Dis die liedjies wat ons dikwels oor die feestyd luister wanneer ons langpad ry of ná ’n lang jaar lekker saam met ons geliefdes kuier. Dit is ook daardie liedjies wat ons aan goeie, vrolike of spesiale tye saam met spesiale mense of jeugliefdes herinner.

Afrikaanse musiek het deur die jare al talle tydlose treffers opgelewer – immergewilde liedjies wat vandag steeds net so bekend is as toe dit die radiogolwe die eerste keer oorheers het.

Van dié liedjies is sommer binne ’n dag of twee geskryf, terwyl ander weer jare se skaafwerk geverg het.

So het die musikale geboorteproses van 10 van die ikoniesste liedjies in Afrikaans gebeur . . .

‘Skipskop’ – David Kramer

David Kramer. Foto: John Hogg
David Kramer. Foto: John Hogg

Twee gebeurtenisse in die vroeë 1980’s was die inspirasie van hierdie liedjie. Dit het begin met ’n storie wat die destydse kunsdirekteur van die Markteater in Johannesburg, Barney Simon, vir die sanger met die rooi velskoene vertel het.

’Op haar kop het sy ’n wit wasgoedskottel gehad met ’n paar goedjies daarin. Dit kon dalk haar enigste besittings gewees het. Toe skryf ek die reëls: Pak op, pak op, sit jou goedjies op jou kop’

“Hy en die dramaturg Athol Fugard het op ’n keer iewers in die Oos-Kaap vir ’n vrou langs die pad ’n saamrygeleentheid gegee. Op haar kop het sy ’n wit wasgoedskottel gehad met ’n paar goedjies daarin,” vertel David. “Dit kon dalk haar enigste besittings gewees het, het ons bespiegel. Toe skryf ek die reëls: Pak op, pak op, sit jou goedjies op jou kop.”

Die tweede gebeurtenis was toe die inwoners van die klein vissersdorpie Skipskop in die Overbergdistrik, tesame met mense op omliggende plase, in 1984 onteien is om plek te maak vir Krygkor se missieltoetsaanleg. “Gegrond op dié twee gebeurtenisse, skryf ek toe die liedjie in 1984 klaar.”

“Skipskop” is op David se 1986-album, Baboondogs, opgeneem, waarna ook Sonja Herholdt dit in 1995 ’n treffer gemaak het.

‘Tussen Treine’ – Richard van der Westhuizen

Richard van der Westhuizen. Foto: Facebook (Richar
Richard van der Westhuizen. Foto: Facebook (Richard van der Westhuizen)

Hierdie liedjie het ontstaan uit die warboel van emosies van ’n tienerseun, vertel Richard.

“Ek het grootgeword op die dorpie Nababeep in Namakwaland waar mense net Afrikaans praat. In 1966 besluit my pa: ‘Nee, die seun moet leer Engels praat.’ Toe word ek daar op die trein gelaai en Rondebosch toe gestuur om by die St. Joseph’s College skool te gaan.”

Hy was 13 jaar oud.

“Ek staan op die stasie, sê tot siens aan my ouers, maar dink ook aan wat wag. Ek onthou die vrees, maar ook die opgewondenheid. Daardie dinge het aan my bly torring. Eers in 1987 ­iewers het ek daardie emosies in woorde begin omsit, maar ek het met hom gesukkel.

“In 1991 besluit ek te hel hiermee, nou moet hy klaar. Ek het myself twee weke lank in my huis in Westdene, Johannesburg, toegesluit en geworstel. Ek onthou die frustrasie daarmee, maar ook hoe ’n 13-jarige seun op ’n stoomtrein klim op pad na die vreemde.”

Toe dit eindelik klaar was, het hy dit vir Henry Milne, die regisseur van die TV-reeks Ballade vir ’n enkeling, gegee.

“Ek het gesê: ‘Ek het ’n song geskryf. Dit gaan oor treine.’”

Die liedjie is in die klankbaan van die tweede Ballade-reeks opgeneem en daarna op talle albums ingesluit.

‘Byeboerwa’ – Anton Goosen

Anton Goosen. Foto: Gallo Images/Foto24/Nasief Man
Anton Goosen. Foto: Gallo Images/Foto24/Nasief Manie

Die liedjieboer beskryf hierdie treffer van hom as ’n “surrealistiese, biografiese beskouing oor die lewe”.

