FIFA 2019

Fifa 2019 voel min of meer soos sy vorige weergawe – en dit is ’n goeie ding. Soos verwag is, het die grafika baie verbeter – dit kan jy duidelik sien sodra jy begin speel.

Met die skare se reaksies en die algehele atmosfeer kraai Fifa in alle opsigte koning oor  Pro Evolution Soccer (PES).

Wat die speelervaring betref, verg Fifa ’n steil leerkurwe: Die spelers moet meer vaardig­hede en tegnieke – of hulle nou die bal aan hul voete het of nie – aanleer as met PES. Tog bly dit gebruikersvriendelik teenoor groentjies en mense wat net af en toe speel.  

Fifa se balbewegings is wonderlik. Elke interaksie wat jou speler met die bal het, lyk en voel natuurlik. Selfs die posisie wat jou speler teenoor die bal inneem, sal die uitkoms van aangeë, doelskoppe en aanvalle beïnvloed.

Die kommentaar is die beste nog. Die kommentators noem die spelers se name en beskryf wat hulle doen, met geen of weinig herhalings. Dit kom so na aan ’n werklike televisieuitsending as wat ons al ooit in ’n speletjie gesien het.

Fifa volg ’n veel breër benadering tot spelerstatistieke. ’n Speler met ’n gradering van 95 sal presies soos ’n ander een voel, al verskil die dinge waarin hulle spesialiseer.

Die nuwe kenmerk Dynamic Tactics gee jou meer opsies om jou span se taktiek voor en in die middel van die wedstryd aan te pas. Nog ’n nuwe kenmerk wat uitstaan, is Timed Finishing. Daarvoor druk jy die skopknoppie twee keer vir akkurater skoppe.  

Fifa bly die ideale speletjie vir spelers op soek na outentieke spelers en klubs, en met die toevoeging van die Europese Kampioene­liga is al die hoofligas en kompetisies nou saam op een plek.

Fifa 2019 voel min of meer soos sy vorige weergawe – en dit is ’n goeie ding.


Pro Evolution Soccer 2019

Groot veranderings is in die Pro Evolution Soccer (PES)-reeks aangebring, en hul uitreiking vir 2019 is ’n reuseverbetering op hul vorige speletjies, veral aan die kontrolekant. Dit stel spelers in staat om te voel hulle is regtig daar op die veld.

Dit val jou dadelik op dat die grafika baie skerper is.

Jy kan nou elke speler se gelaatstrekke duidelik sien, asook die juigende skare en die besonderhede op die veld. Die tempo van die spel is in die geheel ’n bietjie stadiger as wat jy sou verwag, maar dit gee die manier van speel ’n taktieser gevoel.

Al val die klem op taktiek, bly die speelervaring op die veld gebruikersvriendelik. Wat balbeheer betref, voel dit maklik om die bal te maneuvreer en aan te gee. Die speletjie skep die indruk van ’n breër gevoel van beheer, want die bal voel nie soos iets wat bloot aan jou voet vas is nie.

Iets waarmee PES Fifa beslis een voor is, is dat hulle sekere spelers uniek laat voel, soos met die dribbelvaardighede van Lionel Messi of die verdedigingsvermoë van Gerard Piqué. Dit laat nie net elke span voel dat hulle van al die ander verskil nie, maar ook elke individuele speler.

Span- en spelerafbeelding was nog altyd ’n teer punt by die PES-franchise.

Met dié dat hulle nié die amptelike Fifa-lisensie het nie, kry hulle nie outomaties die ewebeelde van al die spelers en spanne nie (anders as hul mededingers hiernaas).

Vanjaar het dit PES dubbel so sleg getref, want hulle moes ook die Europese Kampioeneliga-lisensie afstaan. Bygesê, vir PES was aksie op die veld nog altyd die hoofsaak en hul 2019-uitreiking sal nie teleurstel nie. 

Groot veranderings is in die Pro Evolution Soccer (PES)-reeks aangebring, en hul uitreiking vir 2019 is ’n reuseverbetering op hul vorige speletjies.