24/7

ESMOND

Dit is die sanger met die slaapkameroë se vierde album.

Die titelsnit en Speel die Musiek is moderne popliedjies wat die voete sal laat jeuk en die dansvloere sal laat lewe kry.

Sy weergawe van Bon Jovi se treffer Bed of Roses is minder suksesvol, maar Sound of Silence (Simon & Garfunkel) is ’n lekkerte op die oor.

LET ME GO

GEORIC LOMAS

’n Popballade geklee in ’n effense technostyl deur die sanger-akteur wat in 2013 in die musiekfliek As Jy Sing sy debuut gemaak het.

Die enkelsnit het ’n lewendige tempo en is bedoel vir die jongklomp wat van skemer nagklubs hou.

Dié wat effens negatief oor die liefde voel, sal aanklank vind by die lirieke.

OESJAAR

JANNIE DU TOIT

Jannie vier al amper 50 jaar as Afrikaanse sanger, maar hy het lank laas ’n oorspronklike album uitgereik. Daarom is dié een, in ’n storievertelstyl, uiters welkom.

Die titelsnit en die liedjie Jy Kyk Sag staan uit as treffermateriaal.

Die rockverwerking van sy groot 1981-treffer, ’n Liedjie vir Jou, is hoendervelmooi.

VLEKKE

SKY OCEAN

Dié passievolle liefdesliedjie is die jongste enkelsnit van Sky Ocean se album Spore van My Hart.

Dit vertel van al die vlekke wat gewese geliefdes op ’n mens se lewe laat. Dit is nie dansklubmateriaal nie, maar sielsmooi vir laataand-alleentye met ’n glas rooiwyn.

Die album is ’n absolute moet vir liefhebbers van intelligente lirieke.

STERKER

VERONA

Dié kontemporêre popliedjie is die Maskerssangeres se tweede enkelsnituitreiking vanjaar.

Dit wil inspireer en mense aanmoedig om op te staan en te skree: “Ek word sterker!” Elkeen van ons het soms daardie ekstra motivering nodig om aan te gaan, verduidelik die sangeres, wat die enkelsnit saam met Hugo Ludik geskryf het.

HART OP JOU MOU

SUNEL

Dié tweede enkelsnit volg op Sunel se debuuttreffer, Fickle Heart. Die gestroopte musikale verwerking en hartslirieke sal spreek tot alle romantiese siele wat in ewige en diep liefde glo. Dit is beslis ’n opname met meriete.

Ons sien daarna uit om haar debuutalbum, waaraan sy tans werk, te hoor.

ANDERKANT DIE HIGHWAY

GERT KOEVERT

Dit is een van daardie albums wat liefhebbers van rou rock en alternatiewe musiek moeilik sal neersit.

Hoogtepunte deur die sanger met die grinterige stem en lae register is snitte soos Only Jesus Knows, Nuwe Oë en die titelsnit. Die album is ’n rit wat ’n mens nie sommer vergeet nie.

STORIE BOEK

WILLEM VAN DER RYST

Die musikant is eintlik ’n bekende klankingenieur van Gauteng. Hy het oor die afgelope sowat agt jaar ook as sanger naam gemaak. Die album is ’n toonvenster vir die talent van die jong sanger met ’n stem wat soos ’n kombinasie van Adam Tas en Theuns Jordaan klink. Al die liedjies is oorspronklike materiaal, hoofsaaklik deur hom en Anton Botha geskryf.