VIERLETTERWOORD

Mike is aan die bykom ná ’n operasie. ’n Verpleegster vra hom hoe hy voel.

“Ek is oukei, maar ek het nie gehou van die vierletterwoord wat die dokter in die teater gebruik het nie,” antwoord Mike.

“Wat het hy gesê?” vra sy.

“Hy’t gesê: ‘Oeps!’ ”

  • Lita Schoon

VET VERSKONING

Ek het onlangs die dokter vir my jaarlikse ondersoek besoek. Hy sê die skuld vir my oor­gewig is te veel drank en sjokolade en te min oefening.

Ek is nogal verlig, want ek was bang dis dalk my eie skuld.

  • Bredell Viljoen

DIE GOEIE OU DAE

Die man sê aan sy vrou: “Toe ons 30 jaar gelede getroud is, het ons in ’n klein woonstelletjie gebly en met ’n goedkoop kar gery.

Ons het op ’n bedbank geslaap en ’n swart-wit TV-stel gehad, maar ek het elke aand by ’n warm blondine geslaap.

“Nou het ons ’n mooi huis, ’n duur motor en ’n platskerm-kleur-TV, maar ek slaap by ’n vrou van 55 wat glad nie warmbloedig is nie.”

Die vrou bly eers stil voor sy antwoord: “Nou goed, gaan kry weer vir jou ’n warmbloedige blonde vrou, maar ek sal sorg dat jy dan weer in ’n klein woonstelletjie bly, weer op ’n bedbank slaap en weer televisie kyk op ’n swart-wit TV-stel.”

  • Adri, Pretoria

EERLIKE EVA

Een oggend aan die ontbyttafel vra ’n vrou haar man of hy haar asseblief R500 sal gee, want sy wil winkel toe gaan.

“Geld, geld, al wat jy wil hê, is geld,” sê hy vies. “Ek sou sê jy het verstand pleks van geld nodig.”

“Dit kan waar wees,” antwoord sy liefies.

“Maar ek het gedink ek vra jou maar dit waarvan jy die meeste het.”

  • Leon Kruger

GELUKKIGE EINDE

Ek het op Facebook aangekondig ek gaan my rekening sluit. En ek kry toe die eerste keer 200 likes! 

  • Denise, Pretoria

LAASTE LAG

Navorsing het getoon as jy vir jou eie foute lag, kan dit jou lewe aansienlik verleng. Maar as jy vir jou vrou se foute lag, kan dit jou lewe aansienlik verkort.

  • Bredell Viljoen

EINA!

Hy: “Haai, het ons nie al ’n slag of twee met mekaar uitgegaan nie?”

Sy: “Dit moes sekerlik net een keer gewees het. Ek maak nooit dieselfde fout twee keer nie.”

  • Lita Schoon

GOEIE AANBOD

Albert en sy vrou, Sara, is op reis in Israel. Op ’n mark probeer ’n Arabiese smous allerhande snuisterye aan hulle verkoop, maar sonder sukses. “En van waar kom julle?” vra hy later.

“Suid-Afrika,” antwoord Albert.

Die smous kyk na Sara met haar blonde hare en blou oë en vra: “Is dit jou man?”

“Ja,” antwoord sy.

Die Arabier draai na Albert en sê: “Ek gee jou 100 kamele vir jou vrou.”

Albert lyk oorbluf en bly lank stil. Eindelik antwoord hy: “Sy is nie te koop nie.”

Toe die smous weg is, vra Sara vies vir Albert: “Hoekom het jy so lank geneem om die man te antwoord?”

“O,” verduidelik hy, “ek het eers aan ’n manier probeer dink om 100 kamele huis toe te neem.”

  • Louise Noeth
Kontak ons

Stuur gerus oorspronklike grappies; jy kry R50 vir elkeen wat ons gebruik.

Skryf aan Huisgenotjies, Posbus 1802, Kaapstad 8000 of grappies@huisgenoot.com en verstrek jou naam, adres, identiteitsnommer en bank besonderhede (bank, taknaam, -kode en rekeningnommer).