FIEMIES

Vrou aan man: “Jy is so onvoorspelbaar. Maandag was jy gek oor vis. Dinsdag ook en selfs nog Woensdag, maar nou wil jy dit skielik nie meer eet nie.

  • Charles Venter, Mosselbaai

BLONDE HULP

’n Blondine se Volksie gaan op die hoofweg staan. ’n Tweede blondine, ook met ’n Volksie, hou langs haar stil. “Wat is fout?” vra sy.

Die eerste blondine antwoord: “Dit lyk asof my enjin gesteel is.”

Die tweede blondine antwoord: “Toemaar, ek het ’n ekstra enjin agterin my Volksie se kattebak.”

  • L. Saayman, Sabie

NES PA

Sannie: “Ma, ek het ’n man gekry wat nes pa is.”

Ma: “Nou wat soek jy van my? Simpatie?

  • F. H. Horne, Hartenbos

KLIKBEK

Verkoopsman: “Daardie klerk moet onmiddellik afgedank word. Hy het pas vir een van ons klante gesê ek is onnosel.”

Bestuurder: “Ek stem saam. Wie gee hom die reg om ons firma se geheime aan die publiek uit te blaker?”

  • Leon Kruger

MODEGIER

Een oggend toe haar kinders op pad skool toe is, sien ’n ma die etiket van haar tienerseun se hemp steek by sy nek uit.

Toe sy hom daarop wys, vertel hy: “Dis ’n nuwe mode, ma. Ek en al my vriende dra dit nou so.”

Die ma skud haar kop oor dié onsinnige modegier. Sy kan maar net nie daaraan gewoond raak nie.

“Elke keer wanneer ek die etiket sien uitsteek, wil ek dit vir jou terugvou,” sê sy ’n paar dae later vir haar seun en voeg ook sommer die daad by die woord.

“Ja,” glimlag hy tevrede, “dis wat al die meisies ook sê.”

  • Louise Noeth

VALS BESKULDIG

Die landdros vra: “Ontken jy jy het die spoedgrens oorskry?”

“Ja, Edelagbare.”

“Kan jy dit bewys?”

“Ja. Ek was op pad na die lughawe om my skoonma te gaan haal.”

  • Lita Schoon

SPRING-SPRING SO

Vraag: Watter soort dans voer ’n mens op ’n trampolien uit?

Antwoord: Hip-hop.

  • L. Saayman, Sabie

BUURTWAG

Piet: “Vertel jy altyd jou vrou alles wat jy gedoen het terwyl sy weg was met vakansie?”

Koos: “Nee, die bure spring my voor.”

  • Leon Kruger

AANGENAME KENNIS

’n Suid-Afrikaner ontmoet ’n Hollander en sê ewe vriendelik: “Ek’s Piet van Zyl.”

Die Hollander sê verlig: “Dank de hemel. Ik ben van vlees.”

  • Lita Schoon

HIERNAMAALS

Toe Marie se man sterf, is sy bekommerd of hy hemel toe is, want hy het ook maar sy swakhede gehad.

Ná ’n ruk gaan sy na ’n spiritualis en vra dié om oorlede Fred se gees op te roep. Toe hoor sy ’n stem: “Hallo, Marie. Dis Fred.”

“Fred, ag, dankie tog,” sê sy verlig.

“Is jy gelukkig waar jy nou is?”

“Ja, Marie, dis pragtig hier. Mooier as wat ek ooit kon droom. Die lug is skoon en vars, die uitspansel blou, die weiding welig en groen, en al wat ek die hele dag doen, is eet en slaap en eet en slaap.”

“Ai, Fred, ek is so bly jy’s in die hemel!” roep sy uit.

“Hemel? Wie’t iets van die hemel gesê? Ek’s ’n buffel in Limpopo.”

  • Louise Noeth

VOLLE WAARHEID

Koos vertel: “Die meisies sê net ek is lelik tot hulle uitvind hoeveel geld ek het. Dan sê hulle ek is lelik én arm.

  • Meaties, Moorreesburg

WYS JOU SLAG

Jan gaan vir ’n werkonderhoud. Die bestuurder gee hom sy skootrekenaar en sê: “Ek wil hê jy moet hierdie rekenaar aan my probeer verkoop.”

Jan gryp die rekenaar, druk dit onder sy arm, loop uit die kantoor en gaan huis toe. Hy het skaars by die huis aangekom toe sy selfoon lui.

“Bring dadelik my skootrekenaar terug,” beveel die bestuurder.

“R4 000 en dis joune,” antwoord Jan.

  • Hester, Namibië

SELLE OU DING

’n Man se huis brand af en die versekeraars bied aan om vir hom ’n identiese huis te bou. Maar hy is glad nie met dié voorstel tevrede nie.

“As dit is hoe julle sake doen,” raas hy, “dan kanselleer ek dadelik die versekering op my vrou.’’

  • Jorinda Miles

VIR DIE KLEINSPAN

Vraag: Hoekom het die Jelly tot skool toe gegaan? Antwoord: Want hy wou ’n Smartie word.

  • Wollie, Pretoria

STELER EN DELER

Die huiseienaar betrap ’n inbreker op heterdaad in sy eetkamer. “Sit dadelik al daardie goed op die tafel neer!” beveel hy hom.

“Nee, dit sal darem nie billik wees nie,” stry die inbreker.

“Die helfte hiervan is die bure s’n.”

  • Leon Kruger

KLAAR GEKUIER

’n Man gaan die aand saam met sy pêlle kuier. Hoe later dit word, hoe kwater word sy vrou.

Teen eenuur die oggend klop hy eindelik aan die deur, wat sy op die knip gesit het, en vra sy moet asseblief oopmaak.

“Gaan terug na waar jy vandaan gekom het. Jy sit nie jou voete in hierdie huis nie!” skree sy woedend.

“Nee, liefie, ek wil nie kom slaap nie; ek kom haal net my kredietkaart om verder te gaan kuier,” laat die man hoor.

Toe pluk sy die deur oop: “Dit sal die dag wees. Jy kom nóú by hierdie huis in en loop klim in die bed!’

  • A. Barnard

NUTTIGE KRUISING

Vraag: Wat kry jy as jy ’n windhond met ’n muishond kruis?

Antwoord: ’n Dier wat teen ’n stink spoed hardloop.

  • Wollie, Pretoria

LIEWER LAAT AS NOOIT

Ervaring is iets wat jy eers opdoen nadat jy dit nodig gehad het.

  • Wollie, Pretoria

NOODOPROEP

“Dorset-hotel, ontvangs hier.”

“Julle moet onmiddellik iemand na my kamer stuur. Ek en my vrou is aan die stry en sy sê sy gaan by die venster uitspring.”

“Ek is jammer, meneer, maar dis ’n persoonlike saak.”

“Luister hier, jou idioot, die venster wil nie oopmaak nie en dis ’n instandhoudingsaak.”

  • Lita Schoon

BEDWELMD

Man aan sy meisie: “Jy’s my dwelm.”

Sy: “Beteken dit jy kan nie sonder my lewe nie?”

Hy: “Nee, dit beteken jy kos te veel en verwoes my lewe.”

  • Adri Kalp, Stilfontein

DUUR KUUR

Dokter aan pasiënt: "Het jy al voorheen ’n operasie ondergaan?"

Pasiënt: "Ja."

Dokter: "Waarvoor?"

Pasiënt: "Vir R7 600."

  • Wollie, Pretoria

AFFIE PLAAS

Vraag: Wat is die verskil tussen ’n plaasyuppie en ’n plaasjapie?

Antwoord: ’n Plaasyuppie kry sy inspirasie by die Boer van die Jaar-kompetisie, maar ’n plaasjapie kry sy inspirasie by die bankbestuurder.

  • Denise, Pretoria

NARE WAARHEID

Die regter vra die getuie: “Verstaan jy jy het onder eed gesweer om die waarheid te vertel?”

“Ja, Edelagbare.”

“En verstaan jy wat sal gebeur as jy nie die waarheid vertel nie?”

“Ja. Ons kant sal dan wen.”

  • Louise Noeth

G’N VRAAT

Die blondine bestel ’n wegneempizza. “In hoeveel stukke moet ek jou pizza sny? Soek jy vier of agt stukke?’’ vra die kelner.

“Vier!’’ antwoord sy.

“Ek sal mos nooit agt stukke kan opeet nie!’’

  • Hester, Namibië

LANGSLEWENDE

Koos en sy vrou lê in die bed en gesels oor hul 30 jaar saam. Sy vrou vra of Koos weer ná haar dood sal trou.

“Ja,” sê hy. “Dit sal te swaar wees om so alleen te bly.”

Sy vra toe of hy vir die nuwe vrou ’n ander huis sal koop.

“Nee,” sê hy. “Hierdie huis is goed genoeg.”

Sy vra of hy vir die nuwe vrou ’n ander motor sal koop.

“Nee,” sê hy. “Die motor wat ek nou het, is goed genoeg.”

Sy vra of hy vir die nuwe vrou ’n stel nuwe gholfstokke sal koop.

“Ja,” sê hy, “want sy is links.”

  • Leon Kruger

DROOMREIS

Freek kry ’n e-pos van sy beste vriend.

Dit lees: “Ek het wonderlike nuus! Ek het ’n bootreis vir twee vir sewe nagte na ’n eksotiese eiland gewen met alle etes en drankies ingesluit. Aangesien jy nog altyd my beste vriend was, het ek gewonder: Sal jy my hond oppas?”

  • Lita Schoon

FLINK DINK

Iemand klop aan my deur. Toe ek oopmaak, staan ’n jong seun op my drumpel. Hy sê daar is iets van hom in ons motorhuis en vra of hy dit kan terugkry.

Ons stap saam na die motorhuis. Toe ek die deur oopmaak, sien ek dadelik die krieketbal en die ronde gat in die venster.

“Hoe dink jy het die bal hier beland?’’ vra ek hom.

Hy kyk na die bal en toe na my en roep uit: “Sjoe, ek het die bal sowaar deur die gat gegooi!’’

  • Wollie, Pretoria

BETER AS EEN

’n Bedelaar staan elke oggend op presies dieselfde straathoek en bedel. Toe ’n man om die hoek stap, steek hy sy hand uit en vra ’n geldjie. Die man krap in sy sak rond, haal ’n paar muntstukke uit en sit dit in sy hand.

’n Paar weke later stap die man weer verby en sien dieselfde bedelaar daar staan. Dié keer hou hy albei hande bak vir ’n bydrae.

“Waarom bedel jy dan nou met twee hande?’’ vra hy die bedelaar.

Dié glimlag en sê: “Dit gaan so goed met my besigheid ek wil ’n tweede tak open.”

  • Arend Kirkman

VRA IS VRY

Werkgewer: “ ’n Verhoging nogal? Waarom wil jy ’n verhoging hê? Gee my twee goeie redes voor ek dit enigsins sal oorweeg.”

Werknemer: “ ’n Tweeling, meneer.”

  • Leon Kruger

DAPPER DIEF

Die landdros kyk die diefstalbeskuldigde streng aan en sê: “Jy erken dus jy het op drie agtereenvolgende nagte suksesvol by die klerewinkel ingebreek?”

“Ja, Edelagbare,’’ antwoord die beskuldigde.

“Hoekom het jy dit gedoen?’’

“Want my vrou het ’n rok nodig gehad.’’

“Maar dit verduidelik glad nie waarom jy drie keer by die winkel moes gaan inbreek nie,’’ sê die landdros.

“My vrou was nie tevrede met die rok nie,’’ verduidelik die dief, “en het my dit twee keer laat omruil.”

  • Arend Kirkman

TROUTRANE

Elna staan op trou en vra of sy haar ma se trourok mag leen om op die groot dag te dra. Toe sy die rok die eerste keer aanpas, wag haar ouers in die sitkamer tot sy haar verskyning daarin maak.

Die rok pas perfek, en toe Elna binnestap, skiet haar ma se oë vol trane.

Haar pa sit sy arm om sy vrou se skouers en sê: “Onthou, jy verloor nie ’n dogter nie; jy kry ’n seun by.”

“Ag, dis nie dit nie,’’ snik die ma.

“Om te dink ek het eens op ’n tyd in daardie rok gepas!”

  • Louise Noeth

GROOT SUKSES

Koos se vliegtuig word in ’n oorlog afgeskiet en hy word deur die vyand gevange geneem.

Ná ’n jaar as krygsgevangene ontsnap hy en slaag hy daarin om na sy eenheid terug te keer. Een van die eerste dinge wat hy doen, is om die valskermeenheid te gaan opsoek.

“Korporaal,’’ sê hy, “ ’n jaar gelede is ek afgeskiet en moes ek noodgedwonge gebruik maak van een van die valskerms wat jou manne vir ons ingepak het. Ek wil jou net komplimenteer dat dit in ’n perfekte werkende toestand was. Ek het die grootste waardering vir die werk wat julle hier doen.”

Die korporaal is in sy skik en antwoord: ‘’Jy weet, luitenant, ons vaar inderdaad baie goed, want ons het nog nooit enige klagtes gekry nie.’’

  • Denise, Pretoria

MOSSIEPOS

Die twee mossies groet mekaar voor elkeen in sy eie rigting vlieg.

“Ek SMS jou later,” sê die een, waarop die ander een antwoord:  “Ag, ek twiet jou sommer.”

  • Lita Schoon
Kontak ons

Stuur gerus oorspronklike grappies; jy kry R50 vir elkeen wat ons gebruik.

Skryf aan Huisgenotjies, ­Posbus 1802, Kaapstad 8000 of grappies@huisgenoot.com en verstrek jou naam, adres, identiteitsnommer en bank­besonderhede (bank, taknaam, -kode en rekeningnommer).