UITGEVANG

Die baas raas met Koos omdat hy nie die vorige dag kom werk het nie.

“Ek weet jy was nie gister siek nie. Jy’t gaan gholf speel.”

“Dis ’n leuen!” protesteer Koos. “En ek het die vis om dit te bewys.”

  • San Marchand

GEVAAR OP DIE PAD

Ek het nou self uitgevind hoe gevaarlik dit is om te drink en bestuur. Ek het om die ­sirkel gery en my hand uitgesteek om te wys ek gaan links draai, toe steel die verkeersbeampte my bier.

  • Wollie, Pretoria

PLEK VAN WONDERWERKE

Op aanbeveling van sy dokter gaan woon Hans ná sy aftrede op ’n plattelandse dorp. Kort nadat hy ingetrek het, ontmoet hy sy buurman van in die 70.

“My dokter het gesê dié dorp is ’n gesonde plek om op te woon,” vertel Hans. “Is dit waar?”

“Beslis,” antwoord die buurman.

“Toe ek hier aankom, kon ek nie ’n enkele woord sê nie. Ek het skaars hare op my kop gehad. Ek het nie eens genoeg krag gehad om van hier tot daar te loop nie,” beduie hy na sy tuinhekkie.

“Dis ’n ongelooflike verandering,” sê Hans.

“Hoe lank woon jy al hier?”

“Van my geboorte af,” antwoord die buurman.

  • Lita Schoon

DIE BETEKENIS VAN . . .

Resessie: Wanneer jou buurman sy werk verloor.
Depressie: Wanneer jy jou werk verloor.
Ekonomiese herstel: Wanneer die minister van finansies sy werk verloor.

  • Leon Kruger

FLINKE VOETE

Kosie slaag matriek en neul by sy pa oor ’n motor.

Sy pa antwoord knorrig: “Waarvoor dink jy het jy twee voete gekry?”

Kosie antwoord dadelik: “Die een is om die petrol mee te trap en die ander een vir die rem.”

  • F.H. Horne, Hartenbos

JUFFROU SE BEURT

Ná die skoolvakansie gaan Kosie terug skool toe. Twee dae later bel sy onderwyseres en kla by sy ma hy het hom sleg gedra.

“Wag ’n bietjie,” sê die ma. “Ek het hom nou drie weke lank by my gehad en het jou nooit gebel toe hy stout was nie.”

  • Arend Kirkman

DUUR GESKENK

“Wat wil jy vir die herdenking van ons troudag hê, liefie?” vra die man sy vrou kort voor hul 30ste huweliksherdenking.

“Wat van ’n klerekas vol nuwe klere?”

“Nee, ek dink nie so nie,” antwoord sy vrou.

“Wat van ’n vakansie in Europa?”

“Nee, ek dink nie so nie. Jy sien, wat ek eintlik wil hê, is ’n egskeiding.”

“ ’n Egskeiding?” vra die man. “Jammer, liefie, ek was nie van plan om sóveel geld uit te gee nie.”

  • San Marchand

BANG MET ’N REDE

’n Pasiënt kom met ’n dolle vaart in ’n rolstoel by die hospitaalgang af. ’n Verpleegster keer hom voor en vra: “Wat is fout?”

“Ek het die teatersuster hoor sê: ‘Dit is ’n ­eenvoudige operasie; daarom hoef jy nie bang te wees nie. Ek is seker dit sal goed gaan,’” vertel hy.

“Sy wou jou seker maar net gerusstel,” paai die ­verpleegster hom.

“Maar sy het nie met my gepraat nie,” antwoord die ­pasiënt ontsteld. “Sy het met die dokter ­gepraat.”

  • Louise Noeth

HAAR BESTE VRIEND

“Weet jy, as ek ryk was, sou ek my vrou met ­diamante versmoor het,” sê Jan vir sy goeie vriend Piet.

“Nee, nooit!’’ roep dié uit. “Daar moet tog ’n goedkoper manier wees.”

  • Mariska Duvenage, Waterval-Boven

Kontak ons

Stuur gerus oorspronklike grappies; jy kry R50 vir elkeen wat ons gebruik.

Skryf aan Huisgenotjies, ­Posbus 1802, Kaapstad 8000 of grappies@huisgenoot.com en verstrek jou naam, adres, identiteitsnommer en bank­besonderhede (bank, taknaam, -kode en rekeningnommer).