SONDEBELASTING

’n Dag nadat die begrotingsrede gelewer is, kom vertel Jannie by die skool: “My pa was gister­aand baie ontsteld toe hy hoor die be­lasting op sigarette, whiskey en bier gaan so kwaai styg. En my ma was ook buite haarself.”

“Nou hoekom was sy so ontsteld, Jannie?” vra die onderwyser.

Toe verduidelik die knaap: “My ma sê soos dinge nou gaan, sal sy nie eens meer sjokolade en sjampanje kan bekostig teen die tyd dat my pa homself in die graf ingedrink het nie.”

– Linda, Johannesburg

SLAGGEREED

Inbeller: “Is dit die verkiesingskantoor?”

Beampte: “Ja, meneer.”

Inbeller: “Hoe gereed is julle vir die verkiesing oor twee maande?”'

Beampte: “Als is gereed. Selfs die uitslae.”

– Wollie, Pretoria

DILEMMA

Die lewe is maar onregverdig. As jy jou inkomstebelastingvorm korrek invul, word jy ’n kerkmuis.

Maar doen jy dit nie, word jy ’n tronkvoël.

– Leon Kruger

LAASTE SIEN . . .

As jy van iemand ontslae wil raak, leen vir hom geld.

– Wollie, Pretoria

NUWE ADRES

Peet open ’n nuwe tak van sy onderneming en sy vriende stuur vir hom blomme.

Maar pleks van ’n gelukwensing staan daar op die kaartjie by die ruiker: “Rus in vrede.” 

Peet bel die bloemis om te kla dat hy die verkeerde ruiker ontvang het. 

Sy vra verskoning en sê toe: “Iewers is daar vandag ’n begrafnis en ’n ruiker met ’n kaartjie wat sê: ‘Geluk met jou nuwe perseel!’ ”

– Louise Noeth

DOOPDAG

’n Jong egpaar besoek die predikant om reëlings vir hul eersteling se doop te tref.

Nadat hulle die baba se name vir die dominee gegee het, vra hy ewe ernstig: “Wie is jul getuies?”

Die man bloos en kyk vir sy vrou, wat nog erger bloos.

Verleë antwoord hy toe: “Niemand, dominee. Ons was alleen.”

– San Marchand 

STRIKVRAAG

Valskerminstrukteur: ‘’Begin vir jou landing voorberei sodra jy op 100 m is.’’  

Blondine: ’Hoe sal ek weet as ek 100 m bo die grond is?”

 Instrukteur: ’Dis ’n goeie vraag. Op 100 m kan jy al die gesigte van die mense op die grond herken.’’

Blondine: “Maar sê nou daar’s niemand op die grond wat ek ken nie?’’ 

– Denise, Pretoria

ANDERS BESKOU

Vir die optimis is die glas halfvol.

Vir die pessimis is die glas halfleeg.

En vir die ingenieur is die glas twee keer so groot as wat nodig is.

– Louise Noeth

GEEN STER

Johan kuier een aand by Leonie.

Terwyl hulle na die naghemel kyk, probeer hy ’n romantiese atmosfeer skep.

“Ek wens ek was ’n ster,” sug hy.

“Wens eerder jy was ’n komeet,” sê Leonie.

“Nou hoekom dan?” vra Johan.

“Want dan sou jy nie elke aand jou verskyning gemaak het nie.”

– Helena, Kempton Park

EIE GIF

Twee luislange seil deur die bos toe die een die ander vra: “Sê my, is ons giftig?”

“Nee, hoekom vra jy?” wil die ander een weet.

“Dankie tog! Ek het nou net my lip raak gebyt.”

– San Marchand

NOG ’N DOP

’n Dronk motorbestuurder word in hegtenis geneem en verskyn in die hof. 

“Meneer, jy is hierheen gebring oor jou drinkery,” sê die landdros streng. 

“Oukei,” sê die dronk ou. “Laat ons dan begin!”

– Arend Kirkman, Alberton

KWAAK-KWAAK

’n Bejaarde omie stap deur ’n park toe hy ’n stemmetjie hoor: “Hallo, hallo!” Hy kyk rond, maar sien geen ander mens nie.

Toe hoor hy: “Hier’s ek! Onder op die grond.”

Hy kyk af en sien ’n padda by sy voete wat sowaar met hom praat.

Hy tel die pratende padda op en dié sê: “As jy my soen, sal ek in ’n prinses verander en ’n hele week joune wees.” 

Die ou man kyk die padda so en steek dit toe in sy sak. 

Die padda skree: “As jy my soen, sal ek in ’n mooi prinses verander en jou ’n hele maand gelukkig maak!”

Toe sê die ou man: “Op my ouderdom verkies ek ’n pratende padda.”

– Arend Kirkman, Alberton

STANK VIR DANK

“Jy’s ’n absolute skelm!” skree die woedende kliënt vir sy advokaat nadat dié sy hofsaak verloor en boonop vir hom ’n vet rekening gestuur het.

“Jy het my onder ’n wanindruk gehou oor my kans om te wen en nou kos dit my ’n fortuin!”

Die advokaat sit ewe rustig na die tirade en luister. 

