FLOOZE VERTEL

Wat kan luisteraars verwag?

Die skitter-glitter-album het tunes met ’n beat wat in jou ore gaan repeat tot jou speakers uitfreak, en jy sal wil litte skud tot jou hare se extensions uitval en jy sal lag tot die goud in jou tande loskom.

Die album sluit in songs soos Die Tennis Tune en Hoezit My Tjomma wat opgepimp is soos ’n Ford Cortina in die onderdorp se strate. Ek het ook leer Chinees praat vir die tune Ninja: Move soos ’n Ninja . . . tjieng-tjong-tja.

Wat het van jou leerbaadjie geword?

Daai leerbaadjie sal altyd deel van die Flooze-goose wees. Dis waar alles begin het en ’n mens moet nooit jou roots vergeet nie. Die baadjie is wel ná 10 jaar al so gesweet dat nie eens Jik die klanke meer kon keer nie.

Dit was daarom tyd om dinge te blingefy met ’n nuwe look en feel wat so duidelik sparkle-sparkle dat selfs die son ’n sonbril moet dra. 

Haar nuwe blieng-voorkoms is so glinsterend, die son moet ’n sonbril opsit, beweer sy. Foto: Francois Olivier

Al jou vorige albums het jy met Sorina gedeel; op dié een is jy op jou eie. Is jy bang sy steel jou blieng?

Sy is so ’n ou preutse dingetjie, maar ek laaik haar kwaai. Sy het gesê ek kan maar bos gaan en my eie CD maak. My tjomme soek Flooze-tunes wat hulle happy hou met humor, en haar fans soek musiek wat hulle inspireer.

Wie is daardie kaalbolyfdansers saam met jou in die Bliengmasjien-video?

Die silwer spiertiere is spesiaal van Switserland ingevoer. Ek het hulle deur die pos bestel op ’n buy-one-get-one-free special. Die boepens-bodyguard en sy tjoepie-tjomma het ek langs die Vaaldam raakgeloop waar hulle kurpers vang om as salmon sashimi in Pretoria-Oos te smous.

Die video van die eerste enkelsnit (Die Tennis Tune) van die album het meer as 800 000 YouTube-kyke gekry. Hoe voel dit?

Superdankbaar teenoor elke tjomma wat die fun en humor en die lekker in die lewe raaksien. Ek het die tune geskryf sodat almal saam kan jive: van die kleinkinders met melktande tot oumagrootjie met haar valstande, van ’n Sandton-snob tot ’n Westonaria-wannabe.

SORINA ERASMUS VERTEL

Wat dink jy van Flooze se album?

Flooze se musiek is uit die boks en teen die alledaagse grein. In Die Bliengmasjien is sy getrou aan wie sy nog altyd was, naamlik “feel-good fun for all”.

Flooze vertel sy het haar spiertier (in die swembad) van Switserland ingevoer. Foto: Francois Olivier

Ruk sy nie ’n bietjie handuit nie?

Nee, inteendeel. Ek dink haar hele Bliengmasjien-boodskap kan tot elkeen spreek. Dit maak nie saak wie jy is nie, almal het die potensiaal om te skyn en die kans om te skitter. So onthou, élke Bliengmasjien daar buite: Skyn, al is jou liggie klein.

Het die Flooze dalk verklap hoe sy oor die goeie verkope van die album voel?

Ek herinner haar elke dag aan Koos Doep se wyse woorde: “Wat ek is, is net genade, en wat ek het, is net geleen.”

Wanneer kan ons weer ’n album van jou verwag, Sorina?

My vorige album was Hoofletters (2016). Op die regte tyd gebeur die regte ding, maar vir eers is dit Flooze se beurt om te skyn.