GEWILDSTE INWONER

Piet: “Koos, het jy al ooit uitgevind hoekom jy so gewild is op die dorp?”

Koos: “Nee, behalwe dat ek vir almal vertel het ek begin viool speel wanneer ek eensaam raak.”

  • Leon Kruger

BLONDE BRUNET

Die blondine is moeg vir grappies oor meisies soos sy en kleur haar hare donkerbruin. Ingenome met haarself ry sy na haar suster op ’n Vrystaatse plaas om vir dié te gaan wys hoe mooi haar nuwe haarkleur lyk.

Op pad daarheen ry sy amper in ’n trop beeste vas. Sy klim uit die motor en sê vir die boer: “As ek kan raai hoeveel beeste jy het, kan ek een kry?”

“Sekerlik,” sê die boer.  Sy raai sowaar reg en kies die kleinste bees sodat dit in haar motor sal pas.

Die boer gee haar een kyk en vra: “As ek die ware kleur van jou hare kan raai, kan ek my boerboel terugkry?”

  • Nadia Gouws

KERK TEEN KROEG

Op ’n plattelandse dorpie begin die eienaar van die kroeg ’n nuwe, groter drinkplek bou sodat hy meer geld kan maak. Die plaaslike kerkraad kom daarvan te hore en is bang die dorpsmense gaan nou meer begin drink.

Hulle begin met ’n veldtog om met petisies en gebede die opening van die nuwe kroeg te probeer verhoed.

Intussen vorder die bouery fluks. Maar ’n week voor die nuwe kroeg sou open, word die gebou deur weerlig getref en brand dit af.

Die kerkmense is in hul skik daarmee, maar net tot die kroegeienaar die kerk dagvaar. Hy voer aan hulle is deur hul optrede vir sy verlies verantwoordelik.

Die kerk ontken heftig dat hulle enigiets met die saak te doen gehad het.

Nadat die regter al die papierwerk bestudeer het, sê hy: “Ek weet nog nie wat die uiteinde van hierdie saak gaan wees nie, maar een ding is vir my interessant: Dit lyk of ons hier ’n kroegeienaar het wat in die krag van gebed glo en ’n hele gemeente wat nie daarin glo nie.”

  • Louise Noeth

WREDE TOEVAL

Wat is ontnugtering? As jy op ’n toe-oë-afspraak gaan en ontdek jou metgesel is die hele tyd jou eks.

  • San Marchand

SKOTSE ROMANSE

’n Jong Skot en sy meisie sit ewe romanties op ’n bankie langs ’n meer tussen die groen heuwels van Skotland, maar hy is doodstil.

Later vra sy: “ ’n Pennie vir jou gedagtes, Angus?”

“Ek dink dis omtrent tyd dat ek jou hand vashou, Mary, ” antwoord hy. Hy neem haar hand in syne. Toe raak hy weer stil.

Ná ’n rukkie vra sy weer: “ ’n Pennie vir jou gedagtes?”

“Ek dink dis tyd dat ons mekaar ’n bietjie vashou,” sê hy en omhels haar, maar soen haar nie.

Om hom ’n bietjie aan te moedig, vra sy maar weer: “ ’n Pennie vir jou gedagtes, Angus?”

Toe antwoord hy: “Ek dink dis tyd dat ons eers ’n bietjie praat oor wanneer jy daai ander twee pennies gaan betaal.”

  • F.H. Horne, Hartenbos

GOEIE PEL

Koos: “My vrou het gister met my beste vriend, Mike, weggeloop.”

Piet: “En van wanneer af is Mike jou beste vriend?”

Koos: “Van gister af.”

  • F. H. Horne, Hartenbos

VRYGEWIGE WEDERHELF

My vrou het deur ’n modetydskrif geblaai toe sy ’n foto van ’n ontwerpersjas sien. Sy wys dit vir my en sê: “Ek sal hiervan hou.”

Toe knip ek die foto uit en gee dit vir haar.

  • Lita Schoon

GEKRABBEL

Katinka kom van die skool af en vertel baie bekommerd vir haar ma die juffrou wil hê sy moet duideliker skryf. “Dit sal mos nie ’n probleem wees nie,” sê haar ma.

“Ja, dit sal,” antwoord Katinka, “want dan sal sy agterkom ek kan nie spel nie.”

  • Rian Kruger, Port Elizabeth

BLONDE BOEKWURM

’n Blondine kom by die biblioteek ingehardloop en kla by die bibliotekaris: “Dis sommer ’n simpel boek dié. Daar is te veel karakters en geen storie nie.”

Toe roep die bibliotekaris haar kollegas: “Hier’s die vrou wat ons telefoongids gesteel het.”

