1. Heads Up!

Dié digitale speletjie sal omtrent die lagspiere kielie.

In die videospeletjie hou een speler die selfoonskerm waarop ’n woord verskyn, teen hul voorkop en die ander spelers moet dan vir hulle leidrade gee sodat hulle reg kan raai wat die woord op die skerm is. 

Die speletjie het ’n verskeidenheid afdelings om jou kennis te toets – van algemene kennis tot bekende glansmense – en is ideaal om jou kroos te laat kopkrap en besig te hou.

Die speletjie is boonop tydgebonde: Jy het 30 sekondes om te raai wat die ander speler aan jou probeer verduidelik. Die speletjie is op Google Play te kry.

2. 5 Second Rule

Die bordspeletjie raak ál gewilder.

In dié speletjie tel jy ’n kaart op, lees jy die onderwerp en dan het jy vyf sekondes om die eerste drie goed waaraan jy dink wat met die onderwerp verband hou, uit te skree.

Die gewilde speletjie is ook te sien op die Amerikaanse kletsprogramaanbieder Ellen DeGeneres se reeks waar verskeie bekendes die aanbieder al aangevat het.

Die speletjie is baie interaktief; daarom is dit die ideale speletjie vir die hele gesin om aan deel te neem. 

Dit is by Takealot.com te kry.

3. What’s Up, Snoopy?

As jou kleingoed van avontuurlustige speletjies en oulike hondjies hou, is dié videospeletjie so reg in hul kraal.

Die kleurvolle uitleg van die speletjie maak dit visueel baie aantreklik. In die speletjie beheer jy verskeie karakters uit die ikoniese strokiesprentreeks. Jy kan talle verskillende speletjies speel soos tennis, skaatsplank en selfs pannekoeke vang!

Dit sal hulle ure lank besig hou met die verskeie fases waardeur die gewilde Snoopy die hond en sy kliek moet gaan om punte bymekaar te maak. Tot siens verveeldheid, hallo pret!

Die speletjie is op Google Play vir aflaai beskikbaar.

Foto ter illustrasie: Gallo Images/ Getty Images

4. Backseat Bingo

Die speletjie is ’n moderne en spesiaal aangepaste weergawe van die tradisionele Bingo-speletjie.

Die kaart lyk soortgelyk aan ’n tradionele Bingo-kaart, maar in plaas van syfers is daar voorwerpe op wat tipies op die langpad te sien is. Jy moet jou oë oophou op die langpad om padtekens en voertuie raak te sien wat op die bord is. As jy een gewaar, merk jy dit af. Die een wat die eerste is om ’n ry van vyf dinge raak te sien, wen. Die speletjie is geskik vir die hele gesin en kan hope pret wees.

Die speletjie is op Amazon.com te koop.

5. Die Nommerplaatspeletjie

Die klassieke speletjie word reeds vir jare lank in motors op die langpad gespeel, maar word net nie oud nie.

Dit bly steeds een van daardie speletjies waar almal iets by almal kan leer. Vir die speletjie word die letters op nommerplate dopgehou en woorde moet daarmee gebou word. As jy ’n woord vorm, kry jy ’n punt. Die spelers kan dan self besluit hoeveel punte jy bymekaar moet maak om te wen.

Dis die perfekte speletjie om die kleingoed se woordeskat te help verbreed, maar ook ’n kans vir almal om lekker saam te lag wanneer die tong ’n bietjie vashaak.

Wen tot R5 000 met Caltex
Het jy al vir ons Caltex-kompetisie ingeskryf? Dit kan die maklikste manier wees om geld vir die vakansie in die hande te kry! Staan ’n kans om elke week vir die volgende drie weke R5 000 te wen – of wen die groot prys van R10 000 in die laaste week van die kompetisie! Maak eenvoudig net seker jy gooi brandstof ter waarde van R300 of meer by Caltex in, hou jou strokie en skryf hier in. Die kompetisie is van 19 Maart tot 16 April 2018.