Gewild verby

Die Vat 5-albumreeks is baie gesog en die nuwe een, die sewende in die reeks, het binne twee weke ná sy uitreiking op al wat ’n treffersparade is, geboer.

Die album is ’n samestelling van versoeke wat die RSG-omroeper Derrich Gardner op sy radio-insetsel Vat 5 op die RSG-Saterdagoggendprogram Brêkfis met Derrich gekry het.

Derrich skryf die gewildheid toe aan ’n kombinasie van sentiment en nostalgie.

“Dit is deel van die menslike geaardheid om sommige liedjies met sekere gebeurtenisse in hul lewe te verbind,” vertel hy.

“Op Vat 5 sal luisteraars ’n spesifieke liedjie versoek omdat dit byvoorbeeld die openingsdans was op hul troue of ’n groot treffer in die tyd toe hul kind gebore is. Dan deel hulle hierdie stories met die ander luisteraars.”

Van die goue oues op die album sluit in Heart (Gene Rockwell), The Peacemaker (Albert Hammond) en Red Rose Café (Demis Roussos).

So is die album saamgestel

Die proses duur maande, verduidelik Derrich.

“Eers identifiseer ek die liedjies wat ek dink op die album moet kom. Natuurlik moet dit liedjies wees wat deur die luisteraars versoek is. Daarna moet die David Gresham-platemaatskappy toestemming kry by die maatskappy wat dit oorspronklik uitgegee het om by die samestelling in te sluit. Omdat van die liedjies so oud is, moet die oorspronklike sangers, of hul erfgename wat die musiekregte besit, soms eers opgespoor word. Daarna moet ’n kraplose weergawe van die oorspronklike opname in die hande gekry word. Dis nie altyd maklik nie.”

’n Versamelingsalbum

Die publiek moet hul kopieë van die Vat 5-reeks goed oppas, want dit sal nooit herdruk word nie, waarsku Derrich.

“Ons kry die regte van elke samestelling net vir drie jaar; daarna verval dit en is die spesifieke album nie meer beskikbaar nie. Hierdie album is dus ’n ware versamelaarsitem.”

Een van die juwele op die nuwe album is Edith Piaf se weergawe van No Regrets. Jy sal dit nie sommer op enige ander samestellingsalbum vind nie, sê Derrich. 

Resensies

Ben Ten 

EARLY B

Ben Ten is die tweede enkelsnit van die rapper van die Baai se debuutalbum, Aangename Kennis, wat vroeg in Augustus uitgereik is.

Dis ’n heerlike, humoristiese hip-hop-liedjie oor ’n ouer vrou wat skaamteloos ogies maak vir een van haar dogter se vriende. “Die antie soek ’n Ben Ten”, sing die sanger in die ritmiese koor.

(Ben Ten is iemand wat van ouer vroue hou.) Selfs mense wat nie ’n oor vir hip-hop het nie, sal dié een geniet. Early B is natuurlik veral bekend vir sy vorige enkelsnit-treffer, Cerebellum, wat verlede jaar ’n Ghoema gewen het.

MASKERS

VERONA

Ná die uitreiking van haar debuutenkelsnit, Maskers, vroeër vanjaar is die volle album met dieselfde naam nou uitgereik. Dit bevat 11 oorspronklike liedjies, hoofsaaklik met ’n folk-/pop-aanslag.

Benewens die titelsnit, wat handel oor die maskers wat ’n mens dra om jou ware self weg te steek, staan die liedjie Saam Lag uit met luisterbare lirieke. – jaco hough-coetzee*

Wen!

Wen!

Vyf lesers kan elk ’n kopie wen van die Vat 5 (Volume 7)-album.

  • SMS die woord VAT, jou antwoord op die vraag onder, naam, e-posadres en adres voor 30 Augustus om 17:00 na 35407.

VRAAG: Wie het die album saamgestel? 

Elke sms kos R1,50. die borg is verantwoordelik vir die verskaffing van die pryse binne ’n redelike tyd.