SKELMSTREEK

Hy is so skelm, hy bid onder ’n skuilnaam.

-Vossie, Pretoria

VRY VERTAAL

Juffrou: “Pietie, vertaal vir my in Engels: ‘Ek mors met papier.’ ”

Pietie: “I write exams.”

-C. Mertz, Potchefstroom

GOEIE OEFENING

As jy twee minute lank lag, is dit blykbaar net so goed soos om twee minute lank te draf. Nou sit ek maar en lag vir almal wat draf.

-L. Saayman, Sabie

STRIKVRAAG

Koos doen aansoek om ’n werk en die onderhoudvoerder vra: “Waar sien jy jouself oor vyf jaar?”

“Op dieselfde plek waar ek myself vanoggend gesien het,” antwoord Koos.

“In die spieël.”

-F.H. Horne, Hartenbos

MENSLIEWEND

Elke dag gee ek voor ek hou van mense. Hulle noem dit volwassenheid, en dit is die rede hoekom volwassenes alkohol mag koop.

-Leon Kruger

EERSTE AFSPRAAK

’n Oujongkêrel besluit dis tyd dat hy by ’n vrou gaan kuier en daag toe by ’n oujongnooi op. Hulle sit ’n ruk in stilte langs mekaar op die bank, albei ewe onseker en senuagtig.

Later spring hy op en sy volg sy voorbeeld.

Hy weet steeds nie wat om te doen nie en begin uit radeloosheid om die tafel hardloop. Sy draf toe maar agterna.

Ná ’n ruk gaan hy uitgeput staan en sê hygend: “Sjoe, maar so ’n vryery maak ’n mens moeg.”

-Helena, Kempton Park

NUWE KWAAL

’n Nuwe opname toon dat 46% van alle dokters van Google gebruik maak om siektes by hul pasiënte te diagnoseer.

Ek kan dit goed glo.

Toe ek laas by die dokter was, het hy gesê: “Ek is jammer om dit vir jou te sê, maar jy ly aan SNR – Server not responding.” 

-Wollie, Pretoria

BLINDE LIEFDE

“Dis waar wat hulle sê; die liefde is blind,” kla ’n man teenoor sy vriend.

“Ja,” sug sy vriend, “maar trou is ’n baie goeie bril.”

-J.L., Montana

OU KLAGTE

Eva was die enigste vrou wat ooit die volle waarheid gepraat het toe sy sê: “Ek het niks om aan te trek nie.”

-M.J. Bartlett, Vrede

ÁL ERGER

“My oë raak deesdae ál swakker,” kla Jan by sy vriend Gert.

“Ek moet al ’n vergrootglas gebruik om te sien wat ek lees.”

“Dis nog niks,” sê Gert.

“My oë is deesdae so sleg, ek moet olifante pleks van skape tel om aan die slaap te raak.”

-Igmanuel Bence

IDEALE MAN

Goeie raad aan al die vroue wat enkellopend is: Soek vir jou ’n man wat ’n boorgat en ’n kragopwekker het. Jy kan later aan die liefde werk.

-L. Saayman, Sabie

ALTE VRIENDELIK

Gert kan nie verstaan hoekom sy skoonma hom so haat nie. Hy is altyd vriendelik en gasvry teenoor haar.

Elke keer wanneer sy kom kuier, nooi hy haar vriendelik: “Trek gerus twee stoele nader en kom sit.”

-Louise Noeth

FAMILIEKRISIS

’n Ou omie in die Kaap bel sy seun in Gauteng en sê: “Ek haat dit om jou dag te bederf, maar ek moet dié nuus met jou deel: Ná 40 jaar se getroude lewe het ek en jou ma besluit om te skei.”

“Pa! Waarvan praat jy?” vra die seun geskok.

“Ja,” sê die pa.

“Ons het niks meer om vir mekaar te sê nie en ons kan mekaar net nie meer langer verdra nie. Ek is al so moeg om hieroor te praat – sal jy asseblief jou suster bel en haar vertel?”

Die ontstelde seun haas hom om die slegte nuus aan sy suster oor te dra.

Toe sy daarvan hoor, ontplof sy. “Dit sal die dag wees!” skree sy.

