Wat kan luisteraars verwag?

“Dis modern, in pas met die hedendaagse klanke en steeds die lekkerluistermusiek waarvoor ek bekend geraak het,” vertel Jennifer.

Die 14 liedjies wissel van pop- tot kontemporêre musiekgenres.

Sy het vyf daarvan self geskryf, en Rudi Claase was onder meer vir die titelsnit verantwoordelik. Die liedjie Goud Is My Woorde weerspieël haar loopbaan, verduidelik die sangeres, wat al 18 jaar lank in die musiekbedryf is.

“Soos die woorde in die liedjie dit stel, ek loop dié pad al jare lank. Dis ook ’n dankiesêlied vir almal wat deur die jare bly luister het.”

Haar weergawe van die Neil Diamond-snit I Am . . . I Said is ook op die album. “Ek is een van die min plaaslike sangeresse met ’n sterk, lae register en het dié klassieke treffer sowat ’n jaar gelede by my vertonings begin sing. Dit was so gewild onder die gehoor dat ek dit net móés insluit.”

Hoogtepunte

Jennifer het verlede jaar twee Ghoemas gewen: een vir beste countryalbum vir haar album Ongelooflik en die ander as die publiek se gunstelingsangeres.

“Dit is ongetwyfeld die hoogtepunt in my loopbaan,” sê sy.

“Om ’n Ghoema te wen is ’n groot eer, veral in die afdeling waar die wenner deur die publiek gekies word.”

Gesondheid

Jennifer het twee jaar gelede onder pynlike chroniese maagkrampe deurgeloop; dit het haar ’n paar keer in die hospitaal laat beland.

In dié tyd was sy tot drie keer per maand by ’n dokter en moes sy gedurig antibiotika gebruik tot aan die begin van die jaar, ná ’n reeks bloedtoetse, vasgestel is sy is allergies vir gluten, soja, neute, rou eier en olywe.

Sedertdien moes sy haar eetgewoontes verander om dié bestanddele, wat in vele produkte voorkom, uit te sny.

“Dit was ’n groot aanpassing, veral op toer,” vertel sy.

“Ek vat nou my eie kos saam om die organiseerders van my vertonings moeite te spaar en nie soos ’n diva voor te kom nie.

“Eetplekke en geleenthede bly ’n uitdaging. Maar ná agt maande van ’n glutenvrye dieet is my liggaam nou weer gesond en voel ek beter as ooit.”

Emosionele gebeurtenis

Ná haar pa, René, se dood in 2016 het Jennifer die liedjie Tot die See Opdroog geskryf. Dit is die eerste enkelsnit van haar nuwe album wat uitgereik is.

Sy het verlede jaar op sy verjaardag ’n palmboom in haar tuin in Pretoria geplant ter ere van haar pa, wat haar held was.

“Dit was een van die emosioneelste dinge wat ek al ooit moes doen,” vertel sy. 

Resensies

VIR DIE LIEFDE

MARTIN BESTER

Hierdie voetjeuklekker enkelsnit van die radio- en TV-aanbieder is ’n polsende popliedjie in die kenmerkende Bester-styl.

Dit dra die boodskap dat jy moet wees wie jy is en nie wie ander wil hê jy moet wees nie, want daar is ’n plek vir elkeen van ons.

Soos Martin dit stel: “Leef voluit en laat jouself toe om te voel, al is dit seer.”

– Jaco Hough-Coetzee

WONDER

CHRISTALL KAY

TV-kykers sien haar in die werklikheidsreeks The Real Housewives of Johannesburg op 1Magic (DStv-kanaal 103), waar hulle haar sangloopbaan kan volg.

Christall het onlangs ’n akoestiese weergawe van dié liedjie in die reeks gesing, maar die ander deelnemers was nie juis daarmee beïndruk nie.

Die finale weergawe van die enkelsnit klink veel beter. Dié weergawe is in Amerika vervaardig, waar haar eerste enkelsnit, Set Apart, ook uitgereik is.

– Jaco Hough-Coetzee