SLAAPWANDELAAR

Die taamlik gesette Siena gaan dokter toe en sê: “Dokter, ek loop snags vreeslik rond in my slaap. Kan jy asseblief vir my iets daarvoor voorskryf?”

“Nee!” antwoord die dokter dadelik, “ek is bevrees jy het die oefening nodig.”

  • Lita Schoon

WAAR IS DIE PRESIDENT?

Koos gaan parlement toe en vra die wag hy wil met pres. Jacob Zuma praat.

Die wag sê: “Jammer, maar Zuma is nie die president nie.”

Koos gaan weg, maar die volgende dag is hy weer terug met dieselfde versoek.

Weer sê die wag: “Zuma is nie die president nie.”

Toe Koos die derde keer terugkom om met pres. Zuma te praat, vererg die wag hom en skree: “Ek het nou al drie keer vir jou gesê Zuma is nie die president nie. Ek kan nie verstaan hoekom jy elke keer vra om met hom te praat as jy weet hy is nie meer die land se president nie?”

“Ja, ek weet dit,” sê Koos, “maar dis so lekker om dit elke keer te hoor!”

  • F.H. Horne, Hartenbos

ALTE GRAAG

Koos en Jan stap die polisiekantoor binne.

Konstabel: “Kan ek help, menere?”

Koos: “Ja, konstabel, ons twee kom aansoek doen vir daardie werk.”

Konstabel: “Watse werk?”

Koos: “Daai werk wat julle hier voor op die venster adverteer.”

Konstabel: “Wat staan daar?”

Koos: “Twee mans word gesoek vir dagga verkoop!”

  • Deserise Viljoen

SLIMKOP

Onderwyseres: “Toe ek so groot soos jy was, was ek al baie goed met optel, deel en vermenigvuldig.”

Jannie: “Sjoe! Juffrou het seker ’n goeie onderwyseres gehad.”

  • Helena

DANKBARE ONNIE

Die skoolhoof ontbied die onderwyseres na sy kantoor.

“Juf. Griesel,” sê hy ernstig, “dit is nie nodig om elke keer ’n dankiesêbriefie vir Jannie se mammie te stuur wanneer hy afwesig is nie.”

  • Denise, Pretoria

LUIER AS LUI

Ou Koos lê op die naat van sy rug op die gras. Die dominee loop verby en vra: “Koos, kan jy my die pad na Piet Joubert beduie?”

Koos lig een voet en beduie daarmee in ’n rigting. “Koos, as jy iets kan doen wat nog luier as jou manier van beduie is, gee ek jou R10,” sê die predikant.

Koos rol om op sy sy en sê: “Sit dit maar in my sak, dominee.”

  • Leon Kruger

JONA EN DIE JUFFROU

’n Onderwyseres gee ’n les oor walvisse en sê vir die klas dis onmoontlik dat ’n walvis Jona kon insluk, want die dier se keelgat is gans te klein daarvoor.

’n Meisie in die klas skud ferm haar kop en sê: “Maar ’n walvis hét vir Jona ingesluk.”

Geïrriteerd herhaal die juffrou: “ ’n Walvis kan nie ’n mens insluk nie; dis onmoontlik.”

Die meisie is nie oortuig nie. “Wanneer ek eendag hemel toe gaan,” sê sy, “sal ek Jona vra.”

“En sê nou Jona is in die hel?” wil die onderwyseres weet.

“Dan moet juffrou hom vra!” 

  • Arend Kirkman
Kontak ons

Stuur gerus oorspronklike grappies; jy kry R50 vir elkeen wat ons gebruik.

Skryf aan Huisgenotjies, Posbus 1802, Kaapstad 8000 of grappies@huisgenoot.com en verstrek jou naam, adres, identiteitsnommer en bank­besonderhede (bank, taknaam, -kode en rekeningnommer).