Dié sanger het onlangs sy tweede album, S.O.S, uitgereik. 

Wat om te verwag

S.O.S bevat 'n hand vol nuwe liedjies en 'n klomp treffers wat van Fatman se debuutalbum, Boom Baby, so 'n groot sukses gemaak het. Dis veral die titelsnit, “S.O.S”, wat die luisteraars se voete sal laat jeuk.

Nuwe lewe word ook in ou gunstelinge soos “Vuurwarm” en “Ek en my meisie” geblaas. Mense wat die eerste album misgeloop het, sal heerlik na treffers soos “Dorp toe”, “Boom Baby” en “Hengel by die huis” kan luister.

“Dis nie 'n vol album nie,” sê Fatman. “Dit bevat 'n paar nuwe liedjies en dan die ou treffers, wat lekker is.”

Hy is veral opgewonde oor die snit “Esmarelda” – 'n liedjie uit die pen van die countrysanger Fredi Nest wat in 2015 weens kanker oorlede is.

“Dit gaan oor die Boggelrug van Notre Dame en ware liefde. Dit maak nie saak hoe jy aan die buitekant lyk nie; dit is die innerlike wat saak maak.”

Grootwordjare

Fatman het op die klein dorpie Marble Hall in Limpopo grootgeword. Sy pa, Frik, was 'n beroepsmusikant wat saam met sy dansorkes die land platgetoer het.

Hy het feitlik op die verhoog grootgeword, vertel die sanger.

“Toe ek 10 jaar oud was, het my pa eenkeer op Phalaborwa gespeel. Een van die dames het gevra of ek nie ook iets wil sing nie. Ek was mal oor Bles Bridges se treffer “Ruiter van die windjie” en het dit met die begeleiding van die orkes gesing.

Die vrou het my R2 gegee, en almal kon sien hoe gemaklik ek op die verhoog met ’n mikrofoon voor 500 mense kon sing. Ek was so tuis soos 'n vis in die water.”

Waar kom “Fatman” vandaan?

'n Hele paar jaar gelede het hy 'n vertoning op die Randse Paasskou in Johannesburg gehou.

'n Vriend van hom, die akteur Garth Collins, het uit verveeldheid 'n paar mense wat verbystap, uitgedaag: “As jy 'n prys wil wen, see if you can lift up the fat man.”

Mettertyd het sy ander vriende en spanlede hom ook Fatman begin noem, en sy destydse bestuuder, Danie Haasbroek, het hom aan­geraai om dit as 'n verhoognaam te gebruik. 

Hy het nog altyd gesing, maar het eers met sy deelname aan The Voice SA werklik sterstatus bereik. Hy het ook voorheen deeltyds musieklesse aangebied en is 'n gesoute musiekvervaardiger.

Die vervaardigers van The Voice SA wou sy naam in die middel van die seisoen na Johan Brümmer terug­verander. “Hulle was vol drama, maar toe sê my afrigter, Kahn Morbee, vir hulle daar is geen manier dat hulle dit verander nie,” sê Fatman.

“Ons het destyds al gedink dit kan bewustheid tot gevolg hê. Jy hoef nie terug te staan nie al is jy vet. En as iemand vet is, so what?” 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.