“My werk was altyd holisties van aard, waar ek hoofsaaklik maatskaplike kommentaar lewer wat nie noodwendig op ’n spesifieke gebeurtenis gegrond is nie,” sê Anton.

“Ek was in 1977 ’n musiekjoernalis by Beeld. Ek het eendag tussen Johannesburg en Pretoria gery toe die gedeelte van ’n nuwe wysie in my kop opkom. My grootste taak was toe om dié wysie te onthou tot ek terug by my huis in Randburg was om dit te kan neerskryf.”

Daarna het hy twee of drie dae deur verskillende boeke geblaai op soek na woorde of idees om iets in sy kop “te trigger” vir die lirieke.

“Die ou myndorpie Pelgrimsrus, waarheen duisende mense in 1891 gestroom het vir ’n beter lewe op die goudvelde, het opgekom. Toe volg die filosofiese gedagte: Baie mense gaan iewers heen na waar hulle dink ’n beter plek is, maar dan is dit nie noodwendig beter nie. Ek het die woord ‘byeboer’ raakgelees, die ‘wa’ bygevoeg, en so het die liedjie gebeur.”

Carike Keuzenkamp het dit in 1978 op ’n solus-sewe uitgereik en in 1979 op haar Byeboerwa-album ingesluit.

Anton se lekkerste herinnering aan hierdie treffer was toe hy ’n paar jaar later met vakansie op Pelgrimsrus was.

“ ’n Groep studente het my herken en nader gehaak. Toe gaan sit ons daar iewers op ’n grasperk, iemand speel kitaar, en ons sing “Byeboerwa” op die dorpie waar die liedjie oorspronklik afspeel.”

‘Sproetjies’ – Gert van Tonder

Gert van Tonder. Foto: Facebook (Gert van Tonder)
Gert van Tonder. Foto: Facebook (Gert van Tonder)

Soms gebeur dit dat ’n liedjie nie as goed genoeg beskou word nie, maar dan wel later as ’n tydlose treffer opgeneem word. “Sproetjies” was so ’n geval, vertel Gert.

“Boet Pretorius, grootbaas van die destydse Decibel-platemaatskappy, het my in 1979 gevra om Afrikaanse lirieke te skryf gegrond op die Amerikaanse countryliedjie “Freckles”.

Boet het hom so drie weke later gebel. “Hy sê Sias Reinecke en Joanna Field is nou in die ateljee besig om hul langspeelplaat op te neem; waar is die liedjie? Ek sê: ‘Hm . . . ek sal dit twaalfuur bring.’ Toe het ek twee uur om dit te skryf.

‘Toe frommel hy dit op en gooi dit in die snippermandjie’

“Toe ek twaalfuur daar instap, sê ek ewe windgat: ‘Ek het vir julle ’n treffer geskryf.’ Sias het lank so na die woorde op die papier gekyk voor hy afkeurend opmerk: ‘Sproetjies? Dit beteken niks!’ Toe frommel hy dit op en gooi dit in die snippermandjie.

“Soos ek dit verstaan, het hulle toe later die middag met ’n ander liedjie gesukkel en tog besluit om ‘Sproetjies’ op te neem. Maar omdat hulle glad nie in die liedjie geglo het nie, word dit toe op kant 2 as snit 7 versteek. Dit was eers maande later toe ’n omroeper by Radio Hoëveld dit toevallig begin speel. Twee weke later was dit ’n treffer.”

“Sproetjies” was in 1981 die gewildste liedjie in die radioprogram Afrikaanse treffers.

‘Sewe sakke sout’ – Anneli van Rooyen (geskryf deur Ruben Lennox)

Anneli van Rooyen. Foto: Misha Jordaan
Anneli van Rooyen. Foto: Misha Jordaan

Om te dink dat ’n sewejarige seuntjie se uitspraak die inspirasie kan wees agter ’n liedjie? Dit is presies wat die geval was met dié 1982-treffer van Anneli van Rooyen, vertel Ruben Lennox, die liedjieskrywer.

