DIE LIEFDE ALBUM

JAN BLOHM

Jan se nuutste album boer reeds op trefferparades. Die aanslag verskil nie veel van sy voriges nie; dus weet aanhangers wat om te verwag – blues, rock en digkuns.

Dit bevat boonop interessante verwerkings van ou treffers soos Gert Vlok Nel se Beautiful in Beaufort-Wes.

BLACKHOLES IN MY HEAD

SKY OCEAN

Dié enkelsnit van Sky Ocean se debuutalbum, Spore van My Hart, is ’n kontemporêre ballade met ’n rockgevoel en gaan oor ’n paartjie met ’n onstuimige verhouding.

Hou gerus haar loopbaan dop as jy van sielvolle rock hou.

SKIELIK IS JY VRY

WYNAND STRYDOM

Dié sanger van Langebaan se agtste soloalbum is ’n huldeblyk aan die legendariese Koos du Plessis.

Koos se liedjies is al verskeie kere heropgeneem, maar dié album staan veral uit danksy Wynand se diep countrystem. Daarmee laat hy reg geskied aan Koos se treffers.

GOUD IS MY WOORDE

JENNIFER ZAMUDIO

Dis Jennifer se 12de album. Die 14 snitte wissel tussen pop, kontemporêr en country. Die titelsnit staan beslis uit asook Tot die See Opdroog, wat Jennifer vir haar oorlede pa geskryf het.

Verwerkings van I Am I Said (Neil Diamond) en Ek Glo (Anneli van Rooyen) is aangename verrassings.

NOTHING THERE

CHANTAL STANFIELD

Dis dié sangeres en aktrise se tweede enkelsnit. Dis spesifiek op luisteraars gemik wat van die funk-popgenre hou. Die liedjie gaan oor ’n verhouding wat ’n plato bereik het.

Chantal is veral bekend vir haar internasionale kabaretvertoning, Ladies First.

20 JAAR IN DIE KRAAL

BEESKRAAL

Met dié album vier die rockers van Pretoria hul 20ste jaar in “die kraal”. Dis ’n versamelalbum met al hul treffers oor 20 jaar heen. Dit bevat ook ’n Anton Goosen-keurspel.

As jy ’n ouskoolse rocker is, maar nog nie dié groep se musiek raak geluister het nie, is dit nou ’n goeie tyd daarvoor.

AARDBEWING

XANDER JOUBERT

Dié nuweling se eerste enkelsnit is ’n opgewekte popliedjie en vertel die storie van ’n skamerige outjie wat nie weet hoe om ’n meisie na die matriekafskeid te vra nie.

Tipies van dié genre het die lirieke nie veel om die lyf nie. Maar moenie Xander se debuut ignoreer nie – ons kan nog vele danstreffers van hom verwag.

STAAN NET BY MY

MARCATO

Dié popliedjie van hul album Vrede waarmee hulle nou op toer is, het ’n effense rockaanslag. Daarin besing hulle die rustigheid van ’n plaasomgewing. Dis ’n lekkerluisterliedjie vir die langpad.

Oor hul album se titel sê die groep dis iets “wat ons vir almal wil hê, in hul verhoudings, in hul vriendekringe en oral in die land”.