  • Hester, Namibië

LANG TRANE

My beursie is soos ’n ui.

Wanneer ek dit oopmaak, wil ek huil.

  • L. Saayman, Sabie

SOETE TERUGKEER

Ná ses maande in Engeland keer die sakeman terug huis toe. Sy vrou wag die aand vir hom op die lughawe.

Hulle besluit om sommer in ’n hotel daar naby te oornag eerder as om die 150 km huis toe te ry.

Laatnag skrik hulle wakker toe iemand hard aan die deur klop. Die sakeman, nog deur die slaap, spring op en sê benoud: “Ek dink dis jou man.”

Ook deur die slaap antwoord sy vrou: “Moenie laf wees nie. Hy’s in Engeland.”

  • Leon Kruger

WARE WAARDE

Geld is nie alles nie, maar as dit nie daarvoor was nie, sou studente maklik kontak met hul ouers verloor het.

  • Jimmie Botha, Waterval-Boven

STOKSIELALLEEN

Ek het my foto vir die hoekie vir eensames gestuur.

Toe stuur hulle dit terug en sê hulle is darem nie só eensaam nie.

  • Wollie, Pretoria

HAASTIGE DIEF

Twee diewe breek in en steel ’n klomp kontant uit ’n huis. Nadat hulle met hul buit weggekom het, sê die eerste dief: “Kom ons tel die geld.”

“Hoekom sal ons ons tyd so mors?” vra die tweede dief. “Ons kan môre in die koerant kyk hoeveel dit is.”

  • Arend Kirkman

EIE RISIKO

Werknemer aan die kantoorbestuurder: “Meneer, ek is onlangs getroud. Kan ek asseblief ’n salarisverhoging kry?”

Bestuurder: “Ek is jammer, maar ons vergoed nie werknemers vir ongelukke wat buite die werkplek gebeur nie.”

  • Lita Schoon

SUKSESRESEP

Eenkeer was daar op ons dorp ’n vrou wat buikspraak gedoen het – bostukloos.

Niemand het ooit haar lippe sien beweeg nie.

  • Denise, Pretoria

VISIOEN

Daar word gesê wanneer ’n vrou haar oë toemaak, sien sy die mens wat sy die liefste het, maar wanneer ’n man dit doen, begin die skyfievertoning.

  • Wollie, Pretoria

FLINK GEDINK

Jan wil graag sy nuwe meisie beïndruk. Hy neem haar na ’n deftige restaurant, maar toe hulle daar kom, is die plek stampvol.

Toe kry hy ’n slim plan. Hy haal sy selfoon uit, druk dit teen sy oor en skree kliphard: “Boeta, jy moet gou kom! Sy’s hier saam met iemand anders!”

En voor jy kan sê “mes”, spring ses paartjies op en maak hulle uit die voete.

  • F. H. Horne, Hartenbos

BIBBERWEER

Hoe weet jy wanneer dit regtig koud is in die Vrystaat?

Die boere trek twee kortbroeke aan.

  • Rian Kruger, Port Elizabeth

VER VAN ALLES

Fred beplan ’n vakansie in Namibië waarvan hy al jare droom en wil graag sy vrou saamneem.

Geesdriftig vertel hy vir haar hoe opwindend dit sal wees om in ’n tent sonder elektrisiteit of ablusiegeriewe te oornag met net die sterre en die wilde diere as geselskap.

“En as ons dit sou oorweeg om permanent daar te gaan woon, weg van die beskawing, wat sal jy die meeste mis?” vra hy.

Sy antwoord: “Vir jou.”

  • Louise Noeth

MOOI PRAATJIES

’n Politikus sal beloof om ’n brug te bou selfs al is daar nie ’n rivier nie.

  • Leon Kruger

NET ’N BIETJIE LIEFDE

Theuns en sy vrou, Anna, woon ’n krieketwedstryd by. Naby hulle sit ’n paartjie wat gedurig mekaar liefkoos.

Theuns verkyk hom so aan die twee dat hy vir Anna sê: “Ek weet nie of ek vir hulle of die wedstryd moet kyk nie.”

“Hou hulle dop,” sê Anna. “Jy weet mos hoe om krieket te speel.”

  • Lita Schoon
Kontak ons

Stuur gerus oorspronklike grappies; jy kry R50 vir elkeen wat ons gebruik.

Skryf aan Huisgenotjies, ­Posbus 1802, Kaapstad 8000 of grappies@huisgenoot.com en verstrek jou naam, adres, identiteitsnommer en bank­besonderhede (bank, taknaam, -kode en rekeningnommer).