HUL MUSIEKPAD

Die DJ Alex Pall (33) – ook die twee se vervaardiger – onthou hoe hy as tiener verlief geraak het op dié soort musiek toe hy ’n DJ op ’n vriend se 16de verjaardagpartytjie gesien het.

“Ek het hom oor alles uitgevra,” onthou hy.

“Ek het saam met hom uitgehang en kort voor lank het my ma my na my eie optredes geneem en my my plate help dra.”

Drew Taggart (29), die skrywer en soms ook sanger van die duo, het as jong outjie in Amerika met die meeste musiekgenres kennisgemaak, maar sy eerste ervaring van dansmusiek was toe hy ’n jaar in Argentinië deurgebring het.

Hy was toe 15 en kon wettig na klubs gaan waar hy vir die eerste keer die musiek van DJ’s soos David Guetta en Daft Punk gehoor het. Alex en Drew het mekaar in 2012 ontmoet toe ’n gemeenskaplike vriend hulle aan mekaar voorgestel het.

“Ons het ontmoet en letterlik van die volgende dag af elke dag in sy woonstel gewerk tot ons op dreef was,” vertel Drew.

SKADUKANT VAN ROEM

Dié duo het in 2014 die musiekwêreld laat regop sit met hul trefferliedjie #Selfie. Twee jaar later het hulle ’n Grammy losgeslaan vir Don’t Let Me Down (saam met Daya) en boaan die trefferlyste geboer met Closer, hul aansteeklike liedjie saam met Halsey.

Teen 2017 het hul debuutalbum, Memories . . . Do Not Open, ’n bekroonde treffer, Something Just Like This, opgelewer waarvoor hulle met Coldplay se voorsanger, Chris Martin (41), saamgespan het.

Maar Drew, wie se sangtalent gekritiseer is toe hy in 2016 saam met Halsey (nou 24) op die MTV- musiekvideotoekenningsgeleentheid opgetree het, erken ruiterlik dat roem ook sy skadukant het.

“Ons het al baie deurgemaak – om te verwerk dat jy bekend word en dat mense na jou lewe kyk op maniere waaroor niemand vroeër ’n duit omgegee het nie. Hoe dit jou verhoudings met die mense na aan jou raak, en dié met mense wat nie na aan jou is nie, maar graag wil wees.”

MUSIEK VIR MILLENNIËRS

Drew erken hy put inspirasie uit sy eie ervarings en dié van sy vriende vir daardie “klein, spesifieke oomblikke” in hul musiek, soos hy dit beskryf.

Hul 2016-treffer Closer spruit uit sy gevoel van spyt nadat hy weer met ’n eks deurmekaargeraak het.

“Ons skryf graag oor Millenniërverhoudings, goed of sleg. Maar ons skryf ook oor wat ons waarneem en dikwels oor slegte besluite wat ’n mens neem. En ook oor impulsief wees en in die oomblik leef.”

9 TOT 5 – BEHALWE CHRIS

Opnamesessies is vir hom soos werk, sê Alex.

“Rappers het al gesê: ‘Kom ons kry mekaar tienuur die aand.’ Dan sê ek: ‘Um, nee!’ Ek kan nie daardie manier van werk verstaan nie. Maar Chris wou begin werk nadat hy sy kinders in die bed gesit het – en dit was oukei, want dit is Chris Martin en Coldplay is die f***** beste.” 

OP ONS SPEELLYS

OU GEVOELENS

HUGO NIEUWOUDT & LIANIE MAY

Dié duet in ’n kontemporêre popstyl is ’n liefdesliedjie wat die storie vertel van twee ou skoolliefies wat mekaar jare later weer raakloop en dan ervaar hoe die ou gevoelens vir mekaar weer opvlam.

Hugo beskryf dit as ’n lekker saamsingliedjie wat ook lekker dansmusiek is.

JOU HART SAL HEEL RAAK

SAMANTHA LEONARD

musiek
musiek

Dis die tweede enkelsnit van dié sangeres wat in die tweede seisoen van The Voice SA derde geëindig het.

Dié inspirerende ballade bied troos aan mense wat ’n moeilike tyd deurmaak soos ná die dood van ’n geliefde.

VAL SONDER JOU

AMPIE

Ampie se jongste enkelsnit is in ’n mee- sleurende pop/country-styl en is bedoel vir die ore van mense wat ’n liefdesteleurstelling moet verwerk.

Soms breek liefde jou hart, sê Ampie oor dié liedjie.

– Jaco Hough-Coetzee

BRONNE: ROLLINGSTONE.COM, NME.COM, BILLBOARD.COM, INTERVIEWMAGAZINE.COM, INSTAGRAM/@THECHAINSMOKERS