Louis, wat ook ’n prokureur is, vertel Donderdag aan Huisgenoot hy is die laaste twee jaar geweldig geïnspireer deur Adam se positiewe houding teenoor die siektestryd wat so byna die sanger se lewe geëis het.

Hy het daarom dié liedjie, Glimlag Deur die Seer, as ’n spesiale vriendskapsbetuiging én verering aan Adam geskryf.

Adam, wat weens ’n nierkwaal ’n nieroorplanting moet kry, het die sogenaamde neuropatie-sindroom die laaste twee jaar ’n moedige stryd aangesê. Dié sindroom word gekenmerk aan die verlies van gevoel in ’n mens se ledemate. Dit het daartoe gelei dat die sanger verlede jaar maande lank aan ’n rolstoel gekluister was.

Boonop moes die sanger die skielike dood van sy ma, Christie, in Junie verlede jaar verwerk nadat sy in ’n motorbotsing oorlede is.

’n Donker wolk het jou drome kom versmoor

“Ek was in die hooggeregshof toe André Venter (ook ’n oud-Romanz-lid) my laat weet Adam se ma is dood,” vertel Louis.

“Dit was erg. Ek het onmiddellik besef as ek so verpletter gevoel het, sou ek nooit kon raai hoe dit hom moes raak nie. Die woorde het skielik by my opgeduik: ‘Ek kan nie glo wat ek sien; wat ek hoor . . . ’n Donker wolk het jou drome kom versmoor.’ Ek was ontsettend diep geraak deur sy seer.”

Dit was eers toe die radiostasie Louis nader om ’n liedjie aan Adam op te dra dat hy dié woorde onthou en besluit het om dit die refrein van die liedjie te maak.

“Die opdrag was ek moet die liedjie opneem sodat die omroeper dit tydens die regstreekse uitsending vir Adam kan speel,”  sê hy.

“Ek het onmiddellik gevoel iemand anders se woorde sou nie dieselfde impak hê nie. Ek het ’n nabye pad saam met Adam gestap en wou iets uit my hart vir hom skryf. Nou is dié liedjie vir altyd syne; en niemand kan dit van hom af wegneem nie.”

Louis sê hy is in die laaste paar dae oorweldig deur aanhangers se positiewe boodskappe oor dié liedjie.

'Hy is 'n vegter'

“Dit is so dat die boodskap spesiaal vir Adam is. Maar wat ek eers later besef het, is dat die boodskap eintlik betrekking het op soveel duisende ander lewens. Talle mense laat weet my hoe hulle met die snit vereenselwig; dis wonderlik. Dit maak my hart bly om te dink dit kan ook iemand anders se lewe raak.”

Die sanger sê hy het ’n nou band met Adam en bid, nes sy duisende aanhangers, dat hy binnekort heeltemal gesond sal wees.

“Hoe langer ons nie meer deel van die Romanz-groep is nie, hoe nader kom ons aan mekaar. Ek hoop dié snit beteken vir hom baie. Ek hoop ook mense kan daardeur sien hy is ’n vegter wat te midde van alles staande bly.”

Glimlag Deur die Seer is reeds op iTunes beskikbaar.