Juan Boucher se nuwe album is hier. Foto: Wian van
Juan Boucher se nuwe album is hier. Foto: Wian van der Walt

ROCKPLESIER

Rockkitare is op die voorgrond op dié sanger se agtste album, Gewigloos. Dit neem jou deur die 12 oorspronklike liedjies wat aangevul is deur die tromme wat die ritmiese praatwerk doen. Daar is boonop geen sprake van die geprogrammeerde klanke wat so algemeen is in die popmark nie.

Rockliefhebbers sal hou van Juan Boucher se agtste
Rockliefhebbers sal hou van Juan Boucher se agtste album, Gewigloos, wat 12 oorspronklike liedjies bevat.

“Ja, alles wat jy hoor, is lewend opgeneem met regte instrumente wat speel,” bevestig die sanger en liedjieskrywer Juan Boucher, wat deesdae in Pretoria woon. Dis ’n lekkergevoel-ervaring vir rockliefhebbers wat ’n broertjie dood het aan elektroniese musiek.

Die tempo word wel afgedraai in die ballade “Gif”, ’n duet saam met Liezel Pieters. Die titellied is een van Juan se gunstelinge op dié album, wat in Julie opgeneem is.

“Die boodskap is dit gaan goed met my; ek sweef deur die lewe; ek is gewigloos.”

TREFFERS

Die album het reeds die treffer “In die Bosveld” saam met Neil Somers opgelewer. Die musiekvideo het binne twee maande nadat dit uitgereik is reeds meer as 400 000 trefslae op YouTube gehad. Dit is ’n saamsingliedjie wat die twee sangers se liefde vir die Bosveld uitbeeld.

Die volgende besliste treffer is “Ek dink ek mis maar net jou hart”, wat in Oktober as ’n enkelsnit uitgereik is. Dit gaan oor die situasie as jy en jou langtermynliefdesmaat ietwat uitmekaardryf, beskryf Juan dié liedjie.

VERRASSENDE SLOT

Die album sluit met ’n verrassing af met die ligte kuierliedjie “A.g.v. brandewyn”, waarmee Juan sowat 14 jaar gelede vorendag gekom het.

“Ek en ’n paar pelle het by ’n plek gekuier toe iemand sê: ‘Speel vir ons ’n ietsie.’ Toe vat ek die kitaar en dink die woorde net daar uit. Ek het nooit gedink dit is goed genoeg nie; daarom het ek dit nog nooit opgeneem of in vertonings gesing nie,” verduidelik Juan.

“Eintlik is dit net die mense in Vereeniging, waar ek destyds gebly het, wat dit ken. Tot ek nou uitgedaag is om dit wel op die speellys te sit!”

Kitsfeite
  • Juan is ’n groot sokkerliefhebber. Die Engelse klub Arsenal is sy gunstelingsokkerspan.
  • Hy het naby Vereeniging grootgeword waar hulle met skape, beeste en hoenders geboer het. Vandag is hy ’n vennoot in ’n stoetery in die Noord-Kaap