Metal Gear Survive

PS4 | PC | Xbox One

3/5

Nadat die skepper van die Metal Gear Solid-reeks die maatskappy Konami verlaat het, is gegons oor wat die volgende Metal Gear Solid-speletjie sou behels.

Toe verskyn Metal Gear Survive, ’n speletjie wat in ’n parallelle tydlyn afspeel op ’n vreemde planeet soortgelyk aan die aarde waar massiewe stofwolke die grootste deel van die planeet bedek.

Die planeet is deur zombies met kristalkoppe oorgeneem. Behalwe klein kameeverskynings in die inleiding tot die dol nuwe wêreld is die ikoniese karakters uit die vorige speletjies nie meer daar nie.

Dit is ’n totale omwenteling van die effens onderduimse aksie-speelervaring na een wat beter pas by sy nuwe titel – oorleef. En dit is wat jy sal doen.

Die speler moet gedurig honger en dors en kommer oor siekte en beserings hanteer en nog tyd kry om sendings te voltooi, ander oorlewendes te red en hul basis op te knap om zombie-aanvalle af te weer.

Aan die begin kan dit te veel raak, en die speelervaring, wat glad nie soos vorige Metal Gear-speletjies voel nie, kan jou maklik afskrik.

Nadat ons die stelsels beter leer ken het, het ons besef dis eintlik groot pret.

Survive is ’n uitdagende oorlewingspeletjie, maar bevat ongelukkig nie genoeg Metal Gear om die naam gestand te doen nie.

Shadow of the Colossus

PS4

5/5

Dertien jaar ná die oorspronklike uitreiking van Shadow of the Colossus op PS2 het die speletjie niks van sy towerkrag verloor wat dit een van die beste videospeletjies ooit gemaak het nie.

Die speler moet reuse so groot soos twintigverdiepinggeboue met net ’n swaard en boog aanvat.

Dié Dawid-teen-Goliat-opset lei tot van die ikoniesste gevegte in speletjiegeskiedenis.

Anders as vorige HD-weergawes wat op PS3 en PS4 uitgereik is, is dié ’n totale nuwe weergawe van begin tot einde.

Die resultaat is pragtig en die oorspronklike skaal en belangrike gevoel van die gevegstonele bly behoue.

Dit is ongetwyfeld die beste weergawe van Shadow of the Colossus, ’n speletjie wat nog net so emosioneel aangrypend, interessant en uitdagend is soos die eerste keer toe dit uitgereik is.

Dragon Quest Builders

Nintendo Switch

5/5

Dragon Quest Builders het spelers verlede jaar verras toe die Dragon Quest-reeks met ’n unieke soort fantasie met ’n Minecraft-soort blokbouspeletjie gekombineer is.

Die resultaat is pure genot om te speel.

Die speletjie het nou die oorskakeling na Nintendo gemaak, ’n platform wat volmaak is daarvoor.

Om danksy die Switch-verwisselbaarheid Builders met die hand te kan speel is die een aspek waar die speletjie teenoor ander konsole tekort skiet.

Die poort is goed gedoen, en behalwe die effense afname in resolusie, hou die speletjie maklik kers vas by sowel die PS4- as Xbox One-weergawe.

As jy nog nie Dragon Quest Builders gespeel het nie en lus voel vir ’n interessante mengsel van ’n rolspel- en Minecraft-soort speletjie, is dié een vir jou.