LIEFLIKE DROOM

Die man droom die nag en rol driftig in die bed rond. Sy asem jaag. Hy roep deurentyd: “My Gina! My liewe Lollo. Lollotjie, my geliefde . . . ”

“Word wakker, Jan!” skree sy vrou en pomp hom in die ribbes.

“Ek is g’n Lollobrigida nie!”

“Nou hoekom moet ek dan wakker word?” vra hy vies.

  • Leon Kruger

BOTTELBABAS

Mans word nooit groot nie. Hulle verander net van bottels.

  • L. Saayman, Sabie

KITSKUUR

’n Moeë dokter kry aan die einde van ’n lang dag ’n oproep van ’n desperate ma: “My seuntjie het nou net ’n bottel hoofpynpille opgeëet. Wat moet ek nou doen?”

Die dokter antwoord: “Gee hom ’n hoofpyn, wat anders?”

  • Arend Kirkman, Alberton

KRAGTELOOS

Ek wil ’n grappie oor Eskom vertel, maar ek het nie die krag nie.

  • Hendri Schutte

AANNEEMKIND

Lewensvraag uit die dierkunde: Wat is die geskikte ouderdom om vir jou hond te vertel hy is aangeneem?

  • Denise, Pretoria

DIGTERLIKE DOKTER

Die lugwaardin besoek die dokter. Sy sê sy voel ellendig en dink dis haar niere wat pla.

Die dokter ondersoek haar en sê: “Dis nie die regternier nie. Dis ook nie die linkernier nie. Ek dink dis eerder ’n soewenier van die vlieënier.”

  • Denise, Pretoria

DIE HARE WAAI

’n Jong barbier open ’n nuwe winkel oorkant een waar ’n ou, ervare barbier al jare lank hare sny. Buite sy nuwe winkel adverteer die jong barbier: “Ons sny hare teen R20.”

In ’n japtrap plak die ou barbier ook ’n advertensie teen sy winkelvenster vas: “Ons maak hare reg wat teen R20 gesny is.”

  • F.H. Horne, Hartenbos

KEN JOU VRIENDE

Ware vriende gee nie om of jou huis skoon of vuil is nie; hulle gee net om of daar bier in jou yskas is.

  • Lettie

GOEIE KOPIE

Verkoopsman: “Mevrou, hierdie stofsuier is ’n wonderlike winskoop en sal jou werk met die helfte verminder.”

Klant: “O, wonderlik, gee my dan asseblief twee daarvan.”

  • Lita Schoon

TUIN VAN EDEN

Adam en Eva stap deur die paradys. “Is jy lief vir my?” vra Eva.

“Vir wie anders?” antwoord Adam.

  • Louise Noeth

SIMPATIEKE BLONDINE

Die blondine loop ’n ou tannie in die straat raak en vra hoe dit met haar gaan. “Nie goed nie,” antwoord die tannie.

“Ek het mos water, en nou het ek boonop suiker ook.”

“Ag, siestog,” sê die blondine. “Al wat tannie nou nodig het, is ’n teesakkie.”

  • Lettie

REGTE VREK

Wat is die toppunt van suinigheid? As jy ’n vlieg wat op jou kos sit agter die kop gryp en skree: “Spoeg uit! Spoeg uit!”

  • Elize, Nigel
Kontak ons

Stuur gerus oorspronklike grappies; jy kry R50 vir elkeen wat ons gebruik.

Skryf aan Huisgenotjies, ­Posbus 1802, Kaapstad 8000 of grappies@huisgenoot.com en verstrek jou naam, adres, identiteitsnommer en bank­besonderhede (bank, taknaam, -kode en rekeningnommer).