Octopath Traveler

Nintendo Switch

Die 1990’s was ’n goue era vir Japannese rolspelspeletjies, met reuse van die genre, soos Final Fantasy, wat die beste speletjies uitgereik het.

Octopath keer na daardie gloriedae terug met mooi 2D-grafika en ’n beurtgegronde gevegstelsel wat diep is én maklik om te verstaan.

Maar Octopath herproduseer nie net die voorkoms en gevoel van die ou rolspelspeletjies nie; dit voer alles ’n stap verder. Die ouskoolse grafika word op vele filters getrakteer, wat die speletjie ’n helder en unieke voorkoms gee.

Dit vertoon ook goed op die kleiner skerm wanneer jou Switch op draagbare modus gestel is.

Die pret hou nie daar op nie, want pleks van net een storie met een karakter gee Octopath jou agt unieke stories en karakters en die opsie om te begin met wie jy wil.

Hoe al dié stories ineenskakel en hul onderskeie doelwitte maak Octopath se storie so spesiaal en vars. Die geveg het ook ontwikkel met die bekendstelling van die hupstootstelsel.

Spelers word met ’n hupstootpunt beloon as hulle ’n normale aksie tydens hul gevegsbeurt maak.

Elke karakter kan tot vyf daarvan bêre en dit dan gebruik om homself tot vier keer te versterk in ’n latere aanval of towerspreuk.

Dit voeg ’n hele ekstra vlak van strategie by die geveg.

Daar is meer as 100 uur speeltyd met baie geheime, waarvan jy party eers ná 80 uur sien.

Nie net is Octopath ’n ode aan die groot Japannese speletjies van die verlede nie; dit staan nou op eie bene as ’n fantastiese inskrywing.

’n Moet vir die Switch as rolspelspeletjies jou ding is.

Captain Toad

Nintendo Switch, Nintendo 3DS

Die Wii U was ’n wonderlike konsole, maar nie gewild nie, al het dit ’n paar goeie speletjies gehad. Captain Toad is een daarvan.

En nou kan spelers wat nie die geleentheid gehad het om dié verslawende raaiselspeletjie te beleef nie dit met die Nintendo Switch sowel as die 3DS speel. Spelers moet Toad deur ’n vierkantige platform lei.

Algaande versamel hulle munte en edelstene wat op allerhande maniere versteek is. Albei spelers moet skakels en platforms in sekere volgordes aktiveer om vyande te verslaan en seker te maak hulle deursoek elke gebied op elke vlak.

Die vlakke is pret en maklik genoeg om op die eerste deurgang te voltooi.

Die ware uitdaging lê daarin om die vlakke te bemeester en die ontsluite uitdagings ná elke voltooide vlak te ontsyfer, maar dit is heeltemal opsioneel.

Toad self is so oulik soos altyd en jy sal dadelik verlief raak op sy oulike kreet “reg vir avontuur” aan die begin van elke vlak.

Die speletjie is kleurryk en grafies skerp, selfs op die 3DS. Daar is ietwat van ’n X-faktor aan die pret in Treasure Tracker waarop ons nie heeltemal ons vinger kan lê nie.

Dis heel waarskynlik die Nintendo-toorkrag wat net húlle weet hoe om te gebruik, maar dit is onteenseglik: Dié speletjie is onontbeerlik vir spelers wat hou van interessante raaiselspeletjies met diepte of net oulike sampioenmensies.

FOTO'S: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES