Rehab, smerige egskeidings, die uitdagings van die middeljare – niks kry hierdie eens wêreldberoemde popgroep oënskynlik onder nie; toer wil hulle toer, al is dit dan nou ook minus een van hul oorspronklike lede.

Victoria Beckham (44) het geen begeerte om saam met haar vorige besties, Ginger, Scary, Sporty en Baby, daardie liedjies af te stof wat in die 1990’s miljoene meisies op hol gehad het nie.

Victoria, Emma, Mel B, Geri en Mel C in 1997 by die MTV Music Awards gedurende die Spice Girls se glorietyd. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die ander vier vertrek aanstaande jaar op ’n toer deur Brittanje en daar’s selfs sprake van ’n grootste-treffers-album en ’n TV-program.

Dis 18 jaar sedert die popgroep uitmekaar gespat het met die belofte dat dit nie die laaste sien van die blikkantien is nie, maar sedertdien het hulle maar min saam die snaar geslaan.

Wat het in die jare sedert daardie groet van die Spice Girls geword?

Ginger Spice

Geri Halliwell (46)

In die bank: R574 miljoen


Geri Halliwell Foto: Gallo Images/Getty Images

Die lewe agterna 

Geri was in 1998 die eerste Spice Girl wat die groep verlaat het. Sy het twee albums uitgereik waarvan Look at Me, Bag It Up en haar weergawe van It’s Raining Men treffers geword het.

Sy het ook ’n reeks kinderboeke geskryf oor die avonture van die negejarige Ugenia, wat op haar eie lewe gegrond is.

Geri het ’n reeks joga- en oefenvideo’s gemaak asook ’n swemdragreeks vir Next Clothing.

Sy was ook ’n beoordelaar van Australia’s Got Talent en werk blykbaar al jare aan nog ’n album.

Sake van die hart 

Geri is in 2015 met die Formula 1-spanbaas Christian Horner (44) getroud, en hul seun, Montague, is verlede jaar gebore.

Geri het ook ’n dogter, Bluebell (11), by haar eks, die draaiboekskrywer Sacha Gervasi (52). Geri en Christian woon in Hertfordshire en op ’n plaas in Oxfordshire waar Geri haar hoëhakskoene verruil vir rubberstewels om haar hoenders, bokke en donkies te versorg.

Sporty Spice 

Melanie Chisholm (Mel C, 44)

In die bank: R473 miljoen


Melanie Chisholm Foto: Gallo Images/Getty Images

Die lewe agterna 

Mel het haar stem – wat beskou word as die sterkste van die Spices – tot haar groot voordeel ingespan.

Sy het haar sololoopbaan afgeskop met When You’re Gone, ’n trefferduet saam met Bryan Adams, en het daarna sewe albums uitgereik.

Sy het ook al as beoordelaar opgetree van The X Factor Australia, Superstar en Asia’s Got Talent.

Sake van die hart 

Ná verhoudings met Robbie Williams (44) en Red Hot Chili Peppers se Anthony Kiedis (56), het Mel 10 jaar lank liefde gevind by die eiendomsontwikkelaar Thomas Starr.

Hulle het ’n dogter, Scarlet (9). Deesdae gaan Mel uit met die fiksheidghoeroe Joe Marshall, wat ook haar bestuurder is.

Mel is steeds sportief: Sy is ’n ywerige driekampatleet en plaas dikwels foto’s van haar oefenprogram op Instagram.

Scary Spice 

Melanie Brown (Mel B, 46)

In die bank: R143 miljoen


Melanie Brown Foto: Gallo Images/Getty Images

Die lewe agterna 

Mel B se soloalbums was nie juis suksesvol nie, en die flieks waarin sy gespeel het ook nie.

Sy het eers weer sukses behaal met haar werklikheidsreeks, Mel B: It’s a Scary World, en is sedert 2013 ’n beoordelaar van America’s Got Talent.