”Laat dit in my hande!”

Sy bel haar pa in die Kaap en skree: “Julle gaan nie skei nie! Moet niks doen voor ek daar aankom nie. Ek gaan vir Boet bel en ons sal albei volgende naweek daar wees. Moet asseblief niks voor die tyd doen nie! Hoor pa my?’’

“Nou goed dan,’’ sê die ou man.

Toe sit hy die foon neer, draai na sy vrou toe en sê: “Opgelos! Hulle kom vir die Paasnaweek huis toe en hulle betaal hul eie brandstofgeld!”

-Hester, Namibië

SLAKKEPAS

Twee slakke sit onder ’n appelboom.

“Kom ons eet daai appel,” sê die een slak.

“Moenie laf wees nie. Hy’s nog groen,” sê die ander. “Hy sal ryp wees teen die tyd dat ons daar kom.”

-L. Saayman, Sabie

VOLSTRUISPOLITIEK

’n Politikus stap in die straat af met ’n volstruis wat hy aan ’n tou lei.

’n Verbyganger vra: “En waar gaan jy met daardie bobbejaan heen?”

“Dis nie ’n bobbejaan nie,” sê die politikus.

“Ek het nie met jou gepraat nie,” antwoord die man.

-Leon Kruger

NET ’N GEDAGTE

Man: “Waaraan sit jy en dink, my skat?” Vrou: ‘’Niks besonders nie.” 

Man: “Ek het gehoop jy sou nogtans sê jy dink aan my.”

Vrou: “Dis mos wat ek gesê het.”

-Denise, Pretoria

VREEMDE GESPREK

’n Jong man gaan ’n draai loop by ’n openbare toilet.

Daar is net twee hokkies, waarvan een reeds beset is.

Hy gaan by die oop een in. Toe hoor hy ’n stem uit die hokkie langsaan: “Hallo, my vriend, hoe gaan dit met jou?”

Dit klink vir hom snaaks, maar hy is baie beleef en antwoord: “Dit gaan goed, man.”

Ná ’n kort rukkie hoor hy die stem weer: “Wat is jy van plan om nou te doen?”

Hy is verbaas oor die vreemde vraag, maar antwoord tog: “Ek loop ’n draai by die toilet. En jy?”

Verbaas hoor hy die stem ’n derde keer: “Ek is jammer, my vriend, maar ek sal jou moet terugbel. Hier’s ’n sot langsaan wat ’n antwoord het op als wat ek sê!”

-Grapjas

VISWATERS

Hans en Maans sit af rivier toe om vis te vang. Daar aangekom, sê Maans hy moet net eers ’n draai loop.

Gretig om sy eerste vis te vang kom hy ’n rukkie later terug en vra Hans: “Het jy al ingegooi?”

“Nee,” sê Hans. “Ek soek nog die glase.”

-San Marchand

WAT ’N SKOK!

Die president het gesê hy was geskok oor beurtkrag. Maar om geskok te word, het jy elektrisiteit nodig.

-Wollie, Pretoria

RAAISEL

As geld nie aan bome groei nie, hoekom het die bank dan takke? 

-Lané Schoombie

OUERS VRA

Kwaai pa: “O, jy wil met my dogter trou en jy verdien nie eens ’n behoorlike salaris nie! Het jy nie beter vooruitsigte nie?”

Vryer: “Ja, oom, maar nie een van hulle is bereid om met my te trou nie.”

-Helena, Kemptonpark

GROTER FLATER

Die paviljoen sit volgepak vir ’n groot rugbywedstryd. Een ou het baie oor die spelers te sê. Toe die teenstanders ’n drie druk, skree hy vir een van sy eie manne: “Onnosel!”

Die speler kyk vir hom en sê: “Nie so onnosel soos jy wat betaal het om dit te sien nie!”

-Leon Kruger

Stuur gerus oorspronklike grappies
  • Jy kry R50 vir elkeen wat ons gebruik.
  • Skryf aan Huisgenotjies: Posbus 1802, Kaapstad 8000 of grappies@huisgenoot.com en verstrek jou naam, adres, identiteitsnommer en bank­besonderhede (bank, taknaam, takkode en rekeningnommer).
Kom neem deel aan die gesprek