe hoop gee vir die toekoms. ’n Musiekvideo vir dié liedjie word binnekort uitgereik.

LEWE

2NDLIFE

Lewe is die jongste Afrikaanse liedjie deur dié musikale duo. Die rasperstem van Boon, die hoofsanger van dié spirituele musiekgroep, is die volmaakte pasmaat vir die emosiebelaaide lirieke. “Ons wou musiek bied wat oor die dieper dinge in die lewe gaan, soos die hemel, onsekerheid, vrees, lewensvrae, die toekoms, geloof en hoop,” sê hulle.