MOEILIKE GEVAL

Veearts aan slak: “Jou hoes klink beter, maar jy het nog baie slym.”

  • Wollie, Pretoria

NAGTELIKE DRAMA

Waarom word vroue so kwaad wanneer manlief eers laatnag tuiskom?

Dit werk so: As hy teen seweuur nog nie tuis is nie, bel vroulief om te hoor waar hy is en of hy huis toe kom vir ete.

Hy sê dan gewoonlik hy het ’n drankie saam met sy kollegas gaan drink en hy maak net gou die dop klaar waarmee hy besig is. Dan kom hy.

Teen tienuur bel sy weer. Hy is steeds in die kroeg en sê hy drink net sy laaste dop voor hy loop. Vroulief druk sy bord kos in die mikrogolfoond en gaan dikmond slaap.

Teen elfuur slaap sy nog nie. Sy bel weer, maar die vent antwoord nie sy foon nie. Nou lê vroulief in die bed en kook.

Toe hy teen middernag steeds nie sy foon antwoord nie, besluit sy die bogger lê dood in ’n sloot. Sy begin sy begrafnis beplan.

Teen eenuur die oggend het sy klaar besluit wat sy na die begrafnis gaan dra.

Teen tweeuur het sy reeds beplan wat sy met die polisgeld sal doen wat aan haar as weduwee uitbetaal sal word.

Om drieuur kom manlief eindelik by die huis ingestrompel. Nou is sy éérs die hoenders in! Want geen vrou kan die dood en opstanding van manlief in een nag verwerk nie.

  • Hester, Namibië

GEVAARLIKE LES

Ma: “Hoe het dit vandag by die skool gegaan, Fanie?”

Fanie: “Dit was te wonderlik, ma! Ons het vandag geleer om plofstof te maak.”

Ma: “Oe, hulle leer julle darem deesdae snaakse goed! En wat gaan julle môre by die skool doen?”

Fanie: “Watter skool?”

  • Lita Schoon

SIEN IS GLO

Lugbesoedeling het darem een voordeel: Jy kan sien wat jy inasem.

  • Jimmie Botha, Waterval-Boven

NES MENSE

Die vrou kom in die kombuis en kry haar man met ’n vlieëplak in die hand. “Wat doen jy?” vra sy.

“Jag vlieë,” antwoord hy.

“O, het jy iets doodgeslaan?” vra sy.

“Ja,” kom die antwoord, “drie mannetjies en twee wyfies.”

“Hoe ken jy hulle uitmekaar?” vra sy verbaas.

“Maklik,” antwoord hy, “drie was op die bierbottel en twee op die selfoon!”

  • Joey Kinsman

WEES GEWAARSKU

Kennisgewing op . . .

  • ’n Loodgieter se paneelwa: “Ons herstel alles wat jou man reggemaak het.”
  • ’n Motorhandelaar se vertoonvenster: “Die beste manier om weer op jou voete te kom is om ’n motorpaaiement oor te slaan.”
  • Wollie, Pretoria

VERLORE STRYD

Koos aan sy vrou: “Ek word so vies, want mense bly met my stry.”

Vroulief: “Nee, dis nie waar nie!”

  • M. van Bergen

KLAARPRAAT

My terapeut het vir my gesê as ek ware innerlike vrede wil ervaar, moet ek alles klaarmaak waarmee ek begin.

Ek het sy raad ter harte geneem.

Tot dusver vandag het ek ’n sjokoladekoek en twee pakke skyfies klaargemaak.

Nou voel ek sommer baie beter.

  • Louise Noeth
Kontak ons

Stuur gerus oorspronklike grappies; jy kry R50 vir elkeen wat ons gebruik.

Skryf aan Huisgenotjies, Posbus 1802, Kaapstad 8000 of grappies@huisgenoot.com en verstrek jou naam, adres, identiteitsnommer en bank­besonderhede (bank, taknaam, -kode en rekeningnommer).