“My seun, Derick, het so met die s-klank gesukkel. Ek dink dié probleem was dalk heeltyd in my agterkop, want een oggend ná ’n geselsie met hom in ons huis op Swellendam stap ek na my kantoor en skryf die storietjie neer. Ek vat my kitaar, en toe kom die eerste twee versies van die liedjie. Ek onthou ek het my vrou geroep en gesê: ‘Polly, kom luister hier.’ So met die wegstap sê sy: ‘Dit is ’n treffer!’ ”

Hy het die liedjie sowat ’n week later klaar geskryf, saam met ander liedjies op ’n bandjie gesit en vir Koos du Plessis in Johannesburg gestuur.

“Hy moes daar vir my uitvind of iemand sou belangstel. Ek dink dit was so twee maande later toe Retief van Rooyen my bel. Hy was Anneli se pa en een van die vennote by die Decibel-platemaatskappy. Toe vra hy baie beleefd of hulle ‘Sewe sakke sout’ mag opneem. Binne my het dit geskree van opgewondenheid!”

Anneli het die liedjie in 1982 op ’n solus-sewe uitgereik, en dis ook in 1983 op haar album Ken jy my ingesluit.

‘Leeuloop’ – Robbie Wessels

Robbie Wessels. Foto: Facebook (Robbie Wessels)
Robbie Wessels. Foto: Facebook (Robbie Wessels)

Gedink die karakter wat sy broek en belt geleidelik, én verleidelik, losmaak om te leeuloop is fiktief? Allermins! Dit is ’n werklike storie wat in 2006 in Parys aan hom oorvertel is, sê Robbie Wessels.

“Ek het destyds nog net met my kitaar van kroeg tot kroeg gesing toe ek in ’n plek met die naam van Outlaws, op die plotte buite Parys, optree. Daar vertel iemand my toe van die plaasbestuurder wat in die distrik boer. Gereeld het hy, sy vrou en die plaaseienaar ietsie in die kroeg kom drink.

“Wanneer die plaasbestuurder nou een of drie te veel inhet, het hy sy vrou en werkgewer toestemming gevra of hy die Leeuloop mag doen. Dan klim hy op die toonbank, laat sak sy broek soos ek dit in die koortjie beskryf, en ­dans. Hy’t selfs gebrul!”

Op pad terug na sy blyplek in Pretoria kon hy net nie sy lag hou wanneer hy aan dié ou dink nie, sê Robbie. “Die koortjie het in my kop begin vorm aanneem, en toe ek by die huis kom, het ek die liedjie klaargeskryf.” 

“Leeuloop” is op Robbie se tweede album, Halley se komeet (2006), ingesluit en het volksbesit geword.

‘Drie pikkewyne’ – Jakkie Louw

Jakkie Louw. Foto: Facebook (Jakkie Louw Amptelik)
Jakkie Louw. Foto: Facebook (Jakkie Louw Amptelik)

Hy het hierdie liedjie eintlik “van verhoog tot verhoog ontwikkel tot dit ’n hele lied was”, vertel Jakkie Louw.

“As student op Stellenbosch het ek en my kitaar altyd oor vakansies die pad gevat en in verskeie kuierplekke gaan speel. In 2002 het ek ’n paar gigs by die Tidal’s Club op Mosselbaai gehad en daar was hierdie drie meisies wat elke aand reg voor die verhoog gestaan het.”

Hy het hulle “die drie pikkewyne” gedoop.

“Een aand sing ek sommer spontaan ’n reël of drie, op my eie wysie, uit ’n tradisionele vissermansliedjie: ‘Daar onder is drie pikkewyne.’ Die mense het daarvan gehou. Ek het dit toe gereeld in ander vertonings begin doen en so stelselmatig nuwe woorde bygevoeg. Later het die woorde hul eie wysie gekry wat ek maar so van gig tot gig uitgetoets het om te sien wat werk en wat nie.”

Hy het sowat vier jaar later besef hy het nou ’n volledige liedjie beet.

“In 2006 het ek my eerste album, Alles in een glas, opgeneem. Ek het nooit gedink ‘Pikkewyne’ is goed genoeg om op te neem nie; ek het gedink dit is eintlik maar ’n weggooiliedjie, maar op ’n manier het dit ’n plek op die album gekry.”

En daar word dit toe ’n treffer.

‘Stukkie Van der Merwe’ – Pieter Smith

Pieter Smith. Foto: Facebook (Pieter Smith Music)
Pieter Smith. Foto: Facebook (Pieter Smith Music)

Hy het as ’n musiekstudent by die destydse ALMSA-musiekskool in Pretoria in die middel 1990’s gereeld by boeredanse op die myndorpie Stilfontein, wes van Johannesburg, opgetree, sê Pieter. Saam met hom op die verhoog was sy destydse sangmaat en medestudent, Johan Brümmer, wat deesdae bekend is as Fatman.

