MOEG GEWERK

Twee kantoorwerkers is die dag min lus vir werk. Die vrou sê: “Ek kan die baas oortuig om my die dag af te gee.”

“En hoe nogal?” vra haar kollega.

“Wag net en kyk,” sê sy. Toe hy weer sien, hang sy onderstebo van die plafon af.

Die baas kom in en vra: “Wat doen jy?”

“Ek is ’n gloeilamp,” sê die vrou.

“Jy’t so hard gewerk dat die stres vir jou te veel geword het. Vat liefs die dag af,” sê die baas.

Toe die vrou haar handsak vat en uit die kantoor stap, volg haar kollega haar.
“En waarheen gaan jy?” vra die baas kwaai.

“Ek gaan ook huis toe,” sê hy. “Ek kan nie in die donker werk nie.”

— Johanna, Brakpan

VIR DIE KLEINSPAN

V: Watter soort dinosourus vlieg op ’n besem rond?

A: Tirannosourus-heks!

— L. Saayman, Sabie

DOL DEFINISIE

V: Wat is ’n geraamte?

A: ’n Ontkleedans wat te ver gegaan het.

— C.J. Lambrechts

STOUTE OUMA

Op Kosie se derde verjaardag gee sy ouma vir hom ’n waterpistool present. Maar Kosie se pa, Johan, is glad nie beïndruk nie.

“Ma leer ook nooit,” kla hy by sy ma. “Onthou ma dan nie hoe mal ek julle met my waterpistooltjie gemaak het toe ek so oud soos Kosie was nie?”

Toe glimlag die ouma en sê: “Ek onthou maar alte goed.”

— F.H. Horne, Hartenbos

OU BOK

Ouma het eindelik ’n manier gekry om te keer dat oupa agter ander vroue aan is – sy het die wiele van sy rolstoel afgeblaas.

— Lita Schoon

SPORTBESERING

’n Rugbyspeler in Nieu-Seeland gaan op ’n dag dokter toe en sê:

“Ek het pas rugby gespeel en nou kom ek agter dat dit regtig seer is wanneer ek aan my bene, arms, kop, maag en oral aan my lyf raak.”

Die dokter ondersoek hom en sê toe: “Jy het jou vinger gebreek.”

— Johanna, Brakpan

ASPIRANTSKRYWER

Vriend: “Ek hoor jou seun is deesdae nogal ’n skrywer.”

Pa: “Ja.”

Vriend: “Skryf hy vir geld?

Pa: “Ja, in amper elke e-pos.”

— M.J. Bartlett, Vrede

ALLES VERLORE

Boemelaar: “Ek het alles gehad: ’n duur huis in Waterkloof, ’n blink Mercedes, ’n wildplaas in die Bosveld, ’n pragtige minnares in Doebai, en toe kom my vrou daarvan te hore.”

— Kasoepie

JAWOORD VRA

Hy: Dink jy nie dis tyd dat ons trou nie?”

Sy: “Ag, wie sal nou met ons wil trou?”

— Hendri Schutte, Viljoenskroon

BESTE RAAD

Natuurlik praat ek met myself. Soms het ek ’n kenner se raad nodig.

— L. Saayman, Sabie

SO JAMMER

Wanneer ’n man verskoning vra, kies hy sy woorde baie versigtig.

Hy maak keel skoon en vra: ”Is jy al in ’n beter bui?”

— I. Mocke

Kom neem deel aan die gesprek
  • Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.
  • Stuur gerus oorspronklike grappies; jy kry R50 vir elkeen wat ons gebruik. Skryf aan Huisgenotjies, Posbus 1802, Kaapstad 8000 of grappies@huisgenoot.com en verstrek jou naam, adres, identiteitsnommer en bank­besonderhede (bank, taknaam, takkode en rekeningnommer).