Toe die kliënt asemskep, sê die advokaat: “Dis nou die soort dank wat ek kry nadat ek my vir jou afgesloof het. En om te dink ek het boonop my nuwe seiljag na jou genoem . . .”

– Leon Kruger

LAASTE KANS

Die derde keer in ’n kort tydjie kla ’n vrou bitterlik oor hul huisdokter by haar man. “Laat ons asseblief tog van dokter verander,” smeek sy.

“Hy is al so oud en hardhorend. Hy hoort eintlik in ’n ouetehuis.”

“Wat het hy tog nou weer verkeerd gedoen?” vra haar man.

“Hy het die verkeerde pille vir my voorgeskryf. Dit is nou al die derde keer dat hy my byna vermoor.’’

“Ag, my skat,” sê die man, “gee hom nog net een kans.”

– Denise, Pretoria 

BLONDEKOP

’n Onderwyseres stap tussen die matriek­meisies deur om te kyk of hulle die skoolreëls oor naels en die lengte van hul rokke gehoor­saam. 

Sy is in haar noppies toe sy sien die blonde Santie se rok en naels is perfek. 

“Sjoe, ek hoop jou punte lyk net so mooi,” sê die juffrou.

Toe gooi Santie haar lang, blonde bokstert oor haar skouer en antwoord: “Ja, juffrou, ek laat hulle gereeld knip.”

– L.W. 

UIT VOORRAAD

Die winkelbestuurder hoor toe ’n klerk vir ’n klant sê: “Nee, mevrou, ons het verlede maand niks gekry nie en dit lyk ook nie asof dit binnekort sal gebeur nie.”

Die winkelbestuurder haas hom na die vrou.

 Sy is al amper by die deur toe hy haar inhaal en sê: “Mevrou, moenie bekommerd wees nie. Natuurlik sal ons dit binnekort kry. Ek het al twee weke gelede ’n bestelling daarvoor geplaas.”

Daarna roep die bestuurder die klerk eenkant toe en berispe hom: “Nooit, maar nooit sê ons vir ’n klant dat ons nie iets het nie. As ons dit nie het nie, sê dan ons het dit bestel en dat ons dit binnekort sal ontvang.

”Toe vra hy: “Sê my, wat was dit wat sy wou gehad net?” 

“Reën,” antwoord die klerk.

– Louise Noeth

GROEN DOMINEE

Die nuwe, jong dominee het ’n passie vir diereregte. 

Toe hy een Sondag ’n vrou met ’n pelsjas in die kerk gewaar, vra hy haar: “Watter arme skepsel moes eers sterf voor jy daardie jas kon dra?”

Verbaas antwoord sy: “My tante.”

– San Marchand

SPOGMODEL

Wanneer mense my vra hoekom ek nie tatoes het nie, vra ek hulle: “Sal jy ’n bufferplakker op ’n Ferrari sit?”

– Denise, Pretoria

MOORDVERDAGTE

’n Sersant lui die deurklokkie en die klavierspel in die huis hou op. ’n Vrou maak die deur oop. 

“Kan ek help?” vra sy.

“Wel, mevrou, ons het ’n klag ontvang dat ’n man hier vermoor word,” verduidelik die konstabel.

“Sy naam is glo Beethoven.”

– Helena, Kempton Park

UITGEVANG

Toe die man by die huis kom, kla sy vrou: “Jou ma het my beledig.”

“My ma?” vra hy verbaas. “Sy is dan met vakansie aan die ander kant van die aardbol. Hoe kan sy jou beledig?”

“Vanoggend het hier ’n brief aangekom wat aan jou geadresseer is,” verduidelik sy.

“Ek het dit oopgemaak, want ek was nuuskierig.”

“En toe?” vra haar man.

“Daar was ’n naskrif onderaan die brief wat lui: ‘Rina, wanneer jy die brief klaar gelees het, moenie vergeet om dit vir my seun te gee nie.’ ”

– Louise Noeth

BRUCE SE BOET

Het jy geweet Bruce Lee het ’n minder bekende broer?

 Hy werk in ’n hawermoutfabriek.

Sy naam?

Mues Lee.

– Christa Rossouw, Bloemfontein

TWEEGEVEG

’n Onderwyser pluk twee seuns wat in die skoolgang baklei uitmekaar en neem hulle na die hoof se kantoor.

“Wie het die bakleiery begin?” vra die hoof.

“Ek dink dit was ses van die een en ’n half­dosyn van die ander,” antwoord die onderwyser.

“Is nie!” protesteer een van die seuns.

“Dit was net ons twee!” 

– Lita Schoon

DIGBEWAARDE GEHEIM

Ek kan regtig ’n geheim hou. Dis die mense aan wie ek dit oorvertel wat hul mond verbypraat.

– Wollie, Pretoria

  • Jy kry R50 vir elkeen wat ons gebruik.
  • Skryf aan Lag 'n Slag, Posbus 1802, Kaapstad 8000 of grappies@huisgenoot.com en verstrek jou naam, adres, identiteitsnommer en bankbesonderhede (bank, taknaam, takkode en rekeningnommer).