INNIGE WENS

My eksvrou het nou net vir my ’n WhatsApp gestuur: “Wens jy was hier.”

Sy doen dit elke keer wanneer sy deur die begraafplaas loop.

– Wollie, Pretoria

OU KASTEEL

’n Amerikaanse miljoenêr hou in Italië vakansie. Toe hy ’n kasteel teen ’n heuwelhang sien, kry hy lus om dit te koop. Nadat hy die plek bekyk het, vra hy vir die gryskopman wat daar woon: “Spook dit hier?”

“Glad nie,” antwoord hy.

“Ek woon seker al 300 jaar hier en het nog nooit ’n spook gewaar nie.”

– C. Mertz, Potchefstroom

UITGEDOOF

Wat is fase 10-beurtkrag? 

Dit is wanneer Eskom jou man wegneem omdat jy gesê het hy’s die lig in jou lewe. 

– L. Saayman, Sabie

MEESTERSTUK

Jong skilder (ingenome): “Dis my beste werk nóg. Ek sal nooit iets beters kan lewer nie.

”Ou kritikus (goedig): “Ag nee wat, moenie so gou mismoedig raak nie.”

– Leon Kruger

BLONDE PASIËNT

Die blondine gaan dokter toe.

 “Dokter, ek het ’n verskriklike pyn in my lewer,” kla sy.

“Hoe weet jy dis jou lewer?” vra die dokter.Die blondine raak skoon verbouereerd.

 Toe vra sy: “Maar as dit nie myne is nie, wie s’n kan dit dan wees?’’ 

– M.J. Bartlett, Vrede

RAMMELKAS

Hulle sê al die onderdele van ’n nuwe Chinese motor raas; dis natuurlik alles behalwe die toeter.

– Helena, Kempton Park

DOLGELUKKIG

V: Wat is geluk?

A: Dit is om ’n groot, uitgebreide familie te hê . . . wat almal in ’n ander provinsie woon.

– F.H. Horne, Hartenbos

OP DIE DANSBAAN

Terwyl hulle op die maat van ’n liefdesliedjie dans, sê die man ewe romanties vir sy metgesel: “Voor ek jou ontmoet het, was my lewe soos ’n woestyn.”

“O,” antwoord sy, “dan is dit hoekom jy soos ’n kameel dans.”

– J.L., Montana

VAN NUUSKIERIGHEID . . .

Die onderwyser gee ’n les oor ontdekkings en beklemtoon hoe belangrik dit vir die mensdom is om nuuskierig te wees.

“Waar sou ons vandag gewees het as niemand ooit nuuskierig was nie?” vra hy.

“Dalk nog in die Tuin van Eden?” merk ’n slimjan op.

– Louise Noeth

VREEMDE PASSASIER

 Die dokter trek na ’n groter spreekkamer en ry sommer die goed met sy bakkie aan. 

Die laaste ding wat oorbly, is ’n geraamte wat hy altyd gebruik om vir sy pasiënte te verduidelik wat die oorsaak van hul skete is. 

Hy vra toe vir sy ontvangsdame om die geraamte in haar motor te vervoer sodat dit nie in die trek beskadig word nie. 

Sy drapeer dit mooi oor die passasiersitplek en maak dit met die veiligheidsgordel vas.By die eerste verkeerslig hou ’n ou langs haar stil.

Hy sit die storie so en bekyk en draai toe sy motorruit af.

“Verskoon my, waarheen neem jy die geraamte?” vra hy.

“Ons is op pad dokter toe,” antwoord sy.

Toe vra die ou: “Dink jy nie dis ’n bietjie te laat nie?”

– Igmanuel Bence

Stuur gerus jou oorspronklike grappies
  • Jy kry R50 vir elkeen wat ons gebruik. 
  • Skryf aan Huisgenotjies, Posbus 1802, Kaapstad 8000 of grappies@huisgenoot.com en verstrek jou naam, adres, identiteitsnommer en bank­besonderhede (bank, taknaam, takkode en rekeningnommer).