KORTBROEK, LANGKOUSE

ROCCO DE VILLIERS

Rocco se 14de album bevat hoof­saaklik nuwe liedjies.

Die snitte wissel van opgewek (Wat om te Dra agter op ’n Bakkie) tot dramaties (Tango for 2 Saints). Heerlike agtergrondmusiek vir ’n intieme aandkuier. –Jaco hough-coetzee 

PRAYING MANTIS

WONDERBOOM

Die plaaslike rockers se nuwe enkelsnit en die donker musiekvideo sal beslis die oë laat rek.

Wonderboom is bekend vir hul eksperimentering met verskillende musiekgenres, maar dié een in ’n storievertelstyl met sagte rock-ondertone val goed op die oor en trek die aandag. –Jaco Hough-Coetzee 

MAMMA MIA! HERE WE GO AGAIN

VERSKEIE KUNSTENAARS

Die gelyknamige opvolgfliek se klankbaan boer op treffersparades en dis duidelik om te sien hoekom, veral met groot name wat daarop sing.

Die sangdiva Cher se weergawe van Fernando sal jou laat regop sit. – Colin Hendricks 

GOOD MAN

NE-YO

Die bekroonde Amerikaanse liedjieskrywer en sanger keer met sy sewende album na sy R&B-wortels terug.

Daar is iets vir almal, van ’n rustige liefdesverhaal (U Deserve) tot vinnige tempo’s in Push Back en On Ur Mind.

’n Goeie album wat aanhangers tevrede sal stel. –Maxine Peters 

AS VROU

MARI BOSMAN

Dié enkelsnit vier vroue. Die boodskap is om die lewe met albei hande aan te pak, gesing in ’n kontemporêre/folkmusiekstyl.

Die musiekvideo op haar Facebookblad het binne ’n dag meer as 35 000 kyke gekry, wat trefferstatus vir dié liedjie voorspel.

–Jaco Hough-Coetzee 

DAVID GRESHAM RADIO HITS

VERSKEIE KUNSTENAARS

’n Versamelalbum met ou treffers is altyd lekker vir die langpad. Dié album, saamgestel deur David Gre­sham, bevat 20 groot radiotreffers van toeka.

Dit sluit in The Living Years (Mike + The Mechanics) en Love Hurts (Nazareth). –Jaco Hough-Coetzee 


EK EN JY

HANCO

Dié liefdesliedjie is ’n indrukwekkende debuutenkelsnit van dié 19-jarige liedjieskrywer en sanger. Die dramatiese musiekverwerking is veral lekker om na te luister.

Hanco gaan dalk nie hiermee al ’n groot deurbraak maak nie, maar dié talentvolle knaap is beslis een om dop te hou. –Jaco Hough-Coetzee 

PITKOS (VOL. 4)

VERSKEIE KUNSTENAARS

Die 15 snitte is in die tradisionele boeremusiekstyl opgeneem. Dit wissel van bekendes soos Kosie My Rosie tot Henning de Lange se nuwe Switzerland Mazurka.

Dis albums soos dié wat die musiekstyl vars hou, die bekende komponiste vereer en aan die nuwelinge ’n geleentheid bied.

Balke toe met hom! –Jaco Hough-Coetzee