Wie is die Swing City-drietal?

Nathan Ro (Lonehill Estate), Graeme Watkins (The Graeme Watkins Project) en Loyiso Bala (TKZee, The Bala Brothers) het in 2013 hul sang­stemme saamgevoeg en Swing City begin.

Vanjaar is dié driestuks se tweede album, Now Listen Properly, vir ’n Sama-prys benoem in die kategorie volwasse kontemporêre album. Ons het met Nathan gesels om meer oor die drietal en hul liefde vir swingmusiek uit te vind.

Vanwaar jul liefde vir swing?

My pa en Graeme se pa het albei in swingorkeste gespeel, so ons albei het met dié genre groot­geword. Loyiso is weer ’n baie veelsydige musikant; daarom is hy ook lief vir swing.

Die goue draad deur al Swing City se liedjies is die tong-in-die-kies-humor.

Is swingmusiek werklik nog relevant?

Ek dink die musieksoort is tydloos.

Dis nostalgies, en die ritme beur ’n mens op. Die genre het in die Depressiejare in die 1930’s in Amerika ontstaan.

In daardie donker tye het dit mense hoopvol gemaak om langs die radio te sit en na ligte, vrolike musiek te luister. Ons glo die wêreld het dit steeds nodig.

Waarmee is julle nog besig benewens om ­musiek te maak?

Loyiso is bedrywig met sy M.B.A.-studie, Graeme bou amper enigiets uit hout, en ek het ’n onderneming wat op grafiese ontwerp toegespits is.

Wat is jul planne vir die res van die jaar?

Ons het optredes oor die land heen, maar wil ook graag voelers uitsteek na die internasionale mark.

Resensies

Bloedgrond

Neil Somers 

Neil Somers

Die sanger met die fluweelstem se vierde enkelsnit deel die emosie van ons land se boere, wat in moeilike tye moet oorleef, maar dit bring ook ’n inspirerende bood­skap om nooit hoop te laat vaar nie.

Die lied is, nes sy 2015-snit Silwer Kombers, ’n hartsballade wat roer. Neil se talent verdien meer erkenning as wat hy kry. –Jaco Hough-Coetzee 

Net soos die sneeu

Hugo Nieuwoudt 

Hugo Nieuwoudt

Dié treffende enkel­snit, in die kontemporêrepopgenre, vertel die storie van ’n seun wie se pa nooit van die oorlog terugkeer nie. Jare later onthou die seun steeds sy pa se belofte dat hy wel sou terug­kom.

Hoewel dit nie ’n danstreffer is nie, is dit steeds ’n lekkerluisterliedjie in ’n moderne idioom. –Jaco Hough-Coetzee 

MOET-HOOR

Made for now

Janet Jackson en Daddy Yankee

Janet Jackson

Michael Jackson se jonger suster is terug met ’n nuwe enkelsnit saam met die Puerto Ricaanse reggaetonster Daddy Yankee.

Dié liedjie gaan daaroor om in die oomblik te leef en is Janet se eerste nuwe uit­reiking sedert haar 11de album, Unbreakable, van 2015. Die deuntjie kan met tye eentonig raak en die liedjie is nie so ’n oorwurm soos Yankee se onlangse treffer, Despacito, nie, maar dit sal beslis by Janet se aanhangers byval vind. 

Die musiekvideo is ’n fees vir die oog. Dansers in kleurryke Afrika-geïnspireerde klere hou partytjie net waar jy kyk. Natuurlik kap Janet dit ook uit met haar kenmerkende danspassies.

’n Moet-sien én -hoor!