Die oorlog woed dag en nag met miljoene vegters wat mekaar die stryd aansê. Hulle bou skanse, val mekaar se vestings aan en maai mekaar voor die voet af. Klink dit soos ’n chaotiese, post-apokaliptiese nagmerriewêreld?

Wel, dit is – maar gelukkig speel die verwoesting en bloedvergieting net in die kuberwêreld af. Dis Fortnite, die nuutste en grootste videospeletjieverskynsel sedert die bekende Minecraft.

Met ’n verbysterende 40 miljoen mense wat elke maand inskakel om te speel, is sowat 125 miljoen mense al die afgelope jaar by dié oorlogspeletjie ingesuig.

Spelers speel in spanne en moet wapens soek en vestings bou. Die wenspan is die een wat dit regkry om elke enkele teenstander uit te wis. En dis nie net volwassenes wat ingesluk word nie; ook kinders raak byna verslaaf aan die Pixaragtige animasie en oorweldigende interaksie.

Foto: Gallo Images/Getty Images

Die speletjie kan boonop gratis op die meeste speletjiekonsoles, op rekenaars en sommige slimfone afgelaai word. Maar dit blyk nou die “pret” kan ook gevaarlik wees.

’n Negejarige meisie van Brittanje het so verslaaf geraak, sy het eerder aangehou speel en haar broekie natgemaak as om badkamer toe te gaan. Haar ouers, ene Richard en Carol, het geweet sy het Fortnite afgelaai, maar het eers in Maart kommerwekkende tekens begin bespeur.

Skermskote van Fortnite, die video­speletjie wat ’n manie by kinders geword het. Dit speel op aarde af nadat ’n storm die meeste van die bevolking uitgewis het. Spelers moet forte bou en wapens ver­samel om aan die lewe te bly.

“My man het haar lig in die nag sien brand en op haar afgekom waar sy op ’n urine-deurdrenkte kussing sit en speel,” het Carol aan The Sunday People gesê. “Haar agterstewe was rooi en rou.”

Ook haar skoolwerk het onder haar beheptheid met die speletjie gely. “Toe ons ons dogter vra wat die probleem is, het sy stryerig en aggressief geword, maar ons het dit bloot aan hormone toegeskryf.”

En toe begin hulle gereelde betalings aan Microsoft op hul kredietkaartrekening bespeur – minstens sowat R900 per maand. “Ons dogter het vir ons gesê dié koste is dalk ekstras waarvoor sy op Fortnite betaal het. Ons was woedend en het haar Xbox afgevat. Maar sy het wild tekere gegaan en my man in die gesig geslaan.”

Die egpaar het hul dogter in ’n kliniek vir rehabilitasie laat opneem en wil nou ander ouers waarsku “hoe Fortnite jong kinders insuig en lewens kan verwoes”.

Maar dit lyk nie of daar binnekort enige keer aan die Fortnite-opskudding sal wees nie – in Suid-Afrika begin dit soos ’n veldbrand versprei.

Maar wat presies behels die verslawende speletjie wat met ’n dwelmmiddel vergelyk word? En moet jy jou kinders toelaat om dit te speel of dit eerder verbied?

WAT IS FORTNITE?

Die skeppers, Epic Games, beskryf die speler-teen-speler (STS)-speletjie as ’n kombinasie van die gewilde 3D-blokboustrategiespel Minecraft en Left 4 Dead, waarin spelers zombieagtige wesens moet doodmaak nadat ’n dodelike virus uitgebreek het.

Fortnite vereis dat spelers ’n bietjie van albei in ’n helder, skerp en strokiesagtige wêreld doen. Die oorlewingspeletjie, wat in Junie 2017 uitgereik is, speel af op ’n aarde waar 98% van die bevolking in ’n hewige storm uitgewis is.

Die spelers moet vestings bou, wapens versamel en strikke stel om te oorleef. Spelers kan tussen enkel- en veelspelermodus kies en vier spelers kan saam in ’n span speel. Hulle moet dan regstreeks aan verskeie sendings saamwerk op kaarte wat lukraak gegenereer word.

’n Uitloperweergawe, Fortnite Battle Royale, is later uitgereik en het ’n verskynsel op sigself geword. In dié weergawe, wat jy gratis kan speel, word tot 100 spelers met valskerms uit ’n vliegtuig gegooi. Hulle land op ’n betrokke ligging met net ’n pik by hulle en moet dan wapens begin soek.

Bloed en derms is nie ter sprake soos in ander speletjies nie, maar dit vereis wel spelers moet hul teenstanders doodmaak. Jy kan dit op jou rekenaar, PlayStation 4, Xbox One en iOS (Apple)-slimfoon of -tablet kry, en dit sal na verwagting later vanjaar ook op Android beskikbaar wees.

