ONVERGEEFLIK

Vroue sal 100 keer teruggaan na die ou wat hul hart gebreek het, maar nooit na ’n vrou wat net een keer hul naels opgemors het nie.

– Leon Kruger

WAARDEVOLLE TJOR

V: Al ooit gewonder hoe jy jou motor se waarde gou kan verhoog?

A: Maak net die tenk vol petrol.

– Leigh, Johannesburg

WELKOM, MA!

Toe my skoonma kom kuier, sê ek ewe gasvry vir haar my huis is ook haar huis.

Toe sê sy: “Maak dat jy wegkom van my eiendom!”

– Denise, Pretoria

SENUBOL

V: Wat is ’n senuwrak?

A: ’n Man met ’n huis, ’n motor, ’n vrou en ’n skelmpie – en almal is ’n maand laat.

– L. Saayman, Sabie

VERKEERDE NAAM

As jou naam Jack is, sal jy nooit ’n werk as vlieënier kry nie.

Want elke keer wanneer jy in die vliegtuig instap en jou medevlieënier groet jou met “Haai, Jack”, sal almal gil.

– Lita Schoon

GOEIE VOORBEELD

Onderwyser: “Noem ’n voorbeeld van ’n bedrogspul.”

Kosie: “Dis wanneer my ma sê: ‘As jy die waarheid vertel, sal ek nie kwaad word nie.’ ”

– Leon Kruger

VREKSUINIG

Hy is so suinig, hy kou drie dae aan sy steak.

– Matewis, Garies

SKRALE HOOP

Ek is so platsak, ek sit saans my valstande in my skoen onder die bed in die hoop dat die tandemuis vir my ’n ou geldjie sal bring.

– Leigh, Johannesburg

DOEDOE, BABA

’n Pa met ’n hart vol liefde maar weinig sang­talent het elke aand met slaaptyd vir sy twee kinders wiegeliedjies gesing. Tot hy gehoor het die oudste een sê vir die jongste een: “As jy maak asof jy slaap, sal hy ophou sing.”

– Louise Noeth

POTJIEROL

V: Wat is ’n wrede ontnugtering?

A: Dis wanneer jy 10 kg aansit vir ’n rol en dan onthou jy’s nie ’n akteur nie.

– Leon Kruger

SLEGSTE DANSMAAT

V: Hoekom is honde nie goeie dansers nie?

A: Want hulle het twee linkervoete.

– F.H. Horne, Hartenbos

GEEN GRAP

Humor is altyd op die waarheid gegrond. Het jy al ooit ’n grap oor ’n skoonpa gehoor?

– Denise, Pretoria

SLIM PLAN

Twee ou tannies sit teenoor mekaar en kla oor hul mans se irriterende gewoontes.

“My man het die vieslike gewoonte om heeldag sy naels te byt; hy kou tot amper niks oor is nie. Maar ek het darem nou ’n stokkie daarvoor gesteek,” vertel die een.

“Wat het jy gedoen?” vra die ander een.

“Ek het net sy tande weggesteek. Nou moet jy sien hoe groei daardie naels.”

– Leigh, Johannesburg

ALTE PERSOONLIK

Ek het nooit geweet waarom die banke dit “persoonlike lenings” noem nie tot ek self een aangegaan en met die paaiemente agtergeraak het.

En hét hulle toe persoonlik geraak!

– Helena, Kempton Park

LELIK MISGIS

V: Hoekom snuif die blondine Canderel?

A: Sy dink dis Coke Lite.

– Janette D, Roodepoort

VERMIS

’n Vrou bel die polisie en kla: “My man is twee dae gelede weg om aartappels by die kafee te gaan koop en hy is nou nog nie terug nie.

”Ná ’n lang stilte antwoord die polisievrou: “Sjoe, mevrou, kan jy nie maar iets anders kook nie?”

– EJR, Monte Vista  

KLEINE ONSKULD

Saartjie was vier jaar oud toe sy en haar ma eendag ’n bejaarde vrou met taamlik baie plooie raakloop.

Saartjie het ’n rukkie na haar staan en kyk en vra toe: “Hoekom pas jou vel nie oor jou gesig nie?”

– Wollie, Pretoria

SPYSKAART

Vrou: “Wil jy iets eet?”

Man: “Wat is die opsies?”

Vrou: “Ja of nee.”

– F.H. Horne, Hartenbos

G’N KANS

Vrou: “Ek het nie van jou nuwe sekretaresse gehou nie, toe ontslaan ek haar.

”Man: “Sonder om haar ’n kans te gee?”

Vrou: “Nee, sonder om jou ’n kans te gee.”

– Helena, Kempton Park