GOEIE VRAAG

Dis vir my altyd so oulik wanneer ’n huisvrou vir die groentesmous vra: “Is die groente vars?” 

Ek wag nog vir die smous wat gaan sê: “Nee, dit is nie.”

Leon Kruger

STADIGE VORDERING

Wetenskaplikes in Kanada werk glo daaraan om die wêreld se eerste bier van dagga te brou.

Die geleerdes sê hulle werk baie hard daaraan – elke dag van die oggend tot die middel van die oggend.   

Denise, Pretoria

SKRALE TROOS

Die oorgewig Sarie staan op die skaal en huil oor haar gewig.

“Ag toemaar, skattie,” probeer haar man haar troos, “dit is seker maar net iets wat jy geëet het. . .”

Louise Noeth

VOETSLAAN

“Dit spyt my dat ek laat is, meneer, maar ek het motormoeilikheid gehad.”

“Ek het nie geweet jy het ’n motor nie.”

“Ek het nie; dit is juis die moeilikheid.”

Helena, Kempton Park

NUWE SÊDING

Voltooi: As die muis dik is . . . . . . gaan die kat ook binnekort dik wees.

Lesna Saayman, Sabie

OP REIS

As wat staan James Bond bekend wanneer hy hom buite Brittanje bevind? Dan is hy +44 07.

Chanelle Snyman

EWIGE JEUG

Ouer mense behoort nie gesondheidskos te eet nie. Hulle moet al die preserveermiddels inkry wat hulle kan. 

Denise, Pretoria

REGTE BESKRYWING

Regter: “Jy het jou skuldig gemaak aan kwaadwillige verlating van jou vrou.”

Man: “Edelagbare, as u haar so goed ken soos ek haar ken, sou u dit eerder as verstandige ontvlugting beskou het.”

Janette D, Roodepoort

VIR DIE KLEINSPAN

V: Wat begin met ’n t, eindig met ’n t en is vol t? A: ’n Teepot.

Lesna Saayman, Sabie

SPAARPLAN

Piet: “Ek sit my geld altyd onder my matras.”

Dawid: “Nou waarom?” Piet: “Sodat ek iets het om op terug te val.”

Helena, Kempton park

DWALENDE OOG

’n Vrou kla by haar man: “Ek hou niks daarvan dat jy na elke mooi vrou kyk wat in die straat by ons verbyloop nie.”

“Maar, skat, hoekom sal ek na vroue op straat staar as ek by die huis na al die vroulike skoonheid kan kyk wat ’n man se hart maar kan begeer…” begin haar man.

Net toe die vrou, baie gevlei, begin glimlag, voeg hy by: “. . . op die internet.”

Louise Noeth

GROOT VERSKIL

Wat is die verskil tussen die Mafia en die regering? Een van hulle is goed georganiseerd.

Janette D, Roodepoort

DOODSIEK

Pasiënt: “Dokter, ek voel soos ’n hond.” Dokter: “Sit!”

C. Mertz, Potchefstroom

WRAK OP WIELE

Die verkeerskonstabel keer vir Doors voor in sy ou tjor wat in ’n treurige toestand is.

“Noem jy hierdie wrak ’n motor?” vra hy vies.

“Nog nooit!” antwoord Doors.

“Anders sou ek lankal vir hom ’n lisensie gekoop het.”

Lita Schoon

GEKAAP

Die staatskapers het ons darem een ding geleer: Waar daar ’n wil is, is daar ’n omweg.

Anton van Rensburg

VERSLANKINGSPLAN

Ek het ’n wonderlike nuwe dieetplan: Ek bak kolwyntjies en gee hulle vir al my vriendinne.Hoe vetter hulle dan word, hoe maerder lyk ek.

Lesna Saayman, Sabie

KITSKUUR

As jy ooit eensaam voel, kyk laataand ’n riller alleen in die donker. Dan sal jy gou nie meer so alleen voel nie . . .

Leon Kruger

SPROKIE

Eendag lank, lank gelede was daar ’n goeie skoonma. Maar dit was net vir één dag – en dit was baie lank gelede . . .

“Ek sou sê wees net jouself, Nols, maar ek wil nie lelik wees nie.”

Christa Rossouw, Bloemfontein

VOLLE VERHAAL

“Pappa, waar kom ek vandaan?’’ vra Jannie.

Die pa staal hom vir die ongemaklike gesprek. Maar hy val weg en vertel vir Jannie alles wat hy moet in volle besonderhede. Die outjie sit grootoog en luister.

Toe die pa klaar is, vra hy: “Verstaan jy nou waar jy vandaan kom?’’

Jannie knik en sê: “Dis ’n baie beter storie as Willie s’n. Hy sê hy kom van Bloemfontein.”

F.H. Horne, Hartenbos

DOL DEFINISIES

Wat is:

  • ’n Wonderkind? Dit is die soort kind wat jou laat wonder wanneer sy ouma gaan ophou om met die bloedjie te spog.
  • Kollegas? Dit is die ouens wat bankvas agter jou sal staan, veral as jy ’n selfie wil neem van jou en die president.
  • ’n Ware vriend? Iemand wat alles van jou weet, maar tog nog van jou hou.
  • Wetenskaplikes? Dis die ouens wat by ’n stoomenjin begin het en op die ou end by ’n atoombom uitgekom het.
  • ’n Geskiedkundige? Dis die ou wat al die dinge opteken wat ons liewer nooit moes gedoen het nie.

Anton van Rensburg

SAKEPLAN

Ek het pas my posduif vir die 22ste keer op eBay verkoop.

Leon Kruger

GRAPMAKER

Piet vra sy vrou waarom sy met hom getrou het.

“Omdat jy so ’n goeie humorsin het,’’ antwoord sy.

“O, ek het gedink dis omdat ek so ’n romantiese man is,’’ protesteer hy.

“Sien jy?” lag sy. “Jy’s skreeusnaaks!”

F.H. Horne, Hartenbos

RAAISEL

’n Blondine gaan bioskoop toe. Toe sy instap en ’n groot bruin beer met ’n boks springmielies in die voorste ry sien sit, is sy baie verbaas.

“Haai,’’ fluister sy, “waar kry jy die springmielies? Ek dog dan die masjien wat dit maak, is stukkend . . .’’

Christa Rossouw, Bloemfontein

Stuur gerus oorspronklike grappies
  • Jy kry R50 vir elkeen wat ons gebruik. 
  • Skryf aan Huisgenotjies, Posbus 1802, Kaapstad 8000 of grappies@huisgenoot.com en verstrek jou naam, adres, identiteitsnommer en bank­besonderhede (bank, taknaam, takkode en rekeningnommer).