Jou enkelsnit Waves geniet al heelwat lugtyd. Hoe het die liedjie ontstaan?

“Ek het gaan branderry nadat ek met idees vir liedjies gesukkel het. Ek was moeg vir teen die horlosie werk.

“Toe ek terugkom, was ek so ontspanne, ek het net my kitaar opgetel en die liedjie het na my toe gekom.

“Jake Gosling, een van die album se vervaardigers, het toe by my gebly en hy het idees ingegooi. Ons het dit in een aand saam geskryf.”

Water is ’n tema van die album, Critical as Water, met snitte soos Underwater Blues. Vertel meer.

“Nadat ek Waves geskryf het, het ek besef die tema van water herhaal in die skeppingsproses.

“Ek het my voortdurend na water gewend om my te sentreer en te reinig om die musiek te skryf. Dit het uitgewerk en voel nie gedwonge nie.”

Hoe lank het dit jou geneem om die album te maak?

“Twee jaar. Ek het druk ervaar om die opvolg reg te doen.

“My debuutalbum (Trading Change, wat ’n MTV Africa-prys vir beste pop- en alternatiewe album gewen het en as iTunes SA se album van die jaar aangewys is) het deure oopgemaak.

“Die album is ongetwyfeld ’n sprong boontoe, sowel sonies as wat my liedjieskrywery betref.”

Hoe skryf jy liedjies?

“Ek skryf alleen en saam met ander mense. Ek het sterk melodiese idees.

“Melodie is so ’n brose, sensitiewe ding in musiek, dit moenie onderbreek word nie; daarom skryf ek gereeld alleen.

“Ek tel my kitaar op, speel ’n riff en neurie daaroor. En dan, ek veronderstel soos beeldhouers maak, beitel ons net weg aan die ding wat interessant klink tot dit ’n liedjie is.”

Wat is jou gunstelingliedjie op die album?

“Waarskynlik Underwater Blues. Dit is sonies fenomenaal en skitterend gekomponeer. En dit klink warm en welig.”

Was musiek altyd deel van jou lewe?

“My ouers het altyd musiek in ons huis gespeel en ek het dit geniet om te sing, maar ek was nie daardie kind in die spieël wat ’n Michael Jackson of iemand wou wees nie.

“Die obsessie het eers op universiteit ingeskop.”

Is jou oorsese aanhangers net so lojaal soos jou plaaslike aanhangers?

“Net so toegewy. Promotors het al vir my gesê: ‘Dis gek. Ons het superster X verlede week hier laat speel en die geraasvlak was nie naastenby waar dit vanaand was nie.’ ”

Wat sou jy gedoen het as die musiekgogga nie gebyt het nie?

“Wie weet? Skipper van seiljagte en plesierskepe? ’n Fotograaf? ’n Eiendomsontwikkelaar?

“Ek het ’n graad in finansies en eiendomsontwikkeling van die Universiteit van Kaapstad en het ’n kommersiële lisensie as skipper vir reuseseiljagte; dus het ek opsies.

“Ek doen dalk nog van die goed later in my lewe.”

Nog op ons speellys  

Chanell van den Bergh: TWEE TREE

Kykers sal haar onthou vir haar spel in die fliek As Jy Sing saam met Bobby van Jaarsveld en Leah. Twee Tree is haar eerste enkelsnit as sangeres. Haar stem is soel en die country-aanslag sal jou sommer gou aan die dans kry.

Deca en Len Muller: OORWIN

Die instrumentale groep Deca en die sanger en liedjieskrywer Len Muller het kragte saamgesnoer vir dié inspirerende liedjie. Dit vier ’n oorwinning oor depressie.

Lizandra Winter en Joshua na die Reën: EK WIL VIR JOU

Dié twee het ’n roerende verwerking van Christa Steyn se lied gedoen. Hulle sing vanuit ’n plek van verlange en ook hoe hulle na mekaar smag; ’n metafoor vir hoe dinge soms in verhoudings is. - Jacques Myburg