“Daar was ’n bekende ou van die dorp wat ’n gereelde gesig by die danse was. Dis daai ou wat sy booze uit sy boot drink en later die aand sy das om sy kop bind. Daardie karakter het my gefassineer, en ek het die idee gekry om ’n liedjie oor hom te skryf.”

Maar hy het nooit gaan sit en die liedjie klaar geskryf nie.

“Dit was maar oor die verloop van ’n paar jaar dat ek ’n vers hier en ’n paar lyntjies daar op papier gekrabbel het en in my laai gegooi het, tot daar teen 2010 ’n liedjie was. Ek het dit begin sing en agtergekom die mense hou daarvan! Ek het toevallig ’n paar maande gelede weer op die verskillende stukkies papier afgekom in ’n kartonhouer in my kantoor.”

Pieter het “Stukkie van der Merwe” in 2012 saam met DJ Ossewa opgeneem en op sy album Beste uit 10 ingesluit.

‘ ’n Liedjie vir jou’ – Jannie du Toit

Jannie du Toit. Foto: Facebook (Jannie du Toit)
Jannie du Toit. Foto: Facebook (Jannie du Toit)

Die sanger en liedjieskrywer Jannie du Toit was pas klaar met sy LL.B.-graad by RAU toe hy in 1978 as staatsaanklaer by die landdroshof in Johannesburg begin werk en by ’n klein tuinwoonstel in Auckland Park ingetrek het.

‘Daardie herinnerings het my so begeester dat ek doelbewus gaan sit en die liedjie geskryf het’

“Daar was letterlik net plek vir my bed, yskas en klavier. Vasgevang in hierdie klein ruimte het ek saans, met ’n glas bier in die hand, teruggedink aan die wonderlike ervarings toe ek in die vorige twee jaar drie staproetes aangedurf het. Daardie herinnerings het my so begeester dat ek doelbewus voor die klavier gaan sit en die liedjie geskryf het,” sê Jannie.

Die woorde en die wysie het onmiddellik net bymekaargekom.

“Elkeen van die drie versies is geskryf met my indrukke van ’n spesifieke roete: Die Wildekus in die Transkei, die Visriviercanyon in Namibië en die Witelskloof tussen Worcester en Ceres.”

Die liedjie is in 1980 op ’n solus-sewe-plaat uitgereik en was dadelik ’n treffer, maar die liedjienaam is op die omslag verkeerd gedruk – as net “Liedjie vir jou”. Hoewel dit in vele latere uitreikings reggestel is, word die naam tot vandag toe nog soms verkeerd gebruik.

Maar vir Jannie, wat in 2021 sy 50ste jaar in die Afrikaanse musiekbedryf vier, is die belangrikste dat die liedjie vandag steeds deur jong mense gesing word.

‘Bicycle sonder ’n slot’ – Koos Kombuis

Koos Kombuis
Koos Kombuis. Foto: www.kooskombuis.com

Wat hom die meeste irriteer, is hoe mense dié 1994-treffer van hom interpreteer, sê Koos Kombuis.

“Ek lees gereeld mense beskryf dit as ’n diep love song. Dit is absolute str***. Dit gaan oor vriendskap en my tienerherinnerings aan my skooldae in die middel 1970’s op Stellenbosch. Ek het eenkeer my fiets vir ’n vriendin geleen, maar ek het vergeet om vir haar te sê die ding het nie brieke nie. Dis dit! Ek kan nie die besonderhede onthou nie, maar dalk het sy geval, want daar was stories!”

En haar naam was ook nie noodwendig Karin nie, sê hy. “Ek noem almal Karin as ek hul naam vergeet.”

Hy kan nie onthou waar en wanneer hy die liedjie geskryf het nie.

“Wat ek wel onthou, is dat Anton Goosen die heel eerste mens was vir wie ek die liedjie gesing het. Ons het alleen om ’n kampvuur op sy plaas by Hennops naby die Hartbeespoortdam gekuier; toe sê hy hy like dit, ek moet dit opneem.”

Kort daarna het “Bicycle sonder ’n slot” op sy 1994-album, Elke boemelaar se droom, verskyn. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe