G’N SPROKIE NIE

Hoe kan ons verwag dat ons kinders na ons moet luister wanneer ons hulle goeie waardes wil leer as . . .

  • Tarzan halfkaal aan boomtakke rondswaai,
  • Aspoestertjie eers ná middernag by die huis kom,
  • Pinocchio altyd lieg,
  • Aladdin die prins van diewe is,
  • Batman teen 320 km/h ry,
  • die Slapende Skoonheid te lui is om op te staan
  • en Sneeuwitjie saam met sewe mans woon?

Vera Wessels, Namibië

LAASTE LAG

Mense wat nie vir hulself kan lag nie, laat hierdie plig aan ander oor.

Vera Wessels, Namibië

BOBAASVERTELLER

Niemand vertel ’n beter storie as iemand wat wil geld leen nie.

Wollie, Pretoria

ONGELUKKIGE 13

Op ’n dag breek ’n brand in ’n baie hoë kantoorgebou uit. In ’n poging om almal veilig daar uit te kry storm Koos, die veiligheidsbeampte, in ’n kantoor in en skree vir die verskrikte personeellede: “Mense, spring by die venster uit! Julle gaan doodbrand.”

“Ons kan nie spring nie,” kom dit benoud van die groep werkers.

“Ons is op die 13de verdieping!”

“Dis nie nou die tyd om bygelowig te wees nie!” bulder Koos. “Ek sê spring!”

Anton van Rensburg, Bellville

NES ’N MAN

Seuntjie: “Hoekom het tannie nooit getrou nie?

Tante: “Ag, ek het ’n papegaai, ’n hond en ’n kat. En hulle drie is saam nes ’n man.”

Seuntjie: “Hoe bedoel tannie?”?
Tante: “Wel, die papegaai vloek, die hond knor vir my, en die kat loop snags rond.”

P.M., Johannesburg

EINA!

Skilder: “Ek sou my skilderye graag vir ’n goeie doel wou skenk.’’

Ander skilder: “Al aan ’n organisasie vir swaksiendes gedink?”

Denise, Pretoria

WILDE NAWEEK

Piet: “Wat gaan jy die naweek maak?”

Jan: “Foute, ou maat, foute.”

Wollie, Pretoria

ANDERSTE KASTEEL

Juffrou: “Wat is die verkleinwoord van ‘kasteel’?”

Jannie: “Castle Lite, juffrou.”

Denise, Pretoria

TWEEDE MENING

Van kindsbeen af het Frans al die vrees dat iemand onder sy bed wegkruip. Hy besluit om ’n psigiater te besoek en vertel hom van sy fobie: “Elke keer wanneer ek gaan slaap, is ek vreesbevange dat iemand onder my bed is.”

“Ek sal jou kan help om van jou vrees ontslae te raak,” sê die psigiater. “Kom sien my drie keer per week ’n jaar lank.”

“Wat sal dit my kos?”

“R900 rand per besoek,” sê die psigiater

“Dankie, ek sal daaroor gaan dink,” sê Frans.

Ná ses maande loop die twee mekaar op straat raak. “Hoekom het jy my toe nooit kom sien nie?” vra die psigiater.

“Nadat ek by jou weg is, het ek ’n dop gaan drink en my lot by die kroegman bekla. Ons het uitgewerk jou behandeling sal my ’n fortuin kos. Hy het toe aangebied om my gratis te help.”

“En hoe, as ek mag vra, het die kroegman jou genees?” vra die psigiater.

“Hy het vir my gesê om die bed se pote af te saag. Daar is nou geen manier dat iemand onder my bed kan wegkruip nie.”

Hester, Namibië

FLINK GEDINK

Dawie se vrou is woedend omdat hy haar verjaardag vergeet het.

Om sy eie bas te red, sê hy: “Maar liefie, hoe verwag jy moet ek jou verjaardag onthou as jy nooit ’n dag ouer lyk nie?”

San Marchand

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.