DANKBARE BUURVROU

Vrou: “Kan jy my met die tuin help?”

Man: “Wat dink jy? Is ek miskien ’n tuinier?”

Vrou: “Kan jy vir my die deur se skuifslot regmaak?”

Man: “Wat dink jy is ek? ’n Skrynwerker?’’

Die volgende dag toe die man van die werk kom, is alles by die huis klaar reggemaak.

Man: “Wie het dit alles gedoen?”

Vrou: “Ons buurman. Maar hy het my ’n opsie gegee oor hoe ek hom daarvoor kan bedank: met ’n soen of ’n hamburger.”

Man: “Jy het toe seker vir hom ’n hamburger gegee!”

Vrou: “Wat dink jy? Is ek miskien McDonald’s?’’

  • Arend Kirkman

GROOT FLATER

Om te fouteer is menslik, maar om alles op te foeter, het ’n mens ’n rekenaar nodig.

  • Leon Kruger

WIE DE DUIWEL?

Die duiwel kom aarde toe en loop Mike raak.

“Weet jy wie ek is?” vra die duiwel.

“Nee,” sê Mike, “gee my ’n leidraad.”

“Ek is die prins van duisternis,” sê die duiwel.

“O, nou weet ek!” roep Mike uit. “Jy’s die grootbaas van Eskom.”

  • Denise, Pretoria

OP EIE BODEM

’n Fransman, ’n Amerikaner en ’n Suid-Afrikaner is saam in ’n vliegtuig. Dit is baie bewolk en die vlieënier vlieg maar so voel-voel.

In ’n stadium steek die Fransman sy hand by die venster uit en kondig aan: “Ons het pas oor Parys gevlieg.”

“Hoe kan jy so seker wees?” vra die ander.

“Ek het aan die Eiffeltoring geraak,” verduidelik hy. Hulle vlieg verder en later steek die Amerikaner sy arm uit.

“Ons is pas oor New York. Ek het met my hand oor die Vryheidstandbeeld se kop gevryf. ”

Die ouens gaan slaap en heelwat later steek die Suid-Afrikaner sy arm by die venster uit. “Ons is pas oor Johannesburg,” sê hy.

“Hoe weet jy?” vra die ander twee. “Want my horlosie is weg!”

  • Leon Kruger

STILSTUIPE SE MOSES

Hoe gemaak as jou meisie so kwaad vir jou is sy weier om met jou te praat?

Stuur net vir haar ’n teksboodskap wat lui: “Ignoreer my vorige boodskap.”

  • Monica, Pretoria

FLINK GEDINK

’n Man kom op ’n dag op kantoor aan.

Soos gewoonlik is hy formeel aangetrek, kompleet met ’n das en baadjie, maar in sy een oor blink ’n ring.

Sy kollegas is baie verbaas, want hulle ken hom nie as iemand met ’n voorliefde vir blinkgoed nie.

“Van wanneer af dra jy dan ’n oorring?” vra een.

“Vandat my vrou dit in my motor ontdek het!”

  • Jimmie Botha, Waterval-Boven
Kontak ons
Stuur gerus oorspronklike grappies; jy kry R50 vir elkeen wat ons gebruik. Skryf aan Huisgenotjies, ­Posbus 1802, Kaapstad 8000 of grappies@huisgenoot.com en verstrek jou naam, adres, identiteitsnommer en bank­besonderhede (bank, taknaam, -kode en rekeningnommer).