Sake van die hart 

Haar liefdeslewe was stormagtig, om dit sagkens te stel. Sy was twee jaar met die Nederlandse danser Jimmy Gulzar getroud, en hulle het ’n dogter, Phoenix Chi (nou 19).

Die huwelik het met ’n aanrandingsklag teen Jimmy geëindig. In 2006 was sy met die akteur Eddie Murphy (57) deurmekaar en hieruit is ’n dogter, Angel Iris (nou 11), gebore.

Eddie wou niks weet nie tot ’n bloedtoets bewys het hy’s wel die pa.

In 2007 trou Mel met die rolprentvervaardiger Stephen Belafonte (43). Min of meer die enigste goeie ding wat hieruit gekom het, was haar derde kind, Madison (nou 4).

Tien jaar later maak sy ’n egskeidingsaak aanhangig en beskuldig hom van “emosionele en fisieke mishandeling”.

Daar was ook sprake van derde partye wat hulle in hul huweliksbed ingenooi het.

Vroeër vanjaar het Mel aangekondig sy gaan rehabilitasie ondergaan sodat sy vir posttraumatiese stres weens haar egskeiding behandeling kan ontvang.

Sy het erken sy gebruik alkohol om haar “pyn te verdoof”.

Baby Spice 

Emma Bunton (42)

In die bank: R574 miljoen


Emma Bunton Foto: Gallo Images/Getty Images

Die lewe agterna 

Emma het in 2001 ’n treffer gehad met What Took You So Long op haar soloalbum, A Girl like Me. Haar platemaatskappy, Virgin Records, het egter die kontrak beëindig omdat verkope te sleg was.

Sy het eindelik ’n vaste inkomste op TV verdien toe sy van 2003 tot 2012 in die trefferkomedie Absolutely Fabulous gespeel het en ook as beoordelaar van Dancing on Ice.

Sy het haar eie Sondagaandprogram op ’n Britse radiostasie en maak ook ’n paar ekstra ponde met haar ekovriendelike babaprodukte, Kit and Kin.

Sake van die hart 

Baby is ook deesdae ’n ma en het twee kinders, Beau (10) en Tate (7), by Jade Jones.

Emma en Jade (38), wat ’n lid van die groep Damage was, is al langer as 20 jaar saam en het in 2011 verloof geraak, hoewel hulle blykbaar geen trouplanne het nie.

“Ons al twee leef in die oomblik en beplan nie te ver vooruit nie,” het sy al gesê.

Posh speel nie meer saam nie 

Victoria Beckham. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die roem wat sy as ’n Spice Girl geniet het, het baie deure oopgemaak vir Victoria Beckham, maar noudat sy ’n beroemde modeontwerper is, stel sy nie in die minste belang daarin om haar lyf in ’n swart rokkie op ’n verhoog te gaan rondwikkel nie.

Maar al weier sy om saam te toer, gaan sy steeds miljoene ponde in die sak kry. Volgens berigte het die sakeslim ster ’n groot aandeel in die musiekregte en ander regte van die Spice Girls-handelsnaam.

Sy gaan dus die vrugte pluk van haar eks-besties se harde werk.

Hoewel Victoria (wat sowat R6,5 miljard in die bank het) voor die media maak asof alles tussen haar en die ander Spices fantasties is, gaan lê die gerugte maar net nie dat daar groot verwydering tussen haar en die ander is nie.

Enkele dae voor die reünietoer aangekondig is, het Mel B haar gevoelens duidelik gewys by die supermodel Heidi Klum se Halloweenpartytjie.

Mel B en ’n vriend het soos Victoria en David Beckham aangetrek vir Halloween. Mel het ’n plakkaat vasgehou wat sê: “Nee, ek gaan nie op toer nie.” Foto: Gallo Images/Getty Images

Sy het ’n stywe swart rok aangehad saam met ’n masker van Victoria se gesig en ’n plakkaat wat lui: “Nee, ek gaan nie op toer nie.”

Laat ’n mens dink aan een van hul treffers: Who Do You Think You Are? 

Bronne: Daily Mail, Hello!, The Sun, People, BBC,