GEWILDE SPEL

Mans bo 40 speel alte graag jukskei. Eers juk hulle, dan skei hulle. Denise, Pretoria NEEWOORD Ek het my eksvrou weer om haar hand gevra, maar sy het nee gesê. Sy vermoed ek is net agter my geld aan.

– Wollie, Pretoria

REGTE NAAM

’n Reeksmoordenaar ontvoer ’n egpaar en sê vir die vrou: “Ek hou daarvan om te weet wat my slagoffers se name is. Wat’s jou naam?” Bang antwoord sy: “Elizabeth.” “Ek sal jou nie doodmaak nie,’’ sê die moordenaar, “want my ma se naam was ook Elizabeth.” Toe draai hy na die man en vra sy naam. Benoud antwoord die man: “My naam is Peet, maar my vriende noem my Elizabeth!”

– Helena, Kempton park

SESDE SINTUIG

V: Wat is die definisie van vroulike intuïsie?

A: Die vermoë van ’n vrou om haar man te weerspreek nog voor hy iets gesê het.

– Igmanuel Bence

MOEILIKE SOM

Juffrou: “Jannie, as jy 357 met 876 vermenigvuldig en jy deel daarna die antwoord deur 34, wat kry jy?” Jannie: “Die verkeerde antwoord, juffrou.”

– L. Saayman, Sabie

KAT-ASTROFE

Die voordeurklokkie lui en Johanna maak die deur oop. Voor die deur staan ’n man met ’n ernstige uitdrukking op sy gesig.

“Ek is jammer, ek het pas met my motor oor jou kat gery,” sê hy. “Ek sal graag jou kat wil vervang.” “Dis reg met my,” sê Johanna, “maar hoe goed is jy met muise vang?”

– Grapjas

DOL DEFINISIE

V: Wat is ’n tsoenami?

A: Dis nie wanneer jy see toe gaan nie, maar wanneer die see na jou toe kom.

– Hennie van Zyl

GEVAARLIKE OPERASIE

Ná ’n operasie kom ’n politikus in die hospitaal by en sien die gordyne om sy bed is toegetrek. “Hoekom is die gordyne toe?” vra hy.

“Is dit dan al nag?” “Nee,” antwoord die verpleegster, “maar daar is ’n brand in die gebou oorkant die straat en ons wou nie hê jy moet wakker word en dink die operasie het misluk nie.”

– Louise Noeth

OORLOGSHELD

Vandag sou my oupagrootjie se verjaardag gewees het. Hy was ’n stryder in die Boereoorlog. Ek is baie trots op hom. Hy het man alleen, sonder om aan sy eie veiligheid te dink, die kommunikasiestelsel van die Engelse vernietig. Hy het twee van hul posduiwe opgeëet.

– Wollie, Pretoria

ERFPORSIE

Piet loop Koos raak en sien hy lyk bekaf. “Wat makeer?” vra Piet.

“My oom is drie weke gelede oorlede en hy het vir my R10 000 nagelaat,” begin Koos vertel. “Ek is jammer om van sy dood te hoor, maar die erfporsie is darem ’n troos,” sê Piet.

“Ja, en twee weke gelede is ’n neef van my oorlede en by hom het ek R25 000 geërf,’’ vertel Koos verder.

“Dit klink of jy moet dankbaar wees,” sê Piet. “Dis nie al nie,” sê Koos. “Verlede week is my tante ook dood, en sy’t vir my R100 000 gelos.” “Nou hoekom is jy dan so hartseer?’’ vra Piet.

Waarop Koos antwoord: “Want hierdie week . . . nog niks!’’

–  F.H. Horne, Hartenbos

TANT ES

Jannie: “Ma, hoekom is pa die afgelope ruk so kwaad vir tannie Es? Is dit omdat sy so baie toer?”

Ma: “Van watter toere praat jy? En hoekom sê jy hy’s kwaad vir haar?

Jannie: “Hy skree dan elke aand hoe sleg sy is. Hy het gisteraand weer gesê: “Eskom en Esgaan en ons moet net betaal!”

–  Linda, Johannesburg 

DIS TABOE!

Daar is drie dinge wat jy nie moet waag om by die kerk te doen nie: 

  • Moenie ’n diaken kleingeld vra vir R20 nie.
  • Moenie ’n kerkraadsvergadering hou op dieselfde dag dat ’n rugbytoets gespeel word nie.
  • Moenie vir die dominee sê sy preek het soveel vir jou beteken dat jy dit oorweeg om volgende Paasfees weer kerk toe te kom nie.