Die speletjie kan gratis afgelaai word, maar jy moet betaal wanneer jy sy betaalmiddel, V-Bucks, koop. V-Bucks kan gebruik word om jou karakter met verskeie vreemde en wonderlike “velle” aan te trek.

Jy kan ook “Battle Passes” koop, wat ’n speler se vordering deur die vlakke van die speletjie versnel. Al het Fortnite ’n ouderdomsperk van 12, word die gebruiker se ouderdom nie tydens die aansluitingsproses gevra nie – al wat dié proses verg, is ’n e-posadres.

HOEKOM KAN SULKE SPELETJIES GEVAARLIK WEES?

Volgens ’n onlangse studie deur die Staatsuniversiteit van Kalifornië kan videospeletjies ’n kind se brein op dieselfde wyse as alkoholisme of dwelmmisbruik aantas. Pauline Mawson, ’n kliniese sielkundige van Boksburg, Johannesburg, beaam die studie se bevindings.

“Wanneer ’n kind videospeletjies speel, word die vier goedvoelhormone – endorfien, oksitosien, serotonien en dopamien – vanweë die opwinding vrygestel.”

Sy stem saam die bevrediging wat ’n verslaafde speler uit videospeletjies kry, kan vergelyk word met dit wat ’n dwelmslaaf of alkoholis ervaar. Die studie het ook getoon kinders loop ’n hoër risiko om verslaaf te raak omdat hul brein nog nie volkome ontwikkel is nie.

Foto: Gallo Images/Getty Images

Sharon Aitken, ’n kindersielkundige van Kaapstad, verduidelik die prefrontale korteks, oftewel die deel van die brein wat besluitneming en sosiale gedrag beheer, word eers tussen 23- en 25-jarige ouderdom ten volle ontwikkel.

’n Kind se beloning- of impulsstelsel ontwikkel ook vinniger as hul selfbeheerstelsel. ’n Kind van 13 kan dus al beloning op dieselfde manier as ’n volwassene nastreef, maar beskik nog nie oor dieselfde vlak van selfbeheersing nie; daarom is kinders meer geneig tot impulsiewe en riskante gedrag.

Waar volwassenes dus meestal vir hulself grense kan neerlê, kan kinders dit nie altyd doen nie.

WANNEER MOET JY BEKOMMERD RAAK?

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het in Januarie vanjaar speletjiesteuring amptelik as ’n geestesgesondheidstoestand geklassifiseer.

Volgens die WGO word ’n speletjiesteuring “gekenmerk deur belemmerde beheer oor die speel van speletjies” – dit beteken mense met die steuring plaas hul speletjiegewoonte bo enigiets anders ondanks die negatiewe gevolge wat dit vir hulle inhou. Wat is die gevaarligte?

Pauline stel voor ouers wie se kinders pal sulke speletjies speel, moet dit oorweeg om in te gryp as hul kinders:

  • Vreemde gedrag toon wat nie met die kind se karakter strook nie;
  • Geïrriteerd raak as hulle nie toegang tot die speletjies het nie;
  • Jok of steel om toegang tot die speletjies te kry; of
  • Geheimsinnig raak en probeer wegsteek hoe dikwels en wanneer hulle die speletjies speel.

    Dis belangrik om grense vir jou kind te stel, sê sy, maar dit moet van kind tot kind verskil.

    “Beperkings bevorder verantwoordelike spelery, maar dit sal van die kind en hul roetine afhang. Ek sou voorstel nie meer as ’n halfuur op weeksdae nie en net twee uur oor die naweek.”

    IS DAAR ENIGE VOORDELE?

    In ’n opname deur ’n Britse televisiekanaal vroeër vanjaar is bevind sulke speletjies hou tog sosiale voordele in.

    Altesaam 55% van die 1 000 spelers tussen 18 en 30 wat ondervra is, het gesê hulle speel omdat dit stres help verlig. Sowat 47% van die spelers het gesê sulke speletjies het ’n positiewe uitwerking, want dit help hulle om ’n optimistieser uitkyk op hul regte lewe te ontwikkel.

    Sowat 60% van die spelers beskou speletjies as ’n belangrike element in hul sosiale lewe.

    In die ondersoek is bevind die deursneespeler het minstens drie vriende deur speletjies gemaak. Sowat 60% van die spelers beskou speletjies as ’n belangrike element in hul sosiale lewe.

    Pauline meen dit kan kinders wat aan depressie en sosiale angs ly, help om vriendskappe en sosiale vaardighede te ontwikkel.

    “Dit kan ook spesiale belangstellings vir ’n kind ontwikkel, wat tot ’n moontlike loopbaan of ander stokperdjies kan lei.”

    BRONNE: MIRROR.CO.UK, DAILYMAIL.CO.UK, YOUTUBE.COM, WIKIPEDIA.ORG, THESUN.CO.UK, INDEPENDENT.CO.UK, WHO.INT; FOTO'S: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, © IAKOV FILIMONOV | DREAMSTIME.COM, SCREENGRABS