PROBLEME VERWISSEL . . .

Dis jammer mense kan nie hul probleme uitruil nie. Elkeen weet mos presies hoe hy die ander een s’n kan oplos.

  • Denise, Pretoria

TAALLES

Koos se seun sukkel met sy huiswerk. “Pa,” vra hy, “wat is die verskil tussen ‘kwaad’ en ‘woedend’?”

“Kom ek wys jou,” antwoord Koos. Hy tel die telefoon se gehoorbuis op en druk ’n paar nommers.

“Hallo,” antwoord ’n stem aan die ander kant.

“Hallo,” sê Koos, “is Johannes daar?”

“Nee,” antwoord die stem. “Ek stel voor u gaan u nommer na.”

“Sien jy,” sê Koos vir sy seun, “daardie man is glad nie in sy noppies met my nie. Kyk wat nou gaan gebeur.”

Koos bel weer dieselfde nommer. “Hallo, is Johannes daar?”

“Luister hier,” antwoord die man vies, “ek het mos vir jou gesê hier is nie ’n Johannes nie. Hoe durf jy weer die nommer bel?”

“Dit was ‘kwaad’, sê Koos vir sy seun. Nou gaan ek jou wys hoe ‘woedend’ lyk.”

Hy bel weer die nommer.

Toe die man antwoord, sê Koos: “Hallo, dis Johannes hier. Was daar enige oproepe vir my?”

  • Hester, Namibië

OPPERSTE SKELM

Regter: “Is die beskuldigde al lank aan die polisie bekend?”

Konstabel: “Edelagbare, hy sal selfs die tuig van die nagmerrie se rug steel.”

  • Leon Kruger

GELDPRAATJIES

’n 50c-muntstuk en ’n R200-noot beland saam in ’n beursie en raak aan die gesels.

50c: “Haai, ou tjommie, wat het van jou geword? Ek het jou lank laas gesien.”

R200: “Ag jong, ek was maar besig soos altyd. Ek was ’n bietjie na Botswana, by ’n paar rugbywedstryde, en verlede week was ek by ’n skou in Durban. Môre sal ek seker na die winkelsentrum en dalk Teazers gaan. Jy weet, daai soort ding. Maar hoe’s dinge met jou? Wat maak jy alles?”

50c: “Ag, boeta, jy weet mos. Dis altyd dieselfde . . . net kerk, kerk, kerk!”

  • Lita Schoon

WONDERKUUR

’n Vrou kla by haar buurvrou omdat haar man gereeld eers laatnag huis toe kom nadat hy heelaand in die dorp se kroeg gekuier het.

“Maak soos ek gemaak het,” gee die buurvrou raad. “Eenkeer toe my man die soveelste keer eers drieuur die oggend by die huis kom, roep ek uit: ‘Piet, is dit jy?’ Dit het hom van sy laatkommery genees.”

“Hom daarvan genees?” vra die vrou verbaas. “Maar hoe?”

“My man se naam is Gert,” sê die buurvrou.

  • A. Barnard

STRIKVRAAG

’n Onderwyser, ’n vullisverwyderaar en ’n prokureur kom by die hemelpoorte aan. Petrus sê elkeen moet eers ’n vraag korrek beantwoord voor hy die hemel mag binnegaan.

Vir die onderwyser vra Petrus: “Wat is die naam van die skip wat tydens haar nooiensvaart in 1912 ’n ysberg getref het?”

“Die Titanic,” antwoord die onderwyser dadelik.

“Gaan binne,” sê Petrus.

Hy draai na die vullisverwyderaar, wat nie baie lekker ruik nie, en maak die vraag ’n bietjie moeiliker.

“Hoeveel mense is in daardie ramp dood?” vra Petrus.

“1 517,” antwoord die man. “Dis reg; jy mag ingaan,” sê Petrus.

Toe draai Petrus na die prokureur en vra: “Wat was hul name?”

  • Louise Noeth
Kontak ons

Stuur gerus oorspronklike grappies; jy kry R50 vir elkeen wat ons gebruik.

Skryf aan Huisgenotjies, ­Posbus 1802, Kaapstad 8000 of grappies@huisgenoot.com en verstrek jou naam, adres, identiteitsnommer en bank­besonderhede (bank, taknaam, -kode en rekeningnommer).