Janie Bay. Foto: Mandy Stander
Janie Bay. Foto: Mandy Stander

AKOESTIESE PLESIER

Dié sangeres is al sowat 10 jaar in die musiekbedryf doenig. Sedert die begin van 2019 het Janie Bay drie Afrikaanse radiotreffers opgelewer met die enkelsnitte “Amper daar”, “Die heelal” (saam met Early B) en “Jammer”, wat op verskeie treffersparades geboer het.

Dié liedjies kan nou op haar tweede album, In die sitkamer, gehoor word. Daar is net een verskil: Al die snitte is nou met ’n vars akoestiese aanslag opgeneem waar Janie se stem en kitaar die hoofrolle vertolk. Dis aangevul met ander akoestiese instrumente soos die klavier as ondersteuning.

LUISTERFEES

Nog liedjies op die album sluit in “Wag vir jou”, haar treffer van 2017 saam met Hunter Kennedy, en “You Are My Sunshine”, wat ’n jaar later in die fliek Stroomop gehoor kon word. “Herfs” is die enigste nuwe liedjie onder die agt snitte op die album. Dit het ondertone van rhythm en blues wat aan die 1950’s herinner.

Die album is ’n luisterfees vir die musikale fynproewer wat tot sy reg kom saam met ’n volronde glasie wyn saans of luilekker koffie en beskuit soggens in die bed. Dit is ’n rustige album, gestroop van allerhande musiekfoefies.

IN DIE SITKAMER

Janie wou graag vroeër vanjaar ’n volproduksiealbum uitreik, maar die inperking het ’n stokkie daarvoor gesteek.

“Musikante kon nie bymekaarkom nie, en daar was ook nie toegang tot ateljees nie, maar ek moes iets doen vir my ondersteuners,” verduidelik sy. “Ek doen baie akoestiese vertonings waar mense my gereeld vra waar hulle die akoestiese weergawes van my radiotreffers kan kry. So is die idee van dié album gebore.”

Janie se album heet
Janie se album heet "In die sitkamer".

Janie se stem en kitaar is in die sitkamer van die Spoegwolf-lede se huis op Stellenbosch opgeneem, waarna Dee Graaff Productions die verwerkings gedoen het. Spoegwolf het dié vertrek in ’n tuisateljee omskep – vandaar dan ook die album se titel, In die sitkamer.

AGTER DIE SKERMS

Janie is die afgelope ses jaar in ’n verhouding met die kitaarspeler en klankingenieur Deon Dee, wat ook lank vir die sanger Jo Black gespeel het. Die paartjie woon op Somerset-Wes buite Kaapstad.

Janie skryf nou aan haar derde album, wat volgende jaar uitgereik word. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.