Die sanger, wie eintlik Francois Henning heet, se agtste album, Sous, is op 20 Julie op alle musiekplatforms uitgereik. 

Die eerste enkelsnit se musiekvideo, Souserig, het reeds die tonge laat klap toe dit gesensor is voor dit op die kassie uitgesaai kan word. 

"Ek dink almal ken my al so, en weet dat hulle lekker gaan lag vir die lirieke en die temas," skerts Snotkop. 

Dit is veral die lirieke wat Snotkop se liedjies so stuitig maak. "Om stout te wees is maklik, maar om slim-stout te wees is iets anders. Dis wat die verskil maak tussen stout of net gewoon simpel," verduidelik die sanger.

’n Hele paar van die 13 snitte op die album is lekker gewaagd, en dis veral Jeukerig en Dropit Soos ’n Disprin wat mense lag-lag sal laat saamdans. Daar is ook natuurlik effens ernstiger liedjies soos Voetstoots en Alles Gaan Okay Wees (saam met die kitaarmeester Loki Rothman) op die album.

Hoe dan anders? Dink mens terug aan die tranetrekker Song Vir My Dad en die ballade Dis ’n Land, dan is dit duidelik dat dié snotkop ook darem elke dan en wan ernstig kan raak.

Snotkop sê dat hy dit steeds baie geniet om Song Vir My Dad by sy vertonings te sing. "Wat die nuwe album betref, sien ek vreeslik daarna uit om Souserig en Kortbroek en Plakkies by my vertoning te voeg," sê hy.

Was jy al by ’n Snotkop-vertoning, dan weet jy dat mense amper altyd op die tafels opeindig soos hulle hulself geniet. "Mense wat na Snotkop luister, is mense wat die lewe ten volle geniet."

SOUS. NUWE CD. JULIE 2018. ??

A post shared by Snotkop (@snotkop) on

Almal is ’n bietjie guitig, meen Snotkop. "Dis menslik. Die lewe is kort, ’n mens moet dit geniet," vertel die sanger. "Daar is niks erger as vroom gesigte wat maak asof hulle nooit jonk en ’n bietjie stout was nie," voeg hy by.

"Solank jy niemand seermaak nie en verantwoordelik is, het ’n bietjie stuitigheid nog nooit seergemaak nie," sê Snotkop plegtig.