Susan (57) het daardie jaar tweede gekom in dié reeks, maar het sedertdien 25 miljoen albums wëreldwyd verkoop. Sy is deesdae £25 miljoen ryker en was selfs in 2015 hier op eie bodem die internasionale gaskunstenaar by Huisgenoot se SuperSkouspel-konsert by die FNB-stadion in Johannesburg.

Maar die laaste paar jaar het sy uit die kollig verdwyn en byna nooit opgetree nie. In 2016 is sy van die Heathrow-lughawe verwyder nadat sy in ’n argument met ’n personeellid betrokke was en verlede jaar het sy vertel hoe ’n groep van 15 tieners haar boelie in haar Engelse tuisdorp, Blackburn. “Hulle skree op my, spot my, sê walglike goed, vloek,” het sy vertel. “Ek is lief vir my huis; dis waar ek grootgeword het. Hoekom moet ek uittrek omdat ’n groep tieners so optree?”

Ná ’n ruk uit die kollig is Susan nou reg om weer haar volwaardige plek in te neem. Sy gaan te sien wees in ’n splinternuwe reeks, America's Got Talent: The Champions. Dié reeks gaan fokus op die suksesverhale van vorige Got Talent-deelnemers oor die wêreld heen, berig Daily Mail. 

Die musiekbaas Simon Cowell, supermodel Heidi Klum, komediant Howie Mandel en Spice Girl Mel B gaan deel vorm van dié reeks se beoordelaarspaneel. Hulle is ook tans beoordelaars op America's Got Talent.

Simon was in 2009 op die paneel van die Britse weergawe van die reeks toe Susan op die verhoog klim en vertel hoe sy nog nie getroud was nie en met haar kat in ’n munisipale huis bly, waar sy vandag steeds woon. Simon het onmiddellik sy oë vir haar voorkoms en storie gerol. Maar toe die musiek begin speel en die sanger lostrek met Les Misérables se I Dreamed a Dream het Simon se wenkbroue gelig en die res van die gehoor was in vervoering.

Dié oudisie is al meer as 28 miljoen keer op YouTube gekyk. Sy het ook intussen die munisipale huis waarin sy woon self gekoop. 

Simon het erken hy lelik was om die eerste keer so te reageer. 

Hopelik sing Susan dié keer weer haar pad in talle se harte in.

Bronne: Youtube, Mirror.co.uk, Metro.co.uk