–  Louise Noeth

O, DIE ONGEDULD

Ek haat dit as ek vir iemand sê ek is binne vyf minute daar, en dan bel hulle my elke halfuur.

–  Denise, Pretoria

LANG VINGERS

Koos word in die hof van diefstal aangekla.

Landdros: “Wat het jy gesteel?”

Koos: “ ’n Wekkertjie, edelagbare.”

Landdros (verbaas): “ ’n Wekkertjie?”

Koos: “Ja, ’n wekkertjie.”

Landdros: “En wat was die waarde daarvan?”

Koos: “Sowat R16 000, edelagbare.”

Landdros: “Goeie genade! Watter soort wekkertjie is soveel werd?”

Koos: “ ’n Kragopwekkertjie.”

–  Gielie Claassen, Potchefstroom

BONTSPUL

Piet kan nie sy oë glo toe hy ’n taxi sien wat aan die een kant rooi en aan die ander kant blou geverf is nie. Hy stap nader en vra die bestuurder hoekom hy op dié vreemde kleurskema besluit het.

“Dink net hoe deurmekaar die ooggetuies gaan praat as ek ’n ongeluk maak,’’ lag hy.

–  F.H. Horne, Hartenbos

BEKDRYWER

“Wie het bestuur?” vra die gasheer toe die gaste ná ’n lang rit opdaag.

“Wel,” antwoord die man, ”ek het halfpad bestuur en my vrou heelpad.’’

–  M.J. Bartlett, Vrede

NET BETYDS

Die beste ding van ouer as 40 wees is dat ons nog voor die internet al die dom dinge in ons lewe klaar gedoen het. Nou is daar geen aanlyn bewyse nie . . .

–  Denise, Pretoria

NUTTELOSE ARBEID

Volgende keer wanneer jy voel jou werk is sinneloos, dink net, iewers installeer iemand in ’n motorfabriek flikkerligte in taxi’s.

–  Linda, Johannesburg

WANDELENDE GERAAS

V: Hoekom stap doedelsakspelers aan terwyl hulle speel?

A: Want hulle probeer van die lawaai wegkom.

–  L. Saayman, Sabie

NUWE NAAM

By die veearts gesels twee vroue oor hul honde. “Wat is jou hond se naam?” vra die een.

“Ons het haar nog altyd Varktjop genoem, maar nadat ons die veearts se rekening gekry het, het ons dit verander na Filet mignon.

–  Louise Noeth

SKERMMAATS

Om met iemand uit te gaan is soos boks: Jy kan dit net met iemand in dieselfde gewigsafdeling doen.

–  Denise, Pretoria

SING-SING

’n Dronk ou hang aan ’n paal voor ’n bioskoop. Toe die mense uitkom, roep hy met ’n sleeptong: “Sing, julle blikskottels, sing . . .”

Maar niemand steur hulle aan hom nie; tog hou die dronkaard aan met: “Sing, julle blikskottels, sing.“ Een ou vererg hom, stap na die lastige vent toe, gryp hom voor die bors en sê: “Ek is nie ’n blikskottel nie, gehoor?”

Toe glimlag die dronkaard ewe vriendelik en sê: “Dan hoef jy nie te sing nie!”

–  Leon Kruger

TERGGEES

Sannie: “Hoekom trek jy my siel so uit?

Kosie: “Omdat ek dit nie kan regkry om jou liggaam uit te trek nie.”

–  F.H. Horne, Hartenbos

SLEGTE IDEE

Gee ’n man ’n vis en jy voed hom vir die dag. Leer ’n man om vis te vang en hy sal ’n fortuin bestee aan hengelgerei wat hy net twee keer per jaar sal gebruik.

–  Wollie, Pretoria

BREINKOS

’n Gereelde klant van Kallie Se Kruideniersware is vreeslik beïndruk met Kallie se vindingrykheid en intelligensie.

Op ’n dag vra die klant toe: “Hoe het jy so slim geword, Kallie?”

“Dis eintlik ’n geheim,” antwoord Kallie, “maar jy is ’n goeie klant; dus sal ek my geheim met jou deel. Dis viskoppe. As jy genoeg daarvan eet, word jy briljant.”

“Regtig? Verkoop jy dit hier?”

“Ja, teen net R5 per kop.”

Die klant koop drie viskoppe. ’n Week later is hy terug en kla dat die viskoppe hom nie slimmer gemaak het nie. “Dan het jy nie genoeg daarvan geëet nie,” sê Kallie.

Die klant koop nog 20 viskoppe. Twee weke later is hy terug, verskriklik ontstoke. “Kallie,” sê die klant, “jy verkoop 20 vis- koppe aan my teen R5 elk terwyl ek teen daardie bedrag eintlik ’n hele vis kan koop. Jy verneuk my!”

“Sien jy nou?” sê Kallie, “jy is klaar baie slimmer.”

–  Louise Noeth

LELIK MISGIS

Gehoor van die kannibaal wat vir sy vrou die nuutste uitgawe van die tydskrif People gekoop het?

Hy het gedink dis ’n kookboek.

–  Denise, Pretoria

BEKRUIPER

Ek is bevrees my buurvrou bekruip my; sy het laas nag my naam op haar rekenaar gegoogle. Ek weet, want ek kon dit duidelik deur my verkyker sien.

–  Wollie, Pretoria

GOEIE PASMAATS

Parallelle lyne het so baie gemeen, dis werklik ’n jammerte dat hulle mekaar nooit sal ontmoet nie.

–  Wollie, Pretoria

HOENDER OF EIER?

Gehoor van die man wat ’n gekookte eier in die restaurant bestel het en toe ontdek het die eier is bebroeid? Sy vrou sê toe hy moet gou die eier eet, anders sal hulle hom vir die hele hoender laat betaal.

–  Leon Kruger

BAIE OUD

Sensusopnemer: “Hoe oud is u, mevrou?”

Tannie: “Het die Bergsusters hier langsaan hul ouderdom verstrek?”

Sensusopnemer: “Nee.”

Tannie: “Wel, ek is net so oud soos hulle.” Sensusopnemer: “Goed, dan teken ek maar so aan: So oud soos die berge.”

–  Helena, Kempton park

LAASTE HAPPIE

Ou Jan lê op sy sterfbed toe hy die heerlike geur van varsgebakte koeksisters uit die kombuis kry. Met sy laaste krag kom hy orent en sukkel aan kombuis toe. Maar net toe hy sy hand uitsteek om een te neem, klap sy vrou dit weg.

“Los, Jan!’’ skree sy. “Hulle is vir jou begrafnis!’’

–  Gielie Claassen, Potchefstroom

STRENG DIEET

V: Wat kan ek saans voor die TV eet wat my nie vet sal maak nie?

A: Jou vingernaels.

–  Wollie, Pretoria

VINNIGE VLUG

’n Blonde sekretaresse bel die lughawe namens haar werkgewer om vas te stel hoe lank ’n vlug van Johannesburg na Kaapstad sal duur.

Op daardie oomblik is dit druk besig in die kantoor en die personeellid van die lugdiens vra hoflik: “Net ’n minuut, dame . . .’’

“Baie dankie,” sê die blondine en sit die foon neer.

–  M.J. Bartlett, Vrede

OU SOLDAAT

Het jy al die Engelse gesegde gehoor dat ou soldate nooit doodgaan nie, maar net wegkwyn?

Wel, as jy wonder of dié uitdrukking waar is, probeer ’n slag jou ou weermaguniform aantrek . . .

–  Helena, Kemptonpark

BLOUTJIE GELOOP

Koos lê in ’n restaurant by ’n beeldskone meisie aan en vra of hy haar nie asseblief beter kan leer ken nie. “Nee, ’n swaan kan hoegenaamd nie vriende wees met ’n vark nie,’’ antwoord sy uit die hoogte.

Koos is glad nie op sy mond geval nie en antwoord: “Nou goed, dan vlieg ek maar eers verder.’’

–  F.H. Horne, Pretoria

TREINREIS

Kondukteur: “Jy sal asseblief vir jou seun ’n kaartjie moet koop, mevrou, want hy is ouer as 12.”

Blonde ma: “Hoe kan hy 12 jaar oud wees as ek nog net 10 jaar getroud is?”

Kondukteur: “Mevrou, ek samel reisgeld in; nie bekentenisse nie.”

–  Helena, Kempton park

Stuur gerus oorspronklike grappies
  • Jy kry R50 vir elkeen wat ons gebruik.
  • Skryf aan Huisgenotjies,  Posbus 1802, Kaapstad 8000 of grappies@huisgenoot.com en verstrek jou naam, adres, identiteitsnommer en bankbesonderhede (bank, taknaam, takkode en rekeningnommer).