ENJIN MET WOEMA

Die juffrou gee ’n opdrag aan haar gr. 3-klas: “Maak ’n sin met die word ‘enjin’. ”

Toe skryf een: “My ma hou van wyn enjin.” 

– Bredell Viljoen

IDEALE VROU

’n Baie bekommerde kleinseun besoek sy wewenaar-oupa in die ouetehuis nadat hy gehoor het die ou man wil weer trou.

“Is sy darem mooi?” vra hy oor sy oupa se aanstaande.

“Nee, nie juis nie,” antwoord die oupa.

“Is sy nog jonk, oupa?” wil die kleinseun toe weet.

“Nee, sy’s amper so oud soos ek.”

“Het sy geld, oupa?”

“Baie minder as ek.”

“Nou hoekom wil oupa dan met haar trou?” vra die kleinseun verbaas.

“Want sy is ’n afgetrede verpleegster en sy kan nog motor bestuur.”

– E. Moelich

REGTE ERFGENAAM

Het jy gehoor van die man met die sterk geloof in reïnkarnasie? In sy testament het hy ­alles aan homself bemaak.  

– San Marchand 

KYKGENOT

Ek het ’n vistenk gekoop. Nou het my kat ’n TV.

– L. Saayman, Sabie

ONSIGBAAR

Ek was vandag by die sielkundige se spreekkamer. Ek sê toe: “Ek dink ek is onsigbaar.”En die ontvangsdame antwoord: “Die sielkundige kan jou nie nou sien nie.”

– Wollie, Pretoria

BEDROEFDE WEDUWEE

“Moenie met my oor prokureurs praat nie!” sê ’n ontstoke weduwee aan haar vriendin.“Ek het soveel probleme met my oorlede man se testament gehad dat ek partykeer gewens het hy het nie doodgegaan nie.”

– San Marchand 

BESIGE AAND

Die pierewaaier vra die oggend ná ’n partytjie vir ’n mooi meisie: “Sê my, was dit vir jou wat ek gisteraand by die swembad gesoen het?”Sy vra: “Omtrent hoe laat was dit?”

– Kasoepie

BANG JAN

Toe die skote om hom klap en die bomme ontplof, word die soldaat bang en sluip stilletjies van die geveg weg.Later loop hy hom in die donker teen iemand vas. “Wie’s jy?” fluister die soldaat.“Staan op aandag wanneer jy met my praat! Ek is die generaal,” bulder ’n stem.“Jammer, generaal,’’ sê die soldaat. “Ek het nie besef ek is al so ver van die slagveld nie.”

– Helena, Kempton Park

WENPLAN

Tydens die resessie loof een van die direk­teure ’n prys van R500 uit vir die werknemer wat die beste plan kan uitdink om die firma van ondergang te red. Die wenner was ’n junior vennoot. Hy’t voorgestel hulle verminder die prysgeld tot R100.

– Lita Schoon

RYLES

’n Vrou besluit op ’n gevorderde ouderdom om te leer bestuur. Tydens haar eerste bestuursles probeer die instrukteur geduldig bly. Maar later waarsku hy: “As jy teen dié spoed bly ry, gaan jy ’n boete vir dubbelparkering kry.” 

– Denise, Pretoria

NATUURRAMP

Uittreksel uit ’n kind se opstel oor besoedeling in die see: “Gister het my ma ’n blikkie ­sardientjies oopgemaak. Die blikkie was vol olie, en die vissies was almal dood.”

– Helena, Kempton Park

SEEVAKANSIE

V: Wat het Mike gedoen toe die dokter sê sy vrou moet ’n bietjie seelug kry? 

A: Hy het ’n bokkom voor die venster gehang. 

– Denise, Pretoria

GEVAARLIKE BRAK

V: Wat sê hulle van die hond wat knoffel eet? 

A: Sy blaf is erger as sy byt.

– L.M., Kroonstad