Wat om te verwag

Net soos met sy vorige twee albums kan aanhangers weer sy kenmerkende rou lirieke verwag, vertel die countryrocker. “Die verskil is al die liedjies op dié een is oorspronklik en kom uit my pen. Daar is ’n balans tussen langarmsokkieliedjies en ernstiger liedjies wat jou aan die dink sal sit. Dit is nodig om soms te lag en pret te hê en ook soms ernstig te wees.”

Die omslag

Die simboliek van die omslagfoto, waar Jan na homself in ’n spieël kyk, neem die album se balanstema verder. “Dit is nodig om soms na jouself te kyk en selfondersoek te doen,” verduidelik die sanger.

“Net so skryf ek oor dinge wat ek persoonlik sien en ervaar. Net soos die spieëlbeeld is elke liedjie op die album eintlik ’n stukkie van my.”

Die liedjie Afrika Se Tent het hy geskryf oor sy lewe as sanger wat gereeld op die langpad is waar hy van die een optrede na die volgende moet ry.

“Ek ry elke naweek ver vir optredes. Ek dink dit sal die treffer op die album wees.”

Gesinslewe

Die sanger en sy vrou, Nadia, is in 2016 getroud. Hul eersteling, Chris-John, is in Mei 2018 gebore. Die gesin bly op die familieplaas Klein-Juanana in die Niekerkshoopdistrik, waar Jan met beeste boer.

“Nadia werk as onderwyseres op die dorp, dan is ek en Boeta alleen op die plaas. Wanneer ek veld toe gaan, ry hy saam. En wanneer ek krippe skoonmaak, hou hy alles om hom nuuskierig dop. Hy is nie eens bang wanneer die beeste kom groet nie; hy’s ’n regte klein boerseuntjie.” 

Jan Rhaap se nuwe album.

ENKELSNITTE

THANK U, NEXT – ARIANA GRANDE

musiek

2018 was Ariana Grande se jaar. Sy is nie net as Billboard se vrou van die jaar aangewys nie; elke liedjie wat sy die afgelope paar maande uitgereik het, was ’n treffer. Haar jongste snit is geen uitsondering nie.

Dis ’n ode aan al haar gebroke verhoudings. Die musiekvideo het YouTube-rekords laat spat nadat dit 46 miljoen trefslae in minder as 22 uur gekry het.

– LARA ATSON

WOMAN LIKE ME – LITTLE MIX & NICKI MINAJ

musiek

Die Britse supergroep is terug. Dié keer span hulle saam met die rapper Nicki Minaj vir dié hoofsnit van hul vyfde album, LM5.

Little Mix wou al lank met Nicki saamwerk en nou kry hulle eindelik hul kans.

In dié sexy popliedjie, wat deur Jess Glynne en Ed Sheeran geskryf is, sing die vierstuks oor alles van hul foute en onsekerhede tot die liefde. ’n Moet-hoor vir aanhangers.

– LARA ATSON