WAKKERSLAAP

DAVID KRAMER

Suid-Afrika se vellieskoning keer terug met ’n nuwe album, Wakkerslaap. Die titelsnit wys weer hoekom David ’n bobaasstorieverteller is. Hy vertel die verhaal van die duimryers Abraham en Isak.

Die liedjie het ’n geur van Johnny Cash met ’n kinkel van die Amerikaanse rockers The Doors se klanke.

LAAT DIE DANSVLOER BRAND

KURT DARREN

Die koning van Afrikaanse pop sal menige heup sommer vinnig laat swaai met sy nuutste enkelsnit.

Die liedjie is een van sy kenmerkende sokkietreffers. Die ritme sal enige partytjie vinnig aan die kook kry, maar staal jouself vir ’n gevoel van déjà vu, want jy het so iets al gehoor.

SUIKERBOSSIE SUNSET

GIAN GROEN

Suikerbossie Sunset is ’n meesleurende liedjie wat jou tot in die laatnag wang-teen-wang sal laat skoffel. Jy kan dit gerus ná ’n rowwe dag by die werk hard oopdraai terwyl jy jou eerste glasie wyn skink.

Die snit is op Gian se jongste album, #AlsIsNetLekker.

KAALVOETKIND

JUANITA DU PLESSIS, FRANJA DU PLESSIS EN RUAN JOSH

Die Du Plessis-trio se Kaalvoetkind het ’n heerlike countrykinkel, en Juanita en haar kinders Franja en Ruan wys met hierdie snit en die album Kaalvoetkinners watter veelsydige en talentvolle gesin dié musikale boorlinge van Namibië is.

Gryp vroulief op hierdie treffer en skoffel so ’n bietjie enige Nuwejaarsblues weg.

GROETLIED

HELENA HETTEMA

Helena Hettema se jongste snit is niks buitengewoons nie. Hoewel sy ’n merkwaardige en hipnotiese stem het, is Groetlied musikaal ’n vervelige en eentonige reis van voorspelbare melodieë en ’n vreemde kinderkoor wat die snit ouderwets laat klink.

Alte bekend as jy vertroud is met haar musiek.

BELOWE JOU, BELOWE MY

FOKOFPOLISIEKAR

Die Bellvilliete kan luisteraars steeds verras.

Dié album sal die spertye soos domino’s laat omval wanneer die voorbok, Francois van Coke, sing: “Dis amper verby, alles verby, dit is amper verby, probeer om positief te bly.” Dit skop soos Durbanse kerrie, maar sonder die sooibrand.

MOZAMBIQUE

LAURIE LEVINE

Op dié snit wyk die Johannesburgse sangeres af van haar akoestiese folk-en-countrywortels en neem die luisteraar op ’n onvoorspelbare reis van elektriese kitaar en kleurryke indie-pop.

Mozambique is die eerste enkelsnit van haar jongste album, Canyons. Dis ’n liedjie van verlange en heimwee, maar nie sonder hoop nie.

ARE YOU FREE

ANDRA

Dié talentvolle Namibiër keer terug met nog ’n wenner. Are You Free is die eerste snit op haar album A Sound or Something More.

Met bulderende tromme, grou elektriese kitare en ’n grinterige stem wat die luisteraar moontlik aan ’n meedoënlose woestynwind sal herinner, is hierdie snit en album ’n kopknik van die ruk-en-rol-gode werd.