Zaan Sonnekus
Die liedjieskrywer en musikant Zaan Sonnekus se jongste enkelsnit, “Ek kan net bid”, is vir sy ma geskryf wat verlede jaar weens covid-19 oorlede is. Foto: Verskaf.

Hierdie 22-jarige langhaar-sanger van Pretoria het reeds die aandag op hom gevestig met sy 2020-enkelsnit, “Soos hel”.

Met sy nuutste uitreiking bevestig hy sy talent as skrywer en musikant, en sy musiekvideo is boonop reeds ’n treffer. Dit het binne vier weke meer as 20 000 kyke op YouTube gekry.

Die video is deur CoolerBox Brothers by Monte de Dios in Pretoria verfilm.

Die dramatiese rock-gedrewe melodie, en die liriek wat soos ’n gedig vastrapplek in jou binneste vind, het ook gou gesorg dat hierdie ’n radiotreffer word.

Vieruur die oggend as die bed steeds kraak; ná al die oorlog, sukkel hy om te slaap; hy val deur die krake . . . hy val tot hy wegraak, sing hy in sy rou-hees stem.

Die liedjie gaan oor gebed in desperate tye, verduidelik Zaan. “As ons almal net kan saam bid en saam leef, sal ons die wêreld kan verander.”

Zaan Sonnekus
Zaan Sonnekus. Foto: Verskaf.

Zaan het die snit vir sy ma geskryf wat verlede jaar weens covid-19 oorlede is, vertel hy.

“Dit het my amper gebreek. Om nie kop te verloor in donker tye nie, sterk te staan en eerlik te wees was die grootste uitdagings wat ek tot dusver moes oorkom. Ek sukkel soms steeds daarmee.”

Hy onthou hoe hy in sy jong dae snags wakker geword het met haar wat op sy bed sit en vir hom bid. “Dit is wat my tot dusver op die regte pad gehou het.”

Zaan Sonnekus
Zaan se enkelsnit “Ek kan net bid”. Foto: Verskaf.

Die liedjie is vir háár, sê Zaan. “Ek vereer die persoon wat hierdie lied geïnspireer het.”

Sy vollengte-debuutalbum word later vanjaar uitgereik.

Nog op ons speellys

Lucinda en John-Henry Opperman – Ons is Ons

Hierdie is die eerste enkelsnit-uitreiking van Lucinda se debuut solo-album, Uitgeskryf.

Dit gaan oor twee mense wat in ’n onstuimige tyd in hul lewens veilig by mekaar voel en ’n rustigheid in mekaar se aanwesigheid vind.

Lucinda
Foto: Verskaf.

’n Meesleurende en diep liefdesballade wat sag op die oor val.

Die twee sangers is jarelange vriende en het as deel van die groepe Die Melktert Kommissie en Klopjag gereeld mekaar se liedjies op die verhoog gesing.

Hulle het ook saam opgetree in Die Tertjag Toer.

Marc Devigne – Je serai pour toi

Hierdie Frans-Kanadese sanger se verwerking van die ikoniese Christa Steyn-treffer van 1982, “Ek wil vir jou”, kom as ’n aangrypende en nostalgiese verrassing.

Marc Devigne
Foto: Verskaf.

Net soos die oorspronklike opname sal hierdie Franse weergawe gou gewild onder Suid-Afrikaners raak.

Marc, ’n semifinalis van die afgelope The Voice Canada, was verantwoordelik vir die verwerking en het die styl ook aangepas om by sy stem te pas.

4 Eva Young Band – Sunny day

Die debuutenkelsnit van dié vier kinders van die Vaaldriehoek val in die pop/gospel-genre met rock-ondertone en ’n Christelike aanslag. We are all children of the King of Kings, sing hulle.

’n Liedjie wat dadelik beïndruk, veral as jy besef die lede is maar tussen nege en 11 jaar oud.

4 Eva Young Band
Foto: Verskaf.

Johan sr., die pa van een van die sangers, Johan van Rooyen, sê volgens sy kennis is hulle die jongste groep in die land, en moontlik ook in die wêreld. Hy het Guinness World Records reeds hieroor genader.

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe