Vertel ons meer oor die album

Ek het aan die einde van 2016 aan dié album begin skryf. Hoewel dit steeds polsende voetstamp-liedjies bevat wat kenmerkend van Piet Pompies is, is hierdie een in die geheel ernstiger as my vorige albums.

Die liedjie Goodbye Is Net vir Nou is byvoorbeeld spesiaal geskryf vir almal wat al iemand aan die dood afgestaan het. Ek het dit geskryf om self antwoorde te kry nadat ek gewonder het hoe ek ’n geliefde se dood sal verwerk.

Ek het My Kind of Girl, Cinema se 1994-treffer, ook ingesluit omdat dit steeds baie gewild by my optredes is.

Die titelsnit, My Harlekyn, is ’n maand gelede as ’n enkelsnit uitgereik en het gou op die trefferparades van gemeenskapsradiostasies geboer. Dit was ook vier weke lank nommer een op Radio Laeveld. Met dié album beweeg ek ál meer weg van DJ Ossewa se partytjiemusiek. Almal word mos maar die een of ander tyd groot, nè?

Ek trek ook nie meer my hemp op die verhoog uit nie, want ek het nie meer ’n six pack nie . . . Deesdae is ek net mooi . . . nie meer jonk nie. Om mooi te wees gaan nie net oor jou uiterlike nie, maar meer oor hoe jou binneste lyk.

Hoe het jou musiekpad verloop?

Ek het in ’n musikale huis in Pretoria grootgeword. Gedurende ons gereelde kuiers by my Rischmüller-grootouers in Pretoria-Noord is altyd ná Sondagmiddagetes musiek gemaak en gesing.

My pa, Pieter, was die orrelis by die NG kerk Pierneefrand.

Ek is as klankingenieur opgelei en het in die laat 1990’s by die Staatsteater en Radio Pretoria gewerk en onder meer vervolgverhale en orkeste opgeneem. Ek was ook ’n radioaanbieder en rugbykommentator.

In 2004 was ek een van die stigterslede en voorsanger van die musiekgroep DJ Ossewa. Ek het dié groep in 2014 verlaat om my vlerke te sprei en my musikale vermoëns uit te brei.

My eerste soloalbum, Solo, is in dieselfde jaar uitgereik.

Pieter in ’n neutedop
  • Hy is baie lief vir braaivleis, en daar is altyd aartappels op sy bord. Hy is ook versot op garnale en kreef.
  • Dis vir hom lekkerder om buite op die stoep as in die huis te sit. SHy het ná 20 jaar sy sigarette weggegooi, maar trek nog so af en toe aan ’n pyp.
  • Pieter hou van avontuur en het al die Zambezirivier in ’n rubberboot aangedurf toe dit in vloed was. Hy is ook ’n kranige afslaer en gholfspeler.
  • Hy en sy vrou, Lanie, se dogtertjie, Emily Lea, is einde Julie gebore. Dié paartjie is in 2016 getroud en Emily is hul eerste kind saam.

Resensies

PRAY FOR THE WICKED

PANIC! AT THE DISCO

Dié Amerikaanse rockers is terug met hul sesde album. Aanhangers weet dié groep verander hul klank heelwat van album tot album, en dié een wissel tussen punk- en poprock. Die snit King of the Clouds trek die meeste aandag, terwyl die openingsnit, Silver Lining, nog nie lekker op die oor val nie.

SOUS

SNOTKOP

Dié technosanger se nuutste album sal sy aanhangers tevrede stel. Die musiekvideo van die eerste enkelsnit, Souserig, het immers binne twee weke meer as 160 000 trefslae op YouTube gekry. Tipies Snotkop is die liedjies vol tempo, met effens stout lirieke.

DAYMOON

MICHELLE MARX

Die debuutenkelsnit, met ’n kontemporêre en ligte jazz-aanslag, steek dadelik in jou kop vas. Maar Michelle se debuut kan moontlik net tot ’n fynproewersgehoor beperk wees.

– Jaco Hough